Dit was te goed om waar te wees. Die jong egpaar het pas hul droomhuis op ’n veiling gekoop, propvol duur meubels en toestelle – en dit alles teen ’n appel en ’n ei.
Die huis in Lorraine, Gqeberha, het as deel van ’n insolvente boedel onder die hamer gekom. En met die nodige papiere onderteken, kon Chantelle en Geoffrey Bennet nie wag om die sjampanjeprop te laat klap en die verfkleure te kies nie. Maar die ink op die oordragdokumente was skaars droog toe hulle ’n nare verrassing kry: Twee wildvreemdes konfronteer hulle by die huis met die skoknuus dat húlle die regmatige bewoners en eienaars van die huis is. “Ek was ’n bietjie verward oor wie hulle is,” sê Chantelle.
“Ek het gedink, oukei, maar ek het pas ’n kontrak vir die huis onderteken. Rooi ligte het in my gedagtes begin flits.”