Dit was asof sy met dié uitrusting ’n boodskap wou stuur: Moenie dink net omdat ons superryk is, het ons nie begrip vir gewone burgers se swaarkry nie.
Toe Akshata Murthy einde verlede maand aan haar man, Rishi Sunak (42), se sy verskyn om steun te werf vir sy veldtog om Britse premier te word, het sy ’n relatief beskeie rok van Club Monaco gedra. Ja, dié geblomde rok in “Tory-blou” kos dalk steeds meer as R3 000, maar dis heelwat goedkoper as van die uitrustings waarin sy al voorheen gewaar is – soos die leerjas en -romp en Gucci-tekkies van altesaam £3 075 (sowat R63 000) waarin sy verlede jaar saam met Rishi in Londen se welgestelde Mayfair-gebied gepryk het.
Maar nou is hy nie meer “net” finansiesminister soos voor sy onlangse bedanking uit Boris Johnson se kabinet nie. Rishi spook sake uit teen Liz Truss (47) voor die wêreld op 5 September sal weet watter een van die twee die nuwe Britse leier word.