Pierre Carter (55), wat tans in Linden in Johannesburg woon, werk al van 2000 af daaraan om te valskermsweef vanaf die hoogste bergpieke in elk van die sewe kontinente. Die bergpieke tot waar hy al geklim en vanaf gesweef het, is Kosciuszko (in Australië), Cook (in Nieu-Seeland), Carstenszpiramide (in Indonesië, Asië), Elbrus (in Rusland, Europa), Kilimandjaro (in Tanzanië, Afrika), Aconcagua (in Argentinië, Suid-Amerika) en Everest (in China en Nepal, ook in Asië).
Nou is hy besig om geld in te samel en vir goedkeuring aansoek te doen om die laaste berg en kontinent te voltooi: Vinson in Antarktika.
“Die moeilikste was waarskynlik Everest en Kilimandjaro, maar die groter uitdaging was om toestemming te kry. Ek wou die sewe pieke eintlik al voltooi het, maar dit het lank gevat om toestemming te kry vir elke berg, en ek wou dit nie waag om tronk toe te gaan nie,” sê hy.