Verder op met die rivieroewer hoor hy die soekspanne skree en fluit, maar die stemme kom nie nader nie. In die lug bo hom vervaag die klettergeluid van die helikopter . . .
Waar hy desperaat aan die boom vasklou, is die 33-jarige riviergids Jaco Swart se krag op sy laaste. Dis nou al 23 uur dat hy veg om nie deur die bruisende Stormsrivier meegesleur te word nie. Veel langer kan hy nie uithou nie.
“Ek het geen uitkomkans gesien nie,” vertel Jaco vandag – 19 jaar ná daardie oorlewingstryd en kort voor sy dramatiese verhaal weer op TV sou herleef – hier in sy huis op Ermelo, Mpumalanga.