‘Raponsie’ se hare so lank soos haar lyf – ’n hele 1,78 m

akkreditasie
Sy het haar hare laat groei vandat sy 14 jaar oud was en dit nooit weer geknip nie . . .

Wanneer jong meisies haar sien, is hulle oortuig hulle sien ’n strokieskarakter. Want nes Raponsie is die loopplankmodel en entrepreneur se pragtige hare sowaar so lank soos haar lyf – ’n hele 1,78 m.

Inga Volkosh (32), wat oorspronklik van Wladiwostok in Rusland is, groei dit al immers vandat sy net 14 jaar oud was.

“My hare is my manier om myself en my individualiteit uit te druk,” vertel sy oor haar besonderse kenmerk.

Inga woon deesdae in Miami in die Amerikaanse staat Florida, en vertel mense is gewoonlik verstom wanneer hulle haar sien. Dan is haar lang, welige bos hare natuurlik die middelpunt van aandag.

“As mense my hare sien, sê hulle dit is wonderlik. Hulle vra my hoe ek dit laat groei het en hoe lank dit gevat het en wat ek eet om dit gesond te hou,” sê sy. 

Sy hou meestal van die aandag, maar dit kan ook soms pla wanneer dit te veel raak . . .

“Die aandag is soms lekker en verfrissend. Soos wanneer dit ’n jong meisie is wat daarvan droom om lang hare te hê en sy dink ek is uit die een of ander strokie. Ander kere kan dit wel irriterend wees wanneer dit om die verkeerde redes die verkeerde mense se aandag trek en hulle obsessief oor my hare raak. 

Wat is haar geheim?

“Ek het my hare geknip toe ek veertien was en sedertdien sny ek net die punte twee keer per jaar,” sê sy. 

Sy volg ’n gesonde dieet van vleis, vis, slaaie en olyfolie. Sy vermy hitte aan haar hare, kleur dit nie en is versigtig wanneer sy dit borsel. 

“ ’n Gesonde dieet is die belangrikste vir gesonde haargroei. Ek probeer net gesond, vars en organies eet, geen kitskos nie en baie proteïen, wat baie belangrik vir hare is. 

“Die belangrikste is: Moet jouself nie dwing om meer of minder te eet as wat jy wil nie. Wees lief vir jou liggaam en fokus op gesonde gewoontes, en die skoonheid sal volg.

Inga vertel dit is belangrik om nie elke dag dieselfde te eet nie: Dit moet ’n variasie van voedsame kosse wees.

“Ek probeer ‘leë’ koolhidrate – suiker witbrood, pasteie, pasta en pizza – vermy. Ek verkies vleis, vis, hoender, seekos en berge slaai met olyfolie. Ek hou altyd neute of vrugte in my handsak vir ’n vinnige happie. 

Sy is ook bedag op wat sy drink.

“Ek drink nooit koeldranke soos Cola, Fanta of Pepsi nie en ek drink minstens ’n liter mineraalwater per dag.”

Verder maak sy smoothies van verskillende bessies – frambose, bloubessies, aarbeie – en ander vrugte. 

“Ek drink ook koffie en groen- en matcha-tee sonder suiker.” 

Sy vertel sy bestee baie tyd aan haar haredos. En die teenoorgestelde geslag is ook dol daaroor.  Inga meen dit is omdat mans aangetrokke voel tot vroue met ’n mooi vel, hare en naels.

“Die meeste mans is dol daaroor. Ek dink mans is van nature aangetrokke tot vroue met ’n mooi vel, hare en naels.” 

Inga was haar hare elke vyf dae in die stort en die proses vat 20 minute. 

“Ek gebruik nie ’n haardroër nie, ek borsel dit versigtig. Ek kleur nie my hare nie, dis my natuurlike haarkleur. Ek gebruik oor die algemeen natuurlike olies en haarsorg. Dit verg ook baie sjampoe en opknapper om dit goed te versorg.”

“My raad vir mense wat hul hare wil laat groei, is eet gesond, volg ’n gesonde leefstyl, moenie stres nie, drink jou vitamiene, eet meer proteïen.”

En laastens?

“Moet dit nie knip nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees