Die vliegtuig skud en skommel terwyl die vlieënier spook teen die dwarswind wat ons van koers af wil druk. Terwyl die aanloopbaan nader kom, kyk die groepie passasiers grootoog vir mekaar en een kaalkopman vloek hard en aanhoudend.
Dan, met ’n harde slag en skreeuende bande, is ons veilig op Moeder Aarde en almal sug van verligting. Welkom in Gqeberha, alom bekend as die “windy city.”
Maar dis nie die weer waaroor die mense van die stad gons nie, kom jy gou agter.