Skokgolwe halfpad om wêreld, tsoenami-golwe: Tonga-vulkaan ‘1 000-jarige gebeurtenis’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die ondersese uitbarsting van die vulkaan Hunga Tonga-Hunga Ha'apai, wat tot in Alaska gevoel is en wat tsoenamigolwe in die Stille Oseaan veroorsaak het, is van 'n omvang wat net een keer elke duisend jaar voorkom, sê kenners.
Facebook/Tonga Geological Services
Facebook/Tonga Geological Services

Volgens Shane Cronin, professor in aardrykskunde aan die Universiteit van Auckland, het die vulkaniese uitbarsting, binne 70 km van Nuku'alofa, die hoofstad van Tonga, skokgolwe halfpad om die wêreld gestuur. 

“Die vulkaan is gewoonlik nie veel om na te kyk nie. Dit bestaan uit twee klein onbewoonde eilande, Hunga Ha'apai en Hunga Tonga, wat omtrent 100 m bo die seeoppervlak uitsteek – 65 km noord van Tonga se hoofstad, Nuku'alofa. Maar onder die golwe lê 'n massiewe vulkaan versteek, omtrent 1,8 km hoog en 20 km wyd,” sê Shane in 'n ontleding op The Conversation.

Die vulkaan het oor die afgelope paar dekades gereeld uitgebars, byvoorbeeld in 2009 en 2014 toe magma en stoom deur seeoppervlak gebars het.

“Maar dié uitbarstings is verdwerg deur hierdie Januarie 2022-gebeure.

“Ons navorsing wys hierdie is een van die massiewe ontploffings wat die vulkaan ongeveer elke duisend jaar kan voortbring,” sê Shane. 

Facebook/Lindsay Storrs
Facebook/Lindsay Storrs

Die uitbarsting is dwarsoor die Stille Oseaan tot so ver as die VSA gehoor. Die seismiese knal daarvan is ook tot in Alaska, sowat 10 000 km van die vulkaan af, waargeneem. Gewone mense en gesoute wetenskaplikes was in vervoering oor hoe satellietbeelde die enorme krag en energievrystelling daarvan vasgevang het.

‘Soos harde donderweer’ – 800 km weg

Vir Fidji se inwoners, meer as 800 km weg, het die aanvanklike uitbarsting van agt minute soos harde donderweer geklink. 

Die geweldige onderwater-energievrystelling het tsoenamigolwe van meer as 'n meter hoog verskeie dele van die Tongaanse kuslyn laat oorstroom, en Japan het mense langs hul Pasifiese kuslyn teen golwe van tot drie meter hoog gewaarsku. Net so het Amerika sy inwoners langs die kuslyn teen golwe, ongewone sterk seestrome en oorstromings aan die kus gewaarsku.

Wolke gas, rook en as uit die vulkaan het meer as 20 km in die hemelruim op gestrek, volgens Tonga se geologiese dienste.

Talle dele van Tonga is deur as bedek en ervaar 'n algehele onderbreking in elektrisiteitsvoorsiening en telefoon- en internetdienste. Die omvang van die skade en moontlike beserings of sterftes was teen Maandagmiddag nog onbekend. Maar video’s toon hoe verkeersknope vorm toe mense per kar uit laagliggende gebiede probeer vlug het, en hoe seewater oor kuspaaie en deur huise en kerke vloei.

Volgens Shane was die vulkaanpluim 260 km in deursnee voor dit deur wind verwaai is. Hy waarsku daar kan nog uitbarstings wees; dis nie onmoontlik dat weke of maande van “groot vulkaniese onrus” nog voorlê nie.

Bronne: bom.gov.au, theconversation.com, bbc.co.uk, CNN, Facebook, YouTube

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

26 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees