Vir 63 uitmergelende dae het hy die elemente op die oop see trotseer en vorentoe gebeur. Een roeispaanhaal ná die ander, 6 403 km ver. Oplaas was die einde in sig.
Toe, terwyl die verligting en euforie oor hom begin spoel, besef die 53-jarige Richard Kohler van Kaapstad daar is ’n laaste struikelblok voor hy geskiedenis kan maak as die eerste kajakvaarder wat die Suid-Atlantiese Oseaan alleen oorgesteek het.
Volgens die reëls eindig sy epiese vaart wanneer hy aan die land hier in Salvador, Brasilië, vasmeer – of met sy hand aan die land raak. Maar net ’n ent weg van die strand vol mense wat hom inwag, sien hy geen vasmeerplek nie.