Dis ’n triestige dag hier in Polokwane, en die seuntjie wat die hek kom oopstoot, trek sy kop tussen sy skouers in teen die reën.
Die 11-jarige Kosie Wessels glimlag breed toe hy groet, maar sy spierwit troetel kat glip onder sy linkerarm uit. En dit is dan dat jy sien daar is net ’n stompie waar sy linkerhand was . . .
Dit is nou al meer as vier jaar sedert Kosie, toe net sewe, sy handjie weens ’n grusame ongeluk met ’n kragtige klapper verloor het. Destyds het hy dit in sy ousus se kas gekry en in die voorkamer van die gesin se huis aangesteek. Die knal het sy linkerhand afgeruk.