Tania Koen, June en Barry Steenkamp se prokureur, het Maandag aan Huisgenoot gesê, sy het geen idee wanneer die sogenaamde slagoffer-oortreder-dialoog gaan plaasvind nie.
Sy glo wel dit sal gebeur. Maar of dit voor Kersfees sal plaasvind, weet niemand.
“Barry wil nog met Oscar praat, sonder twyfel,” het sy gesê.
Huisgenoot het vroeër berig die eertydse Paralimpiese atleet, wat op 22 November sy 35ste verjaardag gevier het, is aan die einde van dieselfde maand van die Atteridgeville-gevangenis in Pretoria na die St. Albans-gevangenis in Gqeberha oorgeplaas om as deel van sy rehabilitasieproses ’n slagoffer-oortreder-dialoog met Reeva se ouers in hul tuisstad te onderneem.
DKD-beamptes sou reeds in Augustus na die Steenkamps gereis het om hulle vir dié gesprek voor te berei nadat die appèlhof beslis het dat Pistorius reeds sedert Julie vanjaar in aanmerking kom vir parool.