Bentley Boyers se pa, Brandon, was by die Jackson County-diereskuiling in Michigan op soek na hoenders om sy klein boerdery uit te brei, toe hy die swart en wit hondjie, Lacey, opmerk.
Sy ma, Ashley Boyers, het aan die televisiekanaal WILX News 10 vertel haar man het haar van die skuiling gebel en vertel dat een van die honde ’n gesplete verhemelte het. “Kry haar! Ons het haar nodig!” was haar woorde aan hom.
Volgens Ashleigh het klein Bentley gesukkel om te eet toe hy pasgebore was en het hy in sy kort leeftyd al twee operasies gehad. Sy glo die hondjie sal haar seun laat voel hy is nie die enigste een met ’n gesplete verhemlte nie en dat hy nie anders is nie.
“Vir hom om te sien hy en die hondjie het iets in gemeen, beteken baie.”
Washington Post berig die hoof van die skuiling, Lydia Sattler, het aan Brandon verduidelik hulle kan die hondjie eers twee dae later kry omdat sy eers vir haar laaste afspraak by die veearts moes gaan.
Die ouerpaar kon nie so lank wag nie en hulle het klein Bentley die volgende dag na die skuiling toe gebring om sy nuwe beste maat te ontmoet. “Hulle was onmiddellik versot op mekaar,” sê Lydia. Toe Bently die hondjie in sy arms vashou, het “almal begin huil”.
“Dit is moeilik om in woorde te beskryf hoe betekenisvol dié aanneming was,” skryf die skuiling op hul Facebookblad . “Bentley het vandag sy gelyke in hierdie klein hondjie met die gesplete verhemelte gevind. Hulle het mekaar onmiddellik lief gehad. Ons wens hulle baie jare se geluk toe soos hierdie spesiale paartjie saam grootword.”
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.