Angs en wanhoop verteer die middeljarige kleuterskoolonderwyseres. Haar geldsake lyk beroerd; haar skuld hoop op. En sy het ’n kind op skool en een op universiteit . . . Wat gaan van hulle almal word? Maar toe dra ’n vriendin hoop aan.
“Het jy al van Crowd1 gehoor? Dis die geleentheid van ’n leeftyd! Jy kan ’n miljoenêr word!”
Die desperate Yolanda van Wyk (skuilnaam) van Limpopo het na die strooihalmpie gegryp. En sy is nie die enigste nie. Barend Spies, ’n Crowd1-direkteur in Suid-Afrika, laat dit immers in sy bemarkingsvideo vir die geldmaakplan so maklik klink: Sluit gratis aan; koop ’n “wonderpakket”; werf vier lede . . . en ka-tjieng!