Die kat se eienaar, bloot net bekend as me. Zhou van Xuzhou in die oostelike provinsie Jiangsu in China, het foto’s van haar vordering op Douyin gedeel, die plaaslike weergawe van TikTok.
Alhoewel die kat se hare met verloop van tyd verbleik het, kon sy tog daarin slaag om vier pare piepklein pantoffels vir haar troeteldier te maak. En, het sy almal gerusgestel, die kat is nie in die proses beseer nie. Sy het bloot net die hare bymekaar gemaak nadat die kat dit op ’n natuurlike wyse verloor het.
Sy het ’n liniaal ingespan om die kat se pote te meet voordat sy haar harige versameling in pantoffels omskep het. Die kat lyk ewe ongestoord deur die hele affêre.
En toe’s dit tyd vir poot in pantoffel. Dit lyk boonop na die perfekte pasmaat vir dié bedorwe brokkie.
Dit is onseker of sy ook vir haar ander katte dieselfde prima-pantoffelbehandeling gaan gee.
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!