book-icon Uitgawe 24 Februarie 2022

Tronkvonnis van 20 jaar vir sekspes Ghislaine Maxwell – dís hoe sy vasgetrek is

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ghislaine Maxwell (60) en Jeffrey Epstein se mensehandelnetwerk was ’n “afskuwelike stelsel” wat “onberekenbare” skade berokken het.

Só het regter Alison Nathan Dinsdag in Manhattan, Amerika, gesê toe sy Maxwell gevonnis het vir haar aandeel in die Epstein-skandaal. 

Maxwell is 20 jaar tronkstraf opgelê omdat sy Epstein gehelp het om minderjarige meisies te mishandel. 

NEW YORK, NY - SEPTEMBER 20: Ghislaine Maxwell at
Ghislaine Maxwell. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maxwell is reeds in Desember 2021 skuldig bevind aan vyf aanklagte teen haar. 

Dié aanklagte het onder andere ingesluit dat sy mensehandel met minderjarige meisies gedryf het en dat sy meisies uitgesoek en hulle tussen 1994 en 2004 voorberei het vir seksuele misdrywe met Epstein. 

Maxwell het voor die vonnis opgelê is, oor haar dade gepraat en Epstein ’n “manipulatiewe, uitgeslape beheervraat” genoem wat daarin geslaag het om ’n rat voor almal se oë te draai oor wie hy werklik is. Sy het ook gesê sy is jammer oor die pyn wat ervaar is deur sy slagoffers.

NEW YORK - DECEMBER 8: Socialite Ghislane Maxwell
Ghislaine Maxwell in 2003. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Dit is die grootste berou van my lewe dat ek Jeffrey Epstein ontmoet het,” het Maxwell voor die vonnisoplegging gesê. 

Regter Nathan het egter gesê sy dink nie Maxwell het enige berou getoon oor wat sy gedoen het nie en sy het nie verantwoordelikheid vir haar aksies geneem nie. 

“Maxwell het direk en aanhoudend oor die bestek van baie jare hierdie afskuwelike netwerk aan die gang gehou. Sy het meisies so jonk as 14 verlei, vervoer en mensehandel met hulle gedryf sodat Epstein hulle kon mishandel. Die skade wat aan hierdie meisies gedoen is, is onberekenbaar.”  

Maxwell se verhoor in 2021 wat vir ’n maand geduur het, is wyd beskou as die verhoor wat Epstein eintlik moes gehad het voor hy sy eie lewe in 2019 in ’n tronk in Manhattan geneem het. 

Bobbi Sternheim, een van Maxwell se prokureurs, sê hulle sal die vonnis appelleer en aanvoer dat die openbare belangstelling in die saak veroorsaak het dat Maxwell nie regverdig behandel is nie. 

“Ons almal weet dat die persoon wat vandag gevonnis moes word, verantwoording ontsnap het en sy slagoffers vermy het en nie hul pyn kon sien nie. Hy het ook dus nie die straf wat hy verdien het, gekry nie.” 

Lees Huisgenoot se Februarie 2022-berig oor hoe Ghislaine eindelik vasgetrek is


Sy het waarskynlik geweet sy sou lewenslange tronkstraf kry; daarom het die seksmisdadiger Ghislaine Maxwell groot moeite gedoen om spoorloos te verdwyn.

In ’n nuwe boek word onthul hoe sy die FBI 12 maande lank ontwyk en hoe die kat-en-muisspeletjie eindelik op haar inhegtenisneming uitgeloop het.

Voor Ghislaine Maxwell tronk toe is vir sekshandel
Voor Ghislaine Maxwell tronk toe is vir sekshandel, het sy 12 maande lank vir die FBI weggekruip. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dit is ’n plek waar niks noemenswaardig ooit gebeur nie. Die stil, klein dorpie wat tussen weivelde en strome aan die oewer van ’n meer in New England nestel, het ’n enkele stel verkeersligte, ’n bevolking van minder as 2 000 en van die laagste misdaadsyfers in Amerika.

Toe die geraas van twee vliegtuigies hoog bo in die lug teen dagbreek een someroggend in 2020 die rus versteur, het verbaasde inwoners van Bradford, New Hampshire, gou besef iets is aan die broei.

Maar wat? Party het die bure gebel om te hoor of enigeen iets weet; ander het uitgehardloop om te gaan kyk.

Dick Morris, ’n skrynwerker, was een van die eerstes wat om vyfuur ’n gedreun gehoor het. “Toe ek uitgaan om my bakkie om seweuur te laai, het die vliegtuig nog rondgevlieg,” onthou hy.

“Ek het gedink: ‘Wat de duiwel doen hierdie ou wat so om en om vlieg?’ ”

Nog ’n inwoner het op 15 voertuie afgekom wat op ’n ry in die hoofstraat staan. Hy wou weet wie hulle is en wat hulle daar doen. Toe sê hulle vir hom hulle is van die New England Aerial Map Society.

Ongelukkig vir hulle het die inwoner, ’n kenner van geologie en kaarte, geweet daar bestaan nie so ’n vereniging nie. Hy het gevra of hy een van hul paneelwaens van binne kon bekyk, maar hulle het geweier.

Baie bekommerd het hy sy vrou gevra om die polisie te bel.

Teen dié tyd was die grootste deel van die dorp al wakker, en allerhande teorieë is uitgeruil. Maar wat niemand kon raai nie, was dat die konvooi gereed was om Ghislaine Maxwell se goed versteekte skuilplek binne te val terwyl FBI-verkenningsvliegtuie rondgevlieg het ingeval sy sou probeer ontsnap.

In alle regverdigheid, feitlik niemand in Bradford het die eienaar van Tuckedaway – ’n luukse vierslaapkamereiendom op ’n beboste 63 hektaar – met ’n oog gesien sedert sy daar ingetrek het nie. En ál een wat haar tevore ontmoet het, was die eiendomsagent wat die kopie beklink het.

Maxwell het haar aan hom voorgestel as ’n joernalis genaamd Jen Marshall en opgedaag saam met ’n man wat sy as Scott Marshall voorgestel het – vermoedelik een van haar privaat lyfwagte. 

Maxwell het die eiendom in New Hampshire vir R16 m
Maxwell het die eiendom in New Hampshire vir R16 miljoen gekoop en kontant daarvoor betaal. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Nes sy, het Scott ’n Britse aksent gehad. Hy was ’n afgetrede weermaglid, het hy vertel, en werk aan ’n boek. 

Tot die eiendomsagent se vreugde wou die paartjie die eiendom so gou moontlik koop en het $1 miljoen (toe sowat R16 miljoen) kontant aangebied.

“Hulle het gesê haar naam moenie bekendgemaak word nie; daarom het ek gedink sy moet ’n filmster wees,” vertel die agent. “Sy wou weet wat die vlugpatrone oor die huis was, wat baie vreemd was.”

Die verkoop van die huis is in Desember 2019 afgehandel deur ’n rakmaatskappy genaamd Granite Reality wat Maxwell gebruik het om haar identiteit weg te steek. En daar het sy sewe maande lank gebly en haar Britse lyfwagte gestuur om vir haar inkopies te doen.

“Sy het wel uitgegaan, maar nie gereeld nie,” verklap ’n vriend van haar. “Mense het natuurlik weens die coronavirus maskers gedra – dit het dinge vir haar makliker gemaak.”

Lois Kilnapp, die baas van Bradford se herwinningsterrein, onthou ’n langhaar-Brit van so 40 het sedert die einde van 2019 rommel daar kom stort.

‘Hulle het gesê haar naam moenie bekendgemaak word nie. Sy wou weet wat die vlugpatrone oor die huis was, wat baie vreemd was’

“Ek was op goeie voet met hom,” sê sy. “Ek het altyd gespot dat hy die hertog van Sussex is, want hy het my laat glo hy is die eienaar van daardie huis.”

In Maart 2020 het die man vir haar gesê hy gaan terug Engeland toe en ’n tweede Brit aan haar voorgestel, wat toe die herwinningspligte oorgeneem het. Nes die eerste man was hy “groot en grof,” sê Lois. “Ek sou raai hulle was voormalige weermaglede.” 

Maxwell het duidelik geen kanse gewaag nie; sy het sekuriteitswagte met ervaring in die spesiale magte aangestel teen ’n geraamde koste van $250 000 (toe sowat R4 miljoen). 

Teen 2 Julie 2020, die dag van die FBI se klopjag, was sy al ’n jaar lank ’n voortvlugtige. 

Maxwell het jare lank minderjarige meisies gewerf – en die proses op hulle uitgevoer bekend as “grooming” – vir haar “hegte vriend”, die seksmisdadiger Jeffrey Epstein. Dis ’n ope vraag of die twee ooit romanties betrokke was by mekaar.

Saam met Jeffrey Epstein. Maxwell het jare lank mi
Saam met Jeffrey Epstein. Maxwell het jare lank minderjarige meisies vir Epstein gewerf en verhandel. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maxwell is New York toe nadat haar pa, die Britse uitgewer Robert Maxwell, ná sy dood in November 1991 as ’n skelm ontmasker is. Hy het miljarde se skuld agtergelaat.

“Ek glo Epstein het geld weggesteek wat Robert Maxwell na hom oorgeplaas het,” sê ’n inwoner van New York wat die finansier geken het. “Ek glo dit was Epstein wat Maxwell se geld gewas het.

“Ek kon eers nie uitpluis hoe dit gebeur het dat Maxwell, toe sy in New York aanland, skielik – eintlik oornag – sulke dik vriende met Epstein geword het nie. Ek glo hulle het uit die staanspoor ’n sakereëling gehad.

“Sy is New York toe om Epstein te sien; nie om hom te ontmoet nie. Buitendien, hy sou nooit tot haar aangetrokke gewees het nie. Ons weet van watter soort meisies hy gehou het.”

Maxwell se trustfonds van $100 000 (toe sowat R260 000) per jaar was beslis onvoldoende om in al haar behoeftes te voorsien. Met haar aankoms in New York het sy ’n woonstel van $500 per week gehuur en gou na ’n goedkoper blyplek getrek.

Tog het sy binne ’n paar maande in styl in die welgestelde Upper East Side gewoon.

“Ek onthou ek het gedink, maar met watter geld?” sê die joernalis Vassi Chamberlain, wat haar destyds geken het.

Agt jaar later het Maxwell haar eie meenthuis van $5 miljoen (toe sowat R30 miljoen) in New York gehad, waar sy gereeld die rykes en magtiges onthaal het – “altyd geklee in ’n belaglik sexy uitrusting”, vertel ’n bron van Manhattan.

Die huis met ses slaapkamers en ’n tuin is deur ’n rakmaatskappy gekoop wat by Epstein se kantoor geregistreer was.

“Jeff het haar onder sy vlerk geneem,” onthou ’n vriend. “Sy het besef hy kan die leefstyl vervang wat sy gehad het – en wat ’n leefstyl was dit nie! Sy kon weer doen wat sy wou.”

Vir Maxwell het dit gelyk asof die lewe eindelik na normaal terugkeer. Toe haar pa nog geleef het, het sy immers maklik 30 Concorde-kaartjies van $10 000 vooruit gekoop sodat sy gou Brittanje toe kon vlieg net wanneer sy lus kry.

‘Dis ’n wêreld van jong meisies in bikini’s, miljardêrs en weelderige leefstyle, maar dit grens aan die groteske’

Nie net het Robert Maxwell, wat die sukkelende New York Daily News in 1990 oorgeneem het, sy gunstelingdogter se leefstyl gefinansier nie; sy het hom ook vergesel na glansryke etes saam met vername mense soos die Amerikaanse minister van buitelandse sake Henry Kissinger en die Kennedy-familie. 

In ’n stadium is opgemerk hoe Maxwell vir John F. Kennedy jr. soen. Sy het heimlik gehoop hy sou met haar trou.

Nog voor sy Epstein ontmoet het, het sy al ’n gevestigde vriendekring van magtige New Yorkers gehad. Meer as een sosiale vlinder het opgemerk dat Maxwell se jare lange vriendskap met prins Andrew ongetwyfeld haar sosiale status ’n hupstoot gegee het.

“Sy het soos ’n labradorhondjie ’n behoefte aan aandag gehad,” sê ’n vriend. “Sy wou hê almal moes vir haar lief wees; sy was altyd ’n bietjie opdringerig en het daarop gefokus om haar sin te kry.”

’n Ander een meen geld het haar dwelm geword, die een ding wat haar bestaansreg gegee het en waarvoor sy op die ou end enigiets sou doen. Tog was Maxwell se enigste “loopbaan” skynbaar om by geleenthede in hoë kringe en by die opening van luukse winkels op te daag.

Nog ’n New Yorkse kennis van destyds beskryf haar as “ ’n hedendaagse geisja van die kapitalistiese wêreld”.

“Sy bewoon ’n domein vol van die rykste mense ter wêreld – van wie party goeie ouens is en party sleg – wat dink hulle is verhewe bo die wet. Dis ’n wêreld van jong meisies in bikini’s, miljardêrs en weelderige leefstyle, maar dit grens aan die groteske. Jy is nooit regtig seker wat agter geslote deure aangaan nie.”

Die Sex and the City-skrywer Candace Bushnell, wat haar ook sosiaal geken het, meen omdat Maxwell se pa ’n skelm was, het sulke mans vir haar normaal gelyk. “Sy het geweet wat om vir hulle te sê, en baie vroue weet nie, want daar is altyd ’n onderliggende seksuele ding aan die gang; ’n atmosfeer van seks,” sê sy.

“Daar is oral korrupte mense in hoë posisies – jy moet lig loop vir hulle. Maar as jy eers by daardie wêreld betrokke raak, word jy ingesuig. Sy is ingesuig.”

Teen die middel van die1990’s het die Britse koerant The Times Maxwell as een van die invloedrykste Britte in Manhattan gelys. 

In 2008 het die gereg Epstein in Florida ingehaal, waar hy talle meisies in een van sy huise seksueel mishandel het, maar hy het daarin geslaag om verskeie ernstige aanklagte – waaronder verkragting – te ontduik.

Die Sunday Times het haar as die koningin van die trans-Atlantiese groepie bestempel, maar tog opgemerk: “Ondanks al haar hoëprofielverskynings op Manhattan se A-lys is sy so geheimsinnig dat dit aan paranoia grens en haar sakeaangeleenthede is uiters misterieus.”

Steeds met geen duidelike bron van inkomste nie was sy teen daardie tyd sowat $30 miljoen werd (toe sowat R110 miljoen). Nou is dit natuurlik duidelik dat die geld van Epstein gekom het.

Al is sy selde saam met hom in die openbaar gesien, was Maxwell besig om ’n bestendige stroom minderjarige meisies te werf en te “groom” om sy verdraaide seksuele aptyt te voed.

In 2008 het die gereg Epstein in Florida ingehaal, waar hy talle meisies in een van sy huise seksueel mishandel het, maar hy het daarin geslaag om verskeie ernstige aanklagte – waaronder verkragting – te ontduik. Hy is tot net 18 maande gevonnis.

Terwyl hy in die tronk was, het Maxwell voortgegaan om partytjies saam met bekendes by te woon, en sy het prins Andrew vir ’n aandjie uit ontmoet.

’n Jaar later het sy een van haar grootste sosiale oorwinnings behaal: Sy het bevriend geraak met Chelsea Clinton, die dogter van oudpres. Bill Clinton, wat sy op ’n privaat jag ontmoet het.

Die vriendskap het ’n paar jaar geduur. “Eers in 2015 het Chelsea en haar man, Marc, bewus geword van die verskriklike bewerings oor Ghislaine Maxwell,” sê hul woordvoerder.

Maar die New Yorkse kringe het toe reeds alte goed van Maxwell en Epstein se skandes geweet.

“Niemand in die hoë sosiale kringe gee ’n duit om dat ’n 15-jarige meisie masserings gee nie,” sê ’n bron. 

David Patrick Columbia, stigter van die webtuiste New York Social Diary, se siening is nog meer sinies.

Toe ek vra wat sy van die minderjarige meisies dink, het sy na my gekyk en gesê: ‘Hulle is niks nie, hierdie meisies. Hulle is gemors.’

“Tronkstraf maak nie meer saak nie. Al ding wat jou ’n uitgeworpene in die New Yorkse kringe maak, is armoede.”

Niemand het dit beter geweet as Maxwell nie. In 2013 het sy selfs ’n geleentheid bygewoon ten bate van jong vroue wat uit sekshandelaars se kloue ontsnap het.

Haar selfvertroue het eers ’n knou gekry toe Epstein in Julie 2019 weer op aanklagte van sekshandel aangekeer is. In daardie stadium het verskeie slagoffers ook na haar vinger gewys as sy hoofsamesweerder – beskuldigings wat sy ten sterkste ontken het.

’n Bron na aan Maxwell onthou egter dat sy openlik gepraat het oor die meisies wat sy vir Epstein werf. “Toe ek vra wat sy van die minderjarige meisies dink, het sy na my gekyk en gesê: ‘Hulle is niks nie, hierdie meisies. Hulle is gemors.’ ”

Die openbare fokus op Maxwell het verskerp nadat Epstein daardie Augustus, terwyl hy verhoorafwagtend was, in die tronk selfmoord gepleeg het. Kort daarna het sy besluit dit sal die beste wees om spore te maak.

Het Maxwell gedink sy sou skotvry daarvan kon afkom? Waarskynlik. Byna 12 maande lank het sy die FBI ontwyk.

Gerugte het die rondtes gedoen dat sy in Brasilië of in ’n skuilplek in Israel of in Rusland wegkruip. Daar is ook berig dat sy op die stil Massachusetts-kusdorpie Manchester-by-the-Sea in die herehuis van haar man, Scott Borgerson, woon, maar hy het enige kontak met haar ontken.

Die ingang na ‘Tuckedaway’, die afgeleë eiendom wa
Die ingang na ‘Tuckedaway’, die afgeleë eiendom waar die seksmisdadiger vir die FBI weggekruip het. Foto: Gallo Images/Getty Images.

As die houer van ’n Franse paspoort kon sy maklik gevlug het Frankryk toe – haar geboorteland – wat geen uitleweringsooreenkoms met Amerika het nie. Maar al het sy tot 20 keer getrek in die jaar dat sy voortvlugtig was, het sy Amerika nie een keer verlaat nie.

Sy het haar eindelik in haar beboste skuilplek in Bradford, New Hampshire, gevestig – saam met ’n kat en twee honde – en haar dae deurgebring deur te kook, te oefen en te lees. Intussen het die FBI gesukkel om tred te hou met haar bewegings, en ’n ruk lank het sy hulle ontglip.

Eers toe Maxwell in haar afwesigheid aangekla is, het dit noodsaaklik geword om haar aan te keer. Tien dae later, om 20 oor agt die oggend, het ’n konvooi – dieselfde een wat vroeër deur ’n plaaslike inwoner opgemerk is – in New Hampshire se woude begin inbeweeg.

Hulle het 500 m met ’n steil grondpad opgery, verby ’n granietblad met die naam “Tuckedaway” daarop gekerf. ’n FBI-agent het die hangslot aan Maxwell se veiligheidshekke oopgesny en 24 agente het die huis bestorm.

Maxwell – sigbaar deur die venster en geklee in ’n T-hemp en drafbroek – het hul bevele geïgnoreer om oop te maak. Terwyl sy na ’n ander kamer gevlug het, het die FBI ’n stormram gebruik om die voordeur, saam met die helfte van die voorste muur, af te breek.

Die FBI het in die kamer ingebars waar Maxwell weggekruip het en haar vinnig geboei. Teen 20 voor nege was sy in aanhouding.

“Vreemd genoeg het sy nie veel reaksie getoon nie. Dit was asof dit nie tot haar deurgedring het nie,” sê ’n beampte wat haar help aankeer het. 

Toe haar huis deursoek is, het FBI-agente ’n selfoon gekry wat in foelie toegedraai was – sy het duidelik verkeerdelik gedink dit sou keer dat dit nagespoor word.

Op haar bedkassie was ’n eksemplaar van die boek Relentless Pursuit: My Fight for the Victims of Jeffrey Epstein deur ’n prokureur wat 56 van sy slagoffers verteenwoordig het.

‘Toe haar huis deursoek is, het FBI-agente ’n selfoon gekry wat in foelie toegedraai was – sy het duidelik verkeerdelik gedink dit sou keer dat dit nagespoor word’

Intussen het Maxwell se verskrikte kat die hasepad gekies toe die FBI in haar huis instorm, en daar was kommer dat ’n beer of ystervark dit sou doodmaak.

“Daar was sekuriteitsmense en hoogs betaalde prokureurs wat in die woude gaan soek het,” vertel ’n bron na aan die ondersoek. “Niemand wou hê daardie arme dier moes iets oorkom nie.”

Eers ná ’n soektog van vier dae is die dier opgespoor. Dit is onwaarskynlik dat die kat ooit weer sy nooi sal sien.

Ná vier dae in die plaaslike tronk is Maxwell na die Metropolitan Detention Center in Brooklyn geneem. Sy word sedertdien daar aangehou.

Ná haar skuldigbevinding aan sekshandel in Desember sal die erfgenaam, wat na raming $30 miljoen (R450 miljoen) werd is, waarskynlik die res van haar lewe agter tralies deurbring.

En nadat sy reeds baie lank gelede moraliteit opsygeskuif het vir geld, word Maxwell (nou 60) deur die moontlikheid in die gesig gestaar dat sy alles kwyt gaan wees. Regsgedinge wat haar slagoffers teen haar ingestel het, sal waarskynlik die res van haar besmette fortuin uitput. 

‘Ghislaine Maxwell: Epstein & the Fall of America’
‘Ghislaine Maxwell: Epstein & the Fall of America’s Most Notorious Socialite’ deur Nigel Cawthorne. Foto: Verskaf.
  • ’n Geredigeerde uittreksel uit ‘Ghislaine Maxwell: Epstein & the Fall of America’s Most Notorious Socialite’ deur Nigel Cawthorne, uitgegee deur Gibson Square.
  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken gerus by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”, in.     
Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

18 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in