Vir baie mense gaan dit broekskeur om selfs net 10 opsitoefeninge te doen. Wat nog te sê van byna 2 500. En dit binne net een uur . . .
Maar Terrence (Terry) Gibbon (55) van Port Elizabeth is nie sommer enigiemand nie. Hy is die ou wat op 28 Mei al steunend en kreunend sy naam in The Book of Alternative Records wil verewig. Slaag hy sal hy in die geselskap wees van mense wat die verste agteruit kan hardloop, of die meeste bone in een minuut eet . . .
Dit klink dalk na grappies, maar wanneer die horlosie 12:00 wys, begin Terry se rekordaanslag in dodelike erns. Sy doelwit? Meer as 2 477 opsitte. Presies om 13:00 sal hy weet of al sy sweet verniet was of nie.