Statistieke SA se 1ste digitale sensus om die draai: Registreer só om getel te word

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Alle inwoners word aangemoedig om hulle vir die vierde bevolkingsensus sedert 1994 te registreer. Die sensus van 3-28 Februarie sal ook Suid-Afrika se “eerste digitale sensus” wees, wat die proses aansienlik kan bevorder.

Statistieke Suid-Afrika vra mense om hul huishouding teen 30 Januarie vir Sensus 2022 te registreer by getcounted.statssa.gov.za. Dis 'n datavrye bestemming en sal hulle dus niks kos nie.

Alternatiewelik kan hulle registreer deur 0800 110 248 tolvry te skakel.

“So 'n sensus is die grootste onderneming vir Statistieke SA en ons moet verseker alle gemeenskappe word getel in 'n omgewing wat veilig is vir sowel respondente as dataversamelaars,” sê die statistikus-generaal, Risenga Maluleke. Die sensus word elke 10 jaar gehou om die data van elke mens binne die landsgrense te versamel, noodsaaklike inligting vir maatskaplike beplanning.

Die jongste sensus sou oorspronklik laasjaar plaasgevind het, maar dit moes weens die pandemie uitgestel word. 

Statistieke SA gaan egter vanjaar deurdruk en digitale tegnologie word vir die eerste keer op groot skaal ingespan om alles makliker, vinniger en veiliger te laat geskied.

Ná die aanvanklike registrasie sal mense die keuse hê om vanaf 3 Februarie die sensusvraelys met of sonder die hulp van veldwerkers, waarvan meer as 165 000 ontplooi sal word, te voltooi.

Danksy die digitalisering van die proses sal respondente dus ook oor 'n afstand toegang tot die sensusvraelys hê, wat Statistieke SA eweneens sal help om mense in alle gebiede makliker te bereik.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Drie metodes sal gebruik word om die sensusdata in te samel:

• Onderhoude van aangesig tot aangesig, waar veldwerkers kom aanklop, maar digitale toestelle sal gebruik om die data vas te lê en dus so die omkeertyd van die hele projek sal help verkort;

• Respondente sal die sensusvraelys via die web kan invul; of

• Hulle sal dit deur 'n telefoniese onderhoud met sensuspersoneel kan doen.

Wanneer mense registreer kan hulle die metode kies waardeur hulle die sensusvraelys wil invul.

Veldwerkers sal huishoudings besoek wat by registrasie die van-aangesig-tot-aangesig-opsie kies, wat nie geregistreer het nie, en wat nie die vraelys ingevul het nie.

Hulle sal reeds op die aand van 2 Februarie die sensus afskop met die tel van mense buite 'n huishoudingopset, byvoorbeeld dakloses en pasgebore babas.

“Ons het reeds die nuwe metodes van data-insameling te midde van veranderende covid-19-inperkingsvlakke getoets,” verklaar Calvin Molongoana, Sensus 2022-projekdirekteur. “Die reis” na die mikpunt om elke siel in SA te tel – die beplanning en voorbereiding – het trouens in 2018 begin. 

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Sensusdata is noodsaaklik vir beplanning en feitegebaseerde besluitneming deur verskeie sektore van die samelewing. Dit vorm byvoorbeeld die grondslag van begrotingstoewysings in terme van die nasionale en provinsiale en plaaslike regerings. Begrotingstoewysings gegrond op bevolkingsyfers in spesifieke gebiede moet verseker dat gemeenskappe die nodige dienste ontvang. Sensusdata is dus belangrik vir beplanning, ontwikkeling en vooruitgang in elke gemeenskap.

Statistieke SA benadruk dat sy veldwerkers in die gesondheidsdepartement se covid-19-veiligheidsprotokol opgelei sal wees.

Huishoudings wat wil seker maak veldwerkers wat hulle besoek is die ware Jakob, sal laasgenoemde se identiteitsnommer op die Statistieke SA-webtuiste vir bevestiging kan invoer.

• Besoek statssa.gov.za vir meer inligting. 

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees