Rene Hurtado (30) en haar verloofde, Max Bochman, het by een van Taylor se optredes van haar Eras-toer trou aan mekaar beloof.
Rene is ’n groot aanhanger en wou nog altyd die popster se musiek deel van haar groot dag maak. Sy was in die gehoor op die openingsaand van die konsert in Glendale, Arizona, en het gewag vir ’n liedjie wat romanties genoeg is vir haar troudag, berig Today.
En sy het die perfekte liedjie gevind: “Invisible String”, wat verwys na ’n antieke Oosterse mite oor ’n rooi draad wat die lot van twee mense saamsnoer.
Die man en vrou is bestem om mekaar te ontmoet, ongeag die tyd, plek en omstandighede. Die volgende aand was sy en Max terug in die voorste ry – Rene geklee in ’n wit rok en Max in ’n aandpak.
Die oomblik toe “Invisible String”, wat op Taylor se 2020-album Folklore verskyn, begin speel, het die seremonie begin. Ander konsertgangers het opgemerk dat daar iets romanties broei, en het gaan sit sodat hulle die enigstes was wat bly staan het.
Rene se bruidsmeisie is so geplaas sodat sy die troue kon waarneem wat gedurende die liedjie uitgevoer is. Konsertgangers het gejuig toe die pasgetroudes mekaar soen.
In ’n TikTok-video wat Rene agterna gedeel het, vertel sy ’n lid van Taylor se toerspan het hulle genader ná die troue en vir hulle ’n plektrum (waarmee ’n kitaar se snaar gepluk word) gegee. Taylor self het ook gehou van die video – iets wat die pasgetroudes as die grootste eer beskou.
“My hele bestaan draai om haar,” sê Rene.“Enige Swiftie sal die behoefte en begeerte verstaan om Taylor Swift deel van jou troue te maak. Sy het die mooiste liefdesliedjies om aan jou geliefde op te dra.
Haar musiek is die klankbaan van my lewe en dis vir my baie belangrik.”
Die paartjie is steeds in die wolke met hoe alles afgeloop het. Hulle het hul planne stilgehou en dit slegs met familie en ’n paar vriende gedeel. “Ek dink hulle het gedink dis nogal mal,” sê Rene.
Die paartjie sê Taylor se musiek het ’n belangrik rol in hul liefdesverhaal gespeel wat oor die afgelope nege jaar ontvou het. Albei is versot op haar Folklore-album, en Rene se gunstelingliedjie is “My Tears Ricochet” en Max s’n is “The 1”.
“Ons wou voor ons toekomstige seremonie afhaak en het gedink dis ’n baie lekkerder manier om dit te doen as in ’n hof,” sê Rene. Sy voeg by hulle gaan volgende jaar ’n seremonie hou sodat vriende en familie saam met hulle hul troue kan vier.
Bronne: today.com, brides.com, rollingstone.com