Die toekoms het donker gelyk vir Heinrich “Ollie” Terblanche, voormalige rugbyspeler van die SWD Arende, nadat hy in 2015 sy nek gebreek het. Hy was in ’n rolstoel en dokters was nie hoopvol dat hy ooit weer ’n aktiewe lewe sou kon lei nie.
Maar die dapper jong man se veggees ken geen einde nie. Aan sy verloofde, Chanel, het hy destyds belowe dat hy regop sal staan voor die kansel saam met haar. En dis presies wat hy in ’n roerende toneel in 2017 gedoen het – al was dit dan ook op ’n paar krukke.
En nou het die egpaar nog ’n wonder beleef – die geboorte van hul eersteling, Lian. Vir Ollie is hul seuntjie “’n wonderwerk . . . wat deur baie trane verwek is.”