Dit is ’n helder, warm herfsdag op die Noord-Kaapse dorpie Pofadder, maar binne-in Elani Theron se slaapkamer loer net ’n skrefie lug deur die gordyne. Sy kan nie meer lig in haar kamer inlaat nie. Helder lig prik haar oë soos naalde. Dit maak haar ondraaglik seer.
Alles maak haar seer. Daarom leef sy nou al byna drie jaar hier in die skemerwêreld van haar kamer terwyl sy moet hoor hoe die lewe anderkant haar gordyne vir ander mense aangaan. Nie ’n dag gaan verby dat die 30-jarige ma van twee nie daarna smag om ver ente saam met haar twee kinders te gaan stap en weer te dans nie.
Trouens, sy sou enigiets anders wou doen as om haar dae in ’n donker slaapkamer te slyt en honderde pille te moet drink – meer as 400 pille per maand, in ’n stadium selfs 48 pille op ’n enkele dag. “Dit is nie maklik om so te leef nie,” sê Elani moedig. Sy ly aan die outo-immuunsteuring Graves se siekte.