Vroue in Spanje kan eersdaags 3-5 dae siekverlof vir menstruasie kry

akkreditasie
Die meeste vroue ken die pyn wat met hul menstruele siklus gepaardgaan.

Maar dan sluk hulle maar ’n pilletjie en gaan voort met hul alledaagse take. 

Nou blyk dit dat Spanje nuwe wetgewing wil instel om dié pyn ietwat te verlig deur vroue toe te laat om siekverlof te vat wanneer daardie pynvolle tyd van die maand aanbreek. 

Dié wetgewing wat nog aan die beginstadium van sy beplanning is, is aan die Spaanse media gelek wat onmiddellik daaroor begin berig het. 

Die voorlopige wetgewing dui daarop dat vroue wat erge menstruele krampe het, moontlik drie tot vyf dae siekverlof sal kan vat. 

menstruele krampe
Vroue wat erge menstruele krampe ervaar, sal moontlik 3-5 siekdae kry. Foto: Unsplash

Nadat die voorlopige wetgewing aan mediahuise gelek is, het Spaanse politici vinnig gewaarsku dat dié wetgewing in sy beginstadium is. 

Luidens berigte sal die wetgewing volgende week aan die kabinet voorgelê word. 

As dié wetgewing goedgekeur word, sal dit die eerste wetgewing in sy soort in Europa wees. 


Die wetgewing sal voorsiening maak vir vroue om na ’n dokter te gaan, waar hulle dan ’n doktersbrief moet kry om te sê dat hulle erge krampe het. 

Maar dié wetgewing sal nie noodwendig vir vroue geld wat net matige krampe tydens hul menstruele siklus ervaar nie. 

Die wetgewing sal ook nié net op menstruasie fokus nie. 

Spanje beoog ook om belasting op sekere vroulike produkte te skraap, terwyl hulle ook sal probeer om van dié produkte gratis by skole en in die tronke beskikbaar te stel. 

menstruele krampe
Die wetgewing sal volgende week aan die kabinet voorgelê word. Foto: Unsplash

Die wetgewing sal ook voorsiening probeer maak vir vroue om betaalde verlof te kry voor hulle kraam, terwyl veranderinge aan die aborsiewetgewing gemaak sal word. 

Spanje volg wetgewing wat in 2015 ingestel is waar daar beslis is meisies moet 16 of ouer wees voor hulle ’n aborsie sonder toestemming van hul ouers mag kry. 

As Spanje hierdie wetgewing goedkeur, sal hulle by lande soos Japan, Suid-Korea en Taiwan aansluit wat soortgelyke wetgewing rondom menstruele krampe het. 

Volgens studies wat gedoen is, ervaar tussen 60% tot 90% van vroue erge krampe wanneer hulle menstrueer. 

Minstens 75% van vroue in Spanje ervaar erge krampe. 

’n Minister in Spanje se kabinet sê dit gaan belangrik wees om vas te stel wat “erge krampe” regtig is. 

“Dit is belangrik dat daar gedefinieer word wat ’n pynvolle menstruele siklus is omdat ons nie hier praat van krampe wat ietwat ongemaklik is nie. Ons praat hier van erge simptome soos maagwerking, erge hoofpyne en koors.” 

Bronne: BBC, Sky News, The Guardian

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by ‘Huisgenoot’ se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.
Teken hier vir ons nuusbriewe in:

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in 

Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees