book-icon Uitgawe 19 Desember 2019

Prins Andrew nou hof toe gesleep deur beweerde seksslagoffer

akkreditasie
“Twintig jaar gelede het prins Andrew se rykdom, mag, posisie en konneksies hom in staat gestel om ’n verskrikte, kwesbare kind met niemand om haar te beskerm nie, te misbruik.”
Virginia en haar regsverteenwoordiger, David Boies
Virginia en haar regsverteenwoordiger, David Boies, op 27 Augustus 2019. Foto: Getty Images/Reuters/Shannon Stapleton

So lui die dokument wat Maandag deur Virginia Roberts Giuffre aan die hof voorgelê is om die Britse prins te dagvaar. 

Virginia beweer dat sy as minderjarige gereeld deur die veroordeelde pedofiel Jeffrey Epstein en sy destydse meisie, Ghislaine Maxwell, aan sy invloedryke vriende "uitgeleen" is vir seks en dat een van hierdie seksoortreders prins Andrew was.

Volgens die nuusdiens ABC is dié regsgeding aanhangig gemaak enkele dae voor die tydperk verstryk waarvolgens slagoffers van kindermishandeling sulke klagtes teen oortreders kan indien.

Prins Andrew

Die 61-jarige prins het tot dusver ontken dat enige van Virginia se bewerings teen hom waar is.

Prins Andrew. Foto: Mark Richards - WPA Pool / Get
Prins Andrew. Foto: Mark Richards - WPA Pool / Getty Images

In hierdie stadium is daar nog geen amptelike reaksie van sy kant ontvang nie.

Jeffrey Epstein (66)

Hy is op 16 Augustus 2019 in ’n New Yorkse tronk dood. Sy dood het beroering veroorsaak omdat baie beweer dat hy nie, soos berig is, wel sy eie lewe in die tronk geneem het nie.

Tova Noel en Michael Thomas, die twee tronkbewaarders wat Epstein se sel moes bewaak, het nagelaat om dit agt uur lank te doen. Albei is tot 100 uur gemeenskapsdiens gevonnis.

Ghislaine Maxwell (59)

Sy was Epstein se regterhand en het na bewering self ook van die slagoffers misbruik. Sy is op 2 Julie 2020 deur die Amerikaanse speurdiens in New Hampshire in hegtenis geneem nadat sy byna ’n jaar lank daarin geslaag het om die gereg te ontduik.

Bronne: news.com.au, ft.com, bbc.com, townandcountrymag.com, washingtonpost.com

So het 'Huisgenoot' in 2019 oor Virginia se bewerings teen die prins berig

Prins Andrew-skandaal: Als oor die vrou op dáái foto – saamgestel deur Jane Vorster, Huisgenoot 19 Desember 2019

Jeffrey Epstein het haar as jong meisie aan sy vriende gegee vir seks, beweer sy – ook aan prins Andrew.
Virginia Giuffre met ’n foto van haarself wat ­gen
Virginia Giuffre met ’n foto van haarself wat ­geneem is ’n jaar nadat sy vir Jeffrey Epstein begin werk het. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Vir die wêreld is sy “die meisie op die foto”, maar vir prins Andrew was sy so onbenullig dat hy nie eens kan onthou hy het saam met haar vir dié inkriminerende foto poseer nie. Wat nog te sê haar naam onthou. Of so beweer hy.

In 2001, toe die kiekie van die prins met sy arm om haar kaal middellyf geneem is, was Virginia Roberts 'n naïewe, weerlose tiener wat nie geweet het hoe om haarself te beskerm nie.

Maar nou is sy 'n volwasse vrou van 36, en sy wil hê almal moet weet wat dáárdie aand gebeur het – die aand toe sy saam met die prins afgeneem is.

In 'n onlangse onderhoud met die Britse nuusprogram Panorama het Virginia uitgewei oor haar bewerings dat die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein haar op 17 Londen toe geneem het, waar sy na bewering gedwing is om met An­drew seks te hê. 

Die foto van haar en prins Andrew wat geneem is di
Die foto van haar en prins Andrew wat geneem is die aand toe sy glo die eerste keer met hom seks moes hê

Andrew (nou 59) het reeds sy beurt gehad om oor daardie aand te praat in sy eie televisieonderhoud – 'n rampspoe­dige gesprek wat hom wêreldwyd in onguns laat verval en veroorsaak het dat hy van sy koninklike pligte onthef is.

Virginia, daarenteen, was so openhartig in haar emosionele onderhoud dat sy wyd geloof is vir haar moed om die magtige instelling van die monargie aan te vat. 

Sy het in pynlike besonderhede onthul hoe opgewonde sy destyds was om aan Andrew voorgestel te word, maar hoe dié opwinding later in afkeer ontaard het toe sy in die Tramp-nagklub in Londen met hom gedans het.

“Hy was 'n vrot danser en het erg op my gesweet. Ek onthou ek het gedink, jig, ek het 'n stort nodig. Dis walglik,” sê Virginia.

Sy was nog meer gewalg toe Andrew haar na die huis van Epstein se destydse meisie, Ghislaine Maxwell, vergesel en dit na bewering geblyk het daar word van haar verwag om met die prins seks te hê.

Jeffrey Epstein en sy destydse meisie, Ghislaine M
Jeffrey Epstein en sy destydse meisie, Ghislaine Maxwell. Sy word daarvan beskuldig dat sy minderjarige meisies vir hom gereël het. Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Dit het nie baie lank geduur nie, die hele prosedure. Dit was walglik,” vertel sy oor die seksdaad. Sy sê Andrew het agter­na opgestaan, “dankie” gesê en uitgestap.

“Ek het net daar in die bed gesit, vervul met afgryse en skaamte. Ek het vuil gevoel.”

Hoewel sy beweer Epstein het haar al tevore aan sy invloedryke vriende “geleen”, was dié keer anders. “Ek het dit net nie van ’n koninklike verwag nie,” sê sy. “Ek het dit nie van iemand in die koninklike familie, na wie mense opsien en wat mense bewonder, verwag nie.”

Haar lewe vandag is ligjare verwyder van die een wat sy gelei het toe sy in Epstein se smerige web vasgevang was. As voorstedelike huisvrou en ma van drie woon Virginia – wat nou haar getroude van, ­Giuffre, gebruik – in 'n veiligheids­kompleks in Cairns, Australië, omring deur palmbome en welige woude.

Inwoners sê hulle sien haar gereeld waar sy die kinders skool toe neem of by die winkels inloer. “Sy’s een van die openhartigste, vriendelikste mense,” het ’n ma van die skool gesê. 

Virginia (35), 'n toegewyde diereliefhebber, het verlede jaar 'n groot beloning uitgeloof toe haar rooistertkaketoe, Daisy, weggeraak het. En met haar verjaardag vanjaar het sy vriende gevra om skenkings aan 'n honde­skuiling te maak pleks daarvan om vir haar geskenke te gee.

Die gesin braai graag op die strand, en sy en haar man, Robert, 'n krygkunskenner, gaan dobbel soms 'n bietjie by 'n plaaslike casino.

Sy het in 'n onderhoud met die Australiese tydskrif Woman’s Day vertel Robert is baie beskermend teenoor haar.

En hy ondersteun haar heelhartig in haar saak teen Epstein (66), wat vroeër vanjaar sy eie lewe in ’n tronksel in New York geneem het terwyl hy verhoorafwagtend was vir nog seksaanklagte wat met minderjariges verband hou.

Deesdae lei Virginia ’n rustige lewe in Australië
Deesdae lei Virginia ’n rustige lewe in Australië saam met haar man, Robert Giuffre, en hul drie kinders. Foto: Facebook/ Virginia Giuffre

Toe haar paadjie destyds met dié van die miljoenêr-fondsbestuurder kruis, was Virginia 'n kwesbare tiener wat reeds mishandeling deurgemaak het. Sy het in Miami grootgeword en is vanaf sewe­jarige ouderdom deur ’n familielid ge­molesteer. “My kindertyd is vinnig van my weggeneem,” sê sy.

Virginia het in haar tienerjare van die huis af weggeloop en op straat beland. Toe kry sy op 16 ’n werk by Donald Trump se Mar-a-Lago-oord in Palm Beach, Florida, waar sy ’n kleedkamer-assistent was. Dis waar sy Ghislaine ontmoet en ’n masseerterapeut geword het wat vir Epstein sou werk.

Terwyl sy saam met die finansier tussen sy wonings in New York, Nieu-Mexiko en die Amerikaanse Maagde-eilande gereis het, het dit vir haar duidelik geword die werk behels meer as net masserings, beweer sy – daar is van haar verwag om Epstein en sy vriende seksueel te bevredig.

“Ek is aan politici, professors, selfs 'n koninklike, verkwansel,” sê sy in ’n onlangse onderhoud met die Australiese nuusprogram 60 Minutes. Sy beweer sy het op drie geleenthede met Andrew seks gehad. 

"Epstein, sê sy, het haar gebruik sodat hy geheime inligting kon hê oor sy vriende en het vir haar verduidelik dis altyd nuttig “om iets van iemand te weet, net ingeval hy dit nodig kry”.

Maar sy het ná elke seksdaad vuil gevoel, sê sy. “Jy word nie eens erken as 'n lewende mens of dat jy daar is nie,” sê sy. “Ek het nie een keer tydens hierdie seksuele transaksies gedink hy is 'n oukei mens nie.” En dit, sê sy, sluit prins Andrew in.

In 2003, toe sy 19 was, kon sy eindelik uit Epstein se kloue ontsnap. Hy het haar gestuur om ’n masseerkursus in Thailand te doen, waar sy Robert ontmoet het. Ná 'n 10 dae lange romanse het hulle getrou en Australië toe getrek.

'Jy word nie eens erken as 'n lewende mens of dat jy daar is nie'

In 2007 het sy 'n oproep van die Amerikaanse speurdiens (FBI) gekry. Hulle het Epstein ondersoek en wou haar hulp hê, maar Virginia was huiwerig om betrokke te raak.

“Ek was doodbang,” sê sy. “Jeffrey het my altyd vertel hy het reeds die hele Palm Beach-polisiedepartement omgekoop. Ek wou net nie hê my gesin moes seerkry nie.”

Maar nadat sy die lewe geskenk het aan ’n dogter, het sy van plan verander en haar bewerings teen Epstein en Andrew in 2011 openbaar gemaak.

“Ek moes eers self my dogter hê en na hierdie pragtige, onskuldige baba kyk en toe sê: ‘Ek wil nou daaroor praat,’ ” sê sy.

Haar bewerings het prins Andrew blyk­baar heelwat slapelose nagte besorg. In 'n e-pos wat in 2014 om 05:50 aan Ghislaine gestuur is, en in die Panorama-­onderhoud gewys is, skryf hy: “Laat my weet wanneer ons kan praat. Ek het spesifieke vrae om jou oor Vir­ginia Roberts te vra.”

Verskeie vroue dagvaar Epstein se boedel vir mishandeling wat hulle verduur het, maar Virginia is nie een van hulle nie. Sy was 17 ten tyde van haar seksdade met Andrew.

Ingevolge Britse wetgewing was sy dus bo die toestemmingsouderdom; daarom kan sy nie in die Britse howe regsaksie teen hom neem nie. 

Maar al wat sy wil hê, is dat mense moet glo dit het gebeur.

“Ek smeek die mense in Engeland om saam met my op te staan, om my te help baklei, om nie te aanvaar dat dit oukei is nie,” sê sy.

“Dis nie die een of ander smerige seksverhaal nie. Dit is 'n storie oor sekshandel, dis ’n storie oor mishandeling, en dis ’n storie oor jul koninklikes.” 

  • Bronne: dailymail.co.uk, telegraph.co.uk, guardian.co.uk
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Jongste uitgawe

11 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in