Op die oog af sou jy beswaarlik ’n deugsamer egpaar kon vind: albei diakens van hul gemeente en steunpilare van hul kusgemeenskap met die asemrowende uitsigte op Tafelberg oorkant die blou water.
Tydens eredienste in die NG kerk Melkbosstrand kon jy die aantreklike en welvarende Cloetes nie miskyk nie.
Monique, met haar gladgestrykte swart lokke en skitterwit glimlag, het die aankondigings voor die diens behartig. Die charismatiese Jaco, met daardie tikkie grys aan sy slape, het Bybels uitgedeel en was altyd onder die voorsangers.