book-icon Uitgawe 2 Junie 2022

Oud-Pretorianer voltooi ’n marathon ’n dag vir 104 dae – en dit met net een been

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jacky het elke marathon binne vyf uur voltooi.
Foto: Verskaf
Jacky het elke marathon binne vyf uur voltooi. Foto: Verskaf

As jy die soort mens is wat verskonings uitdink vir hoekom jy nie oefening kan doen nie, kan jy ­gerus by Jacky Hunt-Broers­ma gaan kers opsteek.

As daar al ooit iemand was met ’n goeie verskoning om nie te draf nie, is dit sy. Jacky het immers net een been.

En tog het Jacky, ’n oud-Pretorianer, pas ’n wêreldrekord opgestel vir die meeste agtereenvolgende marathons. Ondanks haar geamputeerde been het sy ’n volle 104 marathons in 104 dae gehardloop.

Daar was dae dat haar stompie – wat tydens die marathons aan ’n kunsbeen vasgemaak was en al die slae van die harde impak moes absorbeer – saans vol blase en rowe was. By geleentheid het die steekpyne so erg in dié halwe been gebrand dat sy snags nie kon slaap nie.

Maar elke oggend, 104 keer op ’n ry, was Jacky weer op haar pos om 42,2 km af te lê. Sy het die laaste van haar 104 marathons verlede maand voltooi.

Nie net is dit ’n rekord in die afdeling vir gestremdes nie; dis ook meer marathons as wat enige vrou met twee bene al ooit opeenvolgens gehardloop het. 

Die mense by Guinness World Records gaan nou die bewyse na en sal binnekort hul besluit amptelik maak. 

Sy wil baie graag Guinness se amptelike stempel op haar prestasie hê, sê Jacky (46). Nie net om te wys hoe veerkragtig sy self is nie; sy wil ook vir die res van die wêreld wys ’n gestremdheid hoef jou nie te keer om jou drome na te jaag nie.

Jacky was maar 26 jaar oud toe haar been weens kanker geamputeer is. 

“Alles het baie vinnig gebeur,” vertel Jacky nou, 20 jaar later. “Ek het gesukkel om my nuwe lewe met ’n amputasie te aanvaar.” 

Een manier om met haar nuwe liggaam vrede te maak was vir Jacky om aan haarself te bewys sy kan nog fisiek met ander atlete meeding – en hulle selfs uitstof. Ses jaar gelede het sy begin draf, nie te lank daarna nie het sy haar eerste marathon afgelê, en nou pas het sy haarself tot die uiterste beproef deur dit 104 keer in 104 dae te doen.

Met haar prestasie het sy meer as R3 miljoen vir Amputee Blade Runners ingesamel, ’n Amerikaanse organisasie wat kunsledemate aan atlete skenk.

Huisgenoot het met Jacky gesels vanuit haar huis in die Amerikaanse staat ­Arizona. Sy woon daar saam met haar man, Edwin, en kinders, Dexter (12) en Eliza (9).

Jacky en Edwin, wat ook ’n kranige hardloper is, is albei in Pretoria gebore en getoë. Twee jaar nadat hulle in 1997 getroud is, het hulle na Nederland getrek.

Drie jaar nadat hulle verhuis het, is ’n Ewing-sarkoom – ’n seldsame soort beenkanker – by Jacky gevind. Die gewas, wat aan die senuwees geheg was, is aan haar onderbeen ontdek.

Dokters het haar vertel hulle moet haar been afsit om haar lewe te red.

“Daar was baie skok en woede,” sê sy. “Ek het heeltyd gewonder wat ek verkeerd gedoen het en hoekom dit met my gebeur. Dit het my ’n ruk gevat om te besef ek het niks verkeerd gedoen nie en sulke dinge gebeur maar.”

Jacky, wat intussen saam met haar gesin Arizona toe getrek het, is sedert die operasie kankervry. 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

30 Junie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees