Daar’s ’n slang in die gras, maar dis nie spreekwoordelik nie. En al is dit genoeg om enigeen die horries te gee, skrik dit hóm g’n niks af nie.
In een van sy gewildste YouTube-video’s spring Graham “Dingo” Dinkelman holderstebolder van ’n bakkie af toe hy ’n slang in die grasveld gewaar. “Dis ’n swartmamba!” roep hy.
Maar pleks van vlug, soos enigiemand anders sou maak, hardloop Dingo (41) na die gevaarte om hom van naderby te bekyk – en hy deins nie eens terug vir die mamba se aggressiewe lyftaal nie.