Vrou (71) skiet buurman dood oor hond se geblaf

akkreditasie
’n Vrou (71) het haar buurman doodgeskiet tydens ’n rusie oor sy hond se geblaf voordat sy die geweer op sy vrou gerig het.
 Silvana Erzemberger
Silvana Erzemberger. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

Die beskuldigde Silvana Erzemberger het glo drie koeëls in die slagoffer, Luigi Casati (62), se bors geskiet buite hul woonstelblok in Treviglio, Noord-Italië. En toe sy verskrikte vrou, die 57-jarige Monica Leoni, hom te hulp snel, het sy haar glo twee keer met die kragtige Magnum-styl rewolwer in die been geskiet.

Silvana het haar buurman en sy vrou geskiet.
Silvana het haar buurman en sy vrou geskiet. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

Skokkende selfoonbeeldmateriaal van die nadraai van die skietery wys hoe Luigi se liggaam op die teer lê met sy vrou wat langs hom sit en hul hond vashou. Silvana – met haar grys hare in ’n netjies bolla – kan gesien word waar sy rondloop en die dodelike wapen rondswaai.

Die dubbele skietvoorval het op Donderdag 28 April rondom 07:40 plaasgevind.

Luigi Casati (62) is in sy bors geskiet.
Luigi Casati (62) is in sy bors geskiet. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

Silvana, ’n afgetrede smous, het sowat ’n dekade gelede by die woonstelblok ingetrek, en volgens bure het sy met almal vasgesit. Een van die bure vertel sy het gedurig inwoners se deurklokkies – selfs in die middel van die nag – gelui net om hulle te ontstig.

Monica was ook al glo polisie toe nadat Silvana haar na bewering gejaag en met ’n stok geslaan het. Die vrou het glo veral ’n wrok gekoester teenoor Monica, asook haar man – wat afgetree was – en hul hond, Chanel.

Luigi en sy hond, Chanel.
Luigi en sy hond, Chanel. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

Sy het glo ook gedurig gekla oor Chanel se geblaf, maar ander bure sê die hond was stil en goedgemanierd. Inwoners vertel wanneer Silvana ’n probleem met bure gehad het, het sy hulle gedreig en gesê sy het ’n vuurwapen in haar woonstel. Dit lyk egter of niemand haar geglo het totdat dit te laat was nie.

Sy het in die dae voor die skietvoorval glo in die middel van die woonblok se voorplein geskree: “Ek sal julle almal doodmaak!”

Luigi se vrou Monica Leoni is in die been geskiet.
Luigi se vrou Monica Leoni is in die been geskiet. Sy sterk steeds aan. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

Silvana het Luigi geskiet toe hy op sy eie in die voorplein van die woonsteblok was. Monica het die lawaai gehoor en uitgekyk vanaf hul balkon en haar man op die grond sien lê.

Sy het haar tot by hom gehaas om hom te help, maar toe skiet Silvana haar twee keer in die been. Daar is later met haar hospitaal toe gejaag en sy herstel van haar beserings. 

Luigi by sy hond, Chanel.
Silvana het glo gereeld gekla oor sy hond, Chanel se geblaf. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

Luigi, wat bure as stil en aangenaam beskryf het, is egter dood verklaar. Daar is beslag gelê op die verdagte se vuurwapen en sy is hospitaal toe geneem nadat sy siek geword het, waar sy onder polisiebewaking is.

Die polisie het haar vuurwapenlisensie, wat op die punt was om te verval, gevind. Met haar herstel sal sy in Bergamo aangehou en aangekla word van moord met verswarende omstandighede, asook poging tot moord. 

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.  
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!  

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees