14 Februarie 2013. In een nag en vier skote deur ’n toiletdeur, het sy lewe eenklaps verander. Weer was hy op almal se lippe. Maar nie die keer omdat hy ’n ongelooflike atleet is nie, maar omdat hy sy meisie, Reeva Steenkamp doodgeskiet het. Oscar se verhaal is vertel in die eerste seisoen van die TV-reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA (DStv-kanaal 147).
Van die seuntjie wat sonder kuitbene gebore is tot die man oor wie se wange die trane geloop het toe hy in die hooggeregshof in Pretoria vertel het hoe hy gedink het daar is ’n inbreker in die toilet. Oscar is tans besig om ’n ses jaar gevangenisstraf uit te dien vir Reeva se moord.
Oscar se ouboet, Carl Pistorius het in 2016 ’n eksklusiewe brief aan Huisgenoot geskryf om te vertel wat Oscar se werklike vrees daardie aand was.