Saam het hulle 4,5 miljoen volgelinge op Instagram, maar dit lyk nou of die eienaardige paartjie van Rusland se liefdesbootjie op die rotse is.
Irina Meshchanskaya Shpak is Alexander Meschansky se sesde vrou, en hulle word nou daarvan beskuldig dat hulle hul egskeiding net in die sosiale media aangekondig het om aandag te trek.
Hulle ontken dit egter. “Dis nie ’n publisiteitsfoefie nie, dit gaan nie daaroor om meer mense te lok nie,” het Irina, ’n fiksheidsafrigter en sielkundige, gesê.
Die plaaslike Russiese media berig die twee is al vyf jaar saam.
In ’n Instagram-video sê Alexander dit is Irina (haar ouderdom is nie bekend nie) wat wil skei en dat hy baie hartseer daaroor is. Van hul volgelinge het haar toe daarvan beskuldig dat sy nie haar man ondersteun nie.
Alexander het egter vir haar opgekom in nog ’n inskrywing en gesê: “Julle moenie slegte goed oor Irina sê nie. Ons het baie goeie tye gehad, ek wil dit graag onthou.”
Nadat hy die grootste deel van sy lyf in tatoes bedek het, silikooninplantings in sy boude en borste gekry het en sy tande laat verleng het om soos vampiertande te lyk, het Alexander het 2,1 miljoen Instagram-volgelinge gelok.
Irina het nog onlangs gespog oor watter goeie minnaar haar man is, en vertel hoe gaande sy oor sy tatoes en vampieragtige voorkoms is.
Nou blyk dit die aardige transformasie is een van die redes hoekom hulle huwelik skipbreuk gely het.
Die mooi blondine – wat al eenkeer tevore getroud was – het al erken sy het aan haar borste en boude laat werk, maar moedig mense aan om hul slegs tot plastiese chirurgie te wend as hulle reeds tevrede met hul liggaam is.
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.