Sy het daarna uitgesien om ná haar tweeling se geboorte elkeen te vertroetel en aan die slaap te sing terwyl sy hulle saam borsvoed - een in elke arm. Maar vir 'n Oos-Kaapse ma, Ntombikayise Tyhalisi, het dit na 'n onmoontlike droom gelyk toe Siphosethu en Amahle by geboorte aan die skedel geheg was en sekere bloedvate gedeel het. Die mediese toestand is as 'n kraniopagus-koppeling bekend.
Maar ná ’n innoverende operasie in die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad is Ntombikayise se wens bewaarheid. Nou kan sy elke baba afsonderlik vashou en hoef sy hulle nie meer apart te voer nie. “Ek is in die wolke,” sê sy. “Ek het nie verwag om die hospitaal met my kinders in my arms te verlaat nie.”