’n Paartjie van die Oos-Kaap wat al as laerskoolkinders verlief geraak het, het onlangs dieselfde skoolklok van die Laerskool Middelburg in Mpumalanga laat lui waarmee hulle destyds hul skoolloopbaan begin het. Maar hierdie keer was dit om dekades van liefde en die eindelike koms van hul groot dag te kon vier.
“Die kloklui-seremonie is vir ons baie spesiaal, want 'n mens lui dit eintlik as jy begin en klaarmaak met skool,” sê Stephné Pieterse (neé De Wet) aan Huisgenoot. “Dit was so ’n mooi gebaar.”
Ja, hulle was destyds bloedjonk, maar ’n mens sou kon sê dit was liefde met die eerste oogopslag – veral vir haar man, Louis.