Robert de Niro-maatskappy dagvaar vrou wat ure sit en TV kyk pleks van werk

akkreditasie
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Iemand moes dié voormalige werknemer van Robert de Niro gewaarsku het: So kan dit nie aangaan nie!

Chase Robinson, wat in 2008 as assistent by die akteur se maatskappy Canal Productions aangestel is, word vir R90 miljoen gedagvaar nadat sy marathonsessies van die sitkom Friends in werkure gekyk het. 

Chase is in 2017 tot adjunkvoorsitter van produksie en finansies bevorder. Deel van haar werk was om toesig te hou oor werknemers se gebruik van die maatskappy se geld.

Toe sy in April bedank, het sy vir haarself ’n aanbevelingsbrief geskryf en Robert sover gekry om dit te onderteken.

Maar dit het intussen aan die lig gekom dat sy 55 episodes van Friends binne vier dae tydens werkure gekyk het, wegneemetes met maatskappygeld bestel het en algehele finansiële chaos gesaai het. Die produksiemaatskappy het haar nou gedagvaar.  

“Dit was nie deel van Robinson se pligte en verantwoordelikheid om reekse op Netflix te kyk nie en dit is gedoen vir haar persoonlike vermaak en plesier op tye wanneer sy betaal was om te werk,” lui die hofstukke.

Dit noem voorts dat sy 20 episodes van Arrested Development en 10 episodes van Schitt’s Creek agtermekaar gekyk het.

Die voormalige werknemer het nog nie op die hofgeding kommentaar gelewer nie, maar het ’n e-pos na Robert se maatskappy gestuur waarin sy bewerings ontken dat sy die maatskappy se kredietkaart vir persoonlike items gebruik het.

Die maatskappy beweer sy het vals dokumente ingehandig om betaal te word vir 96 dae se ongebruikte verlof. Ook het sy glo maatskappygeld gebruik om Los Angeles toe te vlieg nadat sy beweer het sy “moes ondertekende koffietafelboeke wat op De Niro se fliek Taxi Driver gegrond was, te gaan haal en af te lewer”.

Bronne: Variety, Metro UK, GQ

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees