Toekomstige ouma (51) swanger met haar dogter se baba

akkreditasie
Julie Loving, Breanna Lockwood en haar man Aaron.
Foto: Caters/Magazinefeatures.co.za
Julie Loving, Breanna Lockwood en haar man Aaron. Foto: Caters/Magazinefeatures.co.za
’n Onbaatsugtige toekomstige ouma is swanger met haar onvrugbare dogter se baba nadat sy aangebied het om haar surrogaat te wees.

Breanna Lockwood (29), van Chicago in Amerika was in die wolke toe sy uitvind haar ma, Julie Loving (51), is swanger met haar kind ná vier hartverskeurende jare van probeer swanger raak saam met haar man, Aaron (28).

Die egpaar het ná hul troue in Julie 2016 begin probeer om swanger te raak, maar is ná ’n jaar van onsuksesvolle pogings na ’n vrugbaarheidskliniek verwys. Nadat hulle sowat R850 000 aan in vitro-behandeling uitgegee het, het Breanna twee keer swanger geraak, maar ongelukkig die babas, ook ’n tweeling insluit, verloor.

Dit het daartoe gelei dat sy Asherman-sindroom ontwikkel, ’n seldsame toestand wat veroorsaak dat littekenweefsel in die baarmoeder ontwikkel. Dit beteken sy kan nie nog ’n kind dra nie.

Julie, wat by ’n plaaslike supermark werk, het aangebied om haar dogter se baba te dra – Breanna en Aaron se embrio is ingeplant – ten spyte daarvan dat die kanse vir haar om swanger te raak uiters skraal was vanweë haar ouderdom.

Maar in Maart 2020 het ’n verheugde Breanna, wat werk as mondhigiënis, en Aaron, ’n rekenaarspesialis, uitgevind Julie is swanger met haar eie kleinkind nadat daar in Augustus 2019 met die behandeling begin is.

“My ma het my gesmeek vir die geleentheid om haar kleinkind te dra en ek het gedink sy is mal. Ek het nie eens geweet dis moontlik tot ek dit met my dokter bespreek het nie,” het Breanna gesê.

“Ons dokter het besluit op ’n reeks mediese toetse om te kyk of sy dit slaag voor hy die besluit geneem het, en sy het alles met vlieënde vaandels geslaag.

“Ons het in Augustus 2019 begin toets en in Maart 2020 uitgevind sy is swanger. Ek was verbaas omdat ons vir so lank gesukkel en dit so maklik vir haar gebeur het.

Julie Loving and Breanna Lockwood.
Julie Loving and Breanna Lockwood. Foto: Caters/Magazinefeatures.co.za

“Ons is baie opgewonde. Ons gaan binnekort die geslag uitvind en kan nie wag om die babakamer te versier en die klein kleertjies te koop nie.”

Die vrugbaarheidskliniek het groot hoop gehad vir Breanna en Aaron omdat hulle nie enige rede kon vind hoekom hulle nie van nature kon swanger raak nie.

Nadat Breanna haar tweeling verloor het, het sy littekenweefsel binne haar baarmoeder ontwikkel, wat beteken ’n baba sou nie kon groei nie.

“Ons was gebroke, ons probeer al twee jaar om swanger te raak en het gedink ons het eindelik verby die teëspoed gekom en was op pad om ons wonderwerkbaba te kry. Toe vind ons uit ons het die tweeling verloor.”

Julie het ’n aktiewe en gesonde leefstyl gevolg, gereeld aan marathons en driekampe deelgeneem en geweet sy sou die beste kandidaat vir haar dogter wees.

“Sy het my genader toe ons die eerste keer deur in vitro probeer swanger raak het, maar ek het haar eers in 2019 ernstig opgeneem,” sê Breanna.

“My man het ingestem, maar hy was senuweeagtig, want almal wil seker maak dis ’n gesonde swangerskap. Maar hy vertrou ons vrugbaarheidsdokter en was opgewonde en dankbaar dat sy dit vir ons wou doen.”

Die ouderdomsbeperking vir sommige surrogate in Amerika is 35 jaar oud, maar Julie het ten spyte van haar hoër ouderdom al die toetse geslaag. Breanna se vrugbaarheidsdokter, dr. Brian Kaplan, het gesê hulle het besluit om voort te gaan met die surrogaatskap ná “uiters versigtige persoonlike mediese, sielkundige en etiese oorwegings”.

“Julie het ’n omvattende ondersoek ondergaan en is as gesond beskou – sy het marathons in haar 40’s voltooi,” sê hy.

“Ons is almal opgewonde. Die familie-dinamika, onvoorwaardelike ondersteuning en opoffering, en die veerkragtigheid van die menslike gees was vir my as dokter ’n nederige ervaring om te aanskou.”

Breanna en Aaron sien uit na hul kleinding se koms in November en sal binne die volgende paar weke die geslag uitvind.

“Dit gaan baie goed met die swangerskap. Julie het geringe simptome gehad en voel wonderlik,” sê die toekomstige mamma.

“Sy woon naby ons, en ons kan haar help en gaan saam op al haar afsprake en help haar met wat ook al sy benodig.

“Ek is gewoonlik baie privaat oor my vrugbaarheidstryd en was senuweeagtig om dit aan te kondig omdat dit so ‘n sensitiewe kwessie is. Ek was opgewonde en senuweeagtig.

“Ek sou ’n ma gewees het ongeag wat gebeur, of ek op my eie, deur in vitro of ’n surrogaat swanger geraak het of selfs aanneming. Ek het myself herinner daaraan dat ek ’n ouer gaan wees ongeag op watter pad dit my neem.” 

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees