UIT DIE ARGIEF: 'Bid tog vir my kinders'

akkreditasie
Hulle was dan self geskok oor die Krugersdorpse afspraakmoorde, sê die verbaasde ma van die laaste twee verdagtes wat aangekeer is.

Dit was Marinda Steyn se woorde (Huisgenoot, 14 Julie 2016) tydens 'n eksklusiewe onderhoud met Jana van der Merwe. Dit is ook dieselfde vrou wat op 16 Mei 2018 deur regter Colin Lamont in die Johannesburgse hooggeregshof vir die einste moorde tot 11 keer lewenslank plus 'n verdere 115 jaar gevonnis is.

Sy het skuld beken op aanklagte van rampokkery, moord, roof, sameswering tot moord, bedrog en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die onderhoud

Hulle is die soort kinders op wie enige ma sou trots wees. Haar dogter is ’n boekwurm wat verlede jaar (2015) ses onderskeidings in matriek behaal het. Haar seun is sjarmant, liefdevol en die beskermende een in die gesin.

Maar Marinda Steyn se twee kinders wat nou die dag nog nes enige ouboet en kleinsus sou stry oor wie se beurt dit is om koffie te maak, stry nou in die landdroshof in Krugersdorp met borgtogaansoeke om hul vryheid.

Marcel Steyn (18) en haar broer, Le Roux (20), is die jongste verdagtes in die vreesaanjaende reeks “afspraakmoorde’’ wat die Wes-Rand geruk het (Vrae en vrees ná moorde, 16 Junie).

Hulle word saam met Fabian Luff (32) en Tiaan Kruger (29) van die moorde aangekla (‘Mammie, jy moet vir my baklei’, 7 Julie).

Twee versekeringsmakelaars, Anthony Scholefield (64) en Kevin McAlpine (29), se lyke is onderskeidelik op 10 en 26 Mei in die bagasiebak van hul voertuig langs die pad in Krugersdorp gekry. ’n Eiendomsagent, Hanle Lategan (52), se lyk is ’n dag ná haar verdwyning op 30 Mei langs ’n stroom in Randfontein gevind.

Al drie raaiselagtige moorde het een skrikwekkende besonderheid gemeen gehad: Op die aand van hul verdwyning het elk van die slagoffers om sesuur ’n afspraak met kliënte gehad.

“Ons was net so geskok,” sê Marinda (50) oor die moorde. Sy het haar kinders daarna nog gewaarsku om op hul hoede te wees.

Marcel en Le Roux

In ’n stil Krugersdorpse koffiekroeg waar sy op dié wintermiddag eksklusief met Huisgenoot oor haar seun en dogter se inhegtenisnemings praat, trek sy ’n pers mussie styf oor haar kop. Marcel het dit vir haar gebrei.

Marinda trek ’n papiersak vol sagte speelgoed nader.

“Kyk, die katjie se naam is Issie en die beertjie met die kolletjies is Rascal.”

Le Roux het albei vir haar gegee, net omdat hy lief is vir haar. Dieselfde seun word nou van moord aangekla.

Sagtespeelgoed wat die ma en haar kinders as geskenkies vir mekaar gegee het.

Tydens hul borgtogaansoek op 30 Junie het die staat aangevoer Le Roux het Hanle na bewering gewurg, terwyl Marcel na bewering in die eiendomsagent se laaste oomblikke haar die PIN-kode vir haar bankkaart laat herhaal het.

Marinda weier om die aantygings te glo dat haar seun ’n vrou “wat byna net so oud soos sy ma is” met ’n tou om die nek sou wurg en dat haar dogter aan so iets aandadig sou wees. So seker is sy van haar saak dat ’n mens nie eens durf verwys na die staat se skrikwekkende bewerings dat Marcel na bewering ’n foto van die eiendomsagent se lyk op haar foon gehad het nie.

Dit alles kan onmoontlik waar wees, lees ’n mens in die ma se desperate, indringende blou oë.

“Marcel is dan ’n regte nerd.”

Haar kinders se geaardhede verskil hemelsbreed, vertel Marinda terwyl haar sigaret saampraat.

As kind was hy lief vir buite speel en boom klim. Hy was ’n gehoorsame seun.

“Le Roux kom soos ’n ekstrovert voor, maar hy hou ook daarvan om sy eie ding te doen.”

As sy haar seun met een woord moet beskryf, sal dit “charming” wees.

“As kind was hy lief vir buite speel en boom klim. Hy was ’n gehoorsame seun,’’ onthou sy.

Deesdae geniet hy dit om rustig by die huis te wees, rekenaarspeletjies te speel en kos te maak. Hy het nie op die oomblik ’n werk nie, maar maak planne om na ’n sjefskool te gaan.

Die enkelma se oë blink van trots toe sy oor haar dogter begin praat. Marcel het vanjaar ’n brugjaar geneem en as au pair gewerk. Sy het universiteitstoelating gekry om volgende jaar medies te studeer, maar besluit nog of sy dit wil doen.

Marinda en haar gewese man het destyds gesukkel om kinders te hê, vertel sy.

Toe Le Roux, die eerste kleinkind in die familie, eindelik gebore is, het sy skaars kans gekry om hom vas te hou. Toe sy swanger raak met Marcel, was sy in ekstase.

Le Roux het op skool ’n gemiddeld van in die 70’s behaal, maar Marcel het al haar ma se verwagtings oortref.

“Ek meen ek is intelligent,” sê Marinda, “maar ek is nie so briljant soos my dogter nie.”

Marcel was vier en Le Roux ses toe hul ouers skei, maar hulle het in ’n stabiele, liefdevolle huis grootgeword, sê Marinda. (LEES: Krugersdorp-moorde: Berou van 'n afwesige pa)

By die Hoërskool Monument, waar Marcel verlede jaar gematrikuleer het, het sy ses onderskeidings verwerf. Sy het in gr. 11 by haar ou skool selfs in die biblioteek gewerk.

Marcel se uitstekende matriekuitslae.

“Haar favourite skrywers is Shakespeare, Jane Austen . . .”

Marcel is ewe lief vir boeke en brei.

“Sy brei vir al die ou bejaarde tannies (onderwysers) by die skool vir ’n geldjie. Sy is so ’n meelewende mens,” vertel Marinda en vir die eerste keer skiet haar oë vol trane.

“Dit ontstel my,” sê sy en vee die natheid met ’n handpalm weg.

“Ons praat asof hulle dood is, asof ek hulle nooit weer gaan sien nie.”

In boeie geslaan

’n Spesiale polisieondersoekspan het die broer en suster die aand van 23 Junie in hegtenis geneem – Marcel by haar ma se woonstel en Le Roux later die aand by ’n familielid se huis. Marinda is ook vir die nag opgesluit omdat drie daggaplantjies na bewering tussen ander plante in ’n bak by haar tuiste gevind is.

Sy hou vol nie sy of haar kinders was al by dwelms betrokke nie. Dié klag word nog ondersoek.

Sy en haar kinders het skaars drie weke tevore gesien hoe die polisie die vermiste Hanle se verlate motor in Burgerstraat vind. Hulle bly naby die hospitaal. Terwyl die polisie die toneel afgesper het, het sy en haar kinders nog bespiegel oor wat aangaan.

Marinda het gedink daar was seker ’n kaping. Sy kan nie onthou dat haar kinders vreemd opgetree het nie.

Volgens die polisie is daar bewyse dat ’n vrou die aand saam met Hanle met kringtelevisiekameras afgeneem is. Die staat voer ook aan daar is na bewering beeldmateriaal van Le Roux en Marcel wat met van die slagoffers se gesteelde bankkaarte geld trek.

Anthony Scholefield.
Kevin McAlpine.
Hanle Lategan.
  • Uit Anthony se rekening is R9 600 gesteel en sy kaarte is die volgende dag ook by ’n slaghuis, klerewinkel en kafee gebruik.
  • Altesaam R1 300 is uit Kevin se rekening weg. Sy trouring, skoene en beursie is ook gesteel.
  • Uit Hanle se rekening is R3 000 onttrek en haar handsak, iPad en trouring het onder meer verdwyn.

Tiaan, wie se borgtogaansoek saam met dié van Le Roux en Marcel op 13 Julie voortgesit word, word na bewering deur selfooninligting met die misdade verbind. Fabian het aangedui hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie.

Marinda sê sy het nog nooit van die ander twee verdagtes gehoor nie.

Sy wens sy kon vir die wêreld skree Le Roux en Marcel is onskuldig.


’n Week voor sy en haar kinders in hegtenis geneem is, het die polisie haar en haar kinders by hul woonstel oor “gesteelde goedere” kom ondervra. Haar kinders was net so verbaas daaroor soos sy. Toe het sy nog geen idee gehad dat hulle met die afspraakmoorde verbind word nie.

Sy wens sy kon vir die wêreld skree Le Roux en Marcel is onskuldig.

“Dis soos ’n nagmerrie waar iemand jou mond toegeplak het en jy kan nie sê jy is onskuldig nie.”

Sy onthou hoe sy ná die inhegtenisnemings van die ander twee verdagtes ’n video op sosiale media gesien het waarin ’n familielid van Hanle sê hy bid vir die naasbestaandes van die beskuldigdes. Toe sou sy nooit kon raai haar kinders sou beskuldigdes word nie.

Dan vra sy sag: “Bid asseblief vir my kinders.”

Op 16 Mei 2018 word haar seun, Le Roux, 25 jaar lank tronk toe gestuur.

Die beskuldigdes
John Barnard is reeds op 14 Desember 2016 tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis en is nou 'n staatsgetuie.
Zak Valentine het sy eie dood versin. Hy was na bewering ook betrokke by die moord van sy vrou, Mikeila.
Marinda Steyn het tydens haar vonnisoplegging gesê sy "aanvaar" dit.
Le Roux Steyn is op dieselfde dag as sy ma gevonnis. Sy vonnis van 35 jaar tronkstraf is met 10 jaar ingekort omdat hy as staatsgetuie gaan optree.
Marcel Steyn het glo foto's van Hanle se lyk op haar selfoon gehad
Cecilia Steyn (nie familielid nie) is na bewering die meesterbrein agter die moorde.

Die aanklagte van onder meer moord en roof met verswarende omstandighede teen Fabian Luff is op 25 Augustus 2016 teruggetrek nadat verdere ondersoek bewys het hy is onskuldig by die afspraakmoorde betrek
Nog een van die aanvanklike beskuldigdes, Tiaan (Christiaan) Kruger, is op 30 September 2016 vrygelaat.
FOTO'S: ROWYN LOMBARD, FANI MAHUNTSI, FACEBOOK, VERSKAF
Ekstra bron: Krugersdorp News
Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees