Vrou kry 3 tweelinge in 5 jaar: 'Ek is dol daaroor'

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Amerikaanse egpaar tref die tweelingboerpot keer op keer.

Jolene en Andrew McKee, van Brooklyn in New York, het hul hande vol nadat hulle in vyf jaar drie tweelinge gehad het. Peyton en Page is vyf jaar oud, Abigail en Andrew drie jaar, en Aiden en Jaiden drie maande. 

“Ek het my nooit met ’n groot gesin voorgestel nie,” sê Jolene (32). “Maar dit is so ’n seën dat ek uit drie swangerskappe ses babas gekry het.” 

Nadat sy ses jaar gelede ’n miskraam gehad het, was sy bekommerd sy sou dalk nooit ’n ma word nie. Maar drie maande later het Jolene en Andrew (33) uitgevind hulle verwag ’n tweeling. “Ek kon dit nie glo nie. Dit was mooi,” sê sy. 

Toe sy twee jaar later weer swanger raak, was sy seker dit sou nie nog ’n tweeling wees nie – die kans dat dit gebeur, is immers sowat 12 500 teen een. Stel jou hul verbasing voor toe hulle hoor hulle sou binnekort ’n gesin van ses wees.

Toe sy ’n derde keer swanger raak, het die kans op nog ’n tweeling 1,4 miljoen teen een gestyg. “Ek was doodseker dit kon nie nog ’n tweeling wees nie. Ek het gedink dit sou net een baba wees,” sê Jolene. 

Haar dokter was nog meer verstom toe hy twee kloppende hartjies tydens 'n skandering sien. In die 25 jaar dat hy geneeskunde beoefen, het hy nog nooit ’n vrou drie keer met ’n tweeling sien swanger raak nie. Jolene het gou gewoond geraak aan die idee wat daar binnekort nog twee kleingoed in hul huis sou wees. 

“Ek het net aanvaar dit is so bestem en ek is dol daaroor.” Sy is veral bly haar tweelinge is in “al drie kombinasies” – twee dogters, ’n seun en ’n dogter, en twee seuns. Jolene meen haar “ooraktiewe baarmoeder” is die rede vir al haar tweelinge.

Twee eiers word vrygestel wanneer sy ovuleer, en dit verhoog haar kans om ’n nie-identiese tweeling te verwek. 

Dit was 'n vreugde om in so ’n kort tyd aan ses babas die lewe te skenk, sê sy. “Al my swangerskappe het baie glad verloop, maar dit was die tweede en derde keer baie anders om swanger te wees terwyl ek ook ’n bedrywige ma is.

“Maar ek moes net deurdruk. Nadat ek aan Abigail en Andrew die lewe geskenk het, was dit uitdagend om nog twee tweelinge te kry. Maar tweelinge is al wat ons geken het en dit het eintlik gevoel asof dit met elke stel makliker raak.

“Vir my is dit die heel lekkerste om hulle te sien groei en vorder. Dit maak my hart warm.”

Dit is soms moeilik om ’n program te vestig wat vir hul gesin van agt werk. Wasgoed kan ook ’n groot uitdaging wees. Maar sy is bly al die kinders kom oor die weg. 

“Ek is lief vir ons gesin en sou dit glad nie anders wou gehad het nie.”

Bronne: mirror.co.uk, metro.co.uk, dailymail.co.uk, thesun.co.uk
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees