Ware lewensdramas: 2 wrede moorde, 2 verhale van verbete voortvlugtiges

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Ná die moorde op onderskeidelik Chantelle Barnard en Andrea Venter, het die regsproses gesloer omdat die twee verdagtes voortvlugtig was. Vanaand in 'Huisgenoot: Ware lewensdramas' om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) word teruggekyk na waar Jurgen Vandekeere en Gerhard Jansen van Vuuren eindelik vir die onderskeie misdade vasgetrek is.

JURGEN VANDEKEERE: Trane toe moordverdagte homself oorhandig Cyril Blackburn, 16 Januarie

“Mamma, is jy ernstig?”

Dít was die emosionele reaksie van Suzette Barnard se seun, Jacques (33), nadat sy hom Donderdagoggend vroeg met die nuus gebel het dat sy suster, haar dogter, se beweerde moordenaar homself aan die polisie oorgegee het.

Dis al byna nege jaar sedert Suzette se dogter, Chantelle (toe 20), tien dae voor haar mondigwording in April 2011 vir ure aaneen gemartel, verkrag en toe vermoor is.

Vir Suzette Barnard (60) was die laaste nege jaar ’n hel – maar Donderdag het sy vir die eerste keer sedert Chantelle se dood ’n sug van verligting geslaak.

“Jacques wou ná Chantelle se dood nie eens by die saak betrokke wees nie. Sy sussie se dood was vir hom geweldig traumaties. Maar toe ek hom vanoggend met die nuus bel, het hy in trane uitgebars,” sê ’n emosionele Suzette.

Suzette Barnard
Suzette Barnard.

Chantelle se vermeende moordenaar, Jurgen Vandekeere, is destyds kort ná die moord in hegtenis geneem en was agt maande lank in aanhouding voor die hooggeregshof in Johannesburg borgtog aan hom toegestaan het.

Vandekeere moes in September 2013 weer in die hof verskyn, maar hy het nooit opgedaag nie en het sedertdien spoorloos verdwyn.

Daarna het amper nege jaar verloop tot Vandekeere homself Woensdag aan die polisie in Benoni, aan die Oos-Rand van Johannesburg, oorhandig het.

“Ek is so verheug: ja, dat my dogter se vermeende moordenaar vasgetrek is. Maar ook omdat ek nooit ophou baklei het nie. Omdat ek nooit opgegee het nie. Omdat ek nog elke dag ná Chantelle se moord my vuiste stukkend baklei vir antwoorde.”

Donderdagoggend het kapt. Peter Mbanoni, ’n ondersoekbeampte in die saak, aan Huisgenoot gesê Vandekeere het homself wél Woensdag 15 Januarie aan die polisie oorhandig. Hy is daarna deur die polisie in hegtenis geneem.

Mbanoni sê Vandekeere het Woensdag vanuit die buiteland in Suid-Afrika aangekom, maar hy kon nie bevestig waar die moordverdagte vandaan kom nie. 

“Ons is op hierdie oomblik op pad na die hof waar Vandekeere weer aangekla sal word,” sê hy.

Suzette Barnard met ’n geraamde foto van haar vermoorde dogter, Chantelle. Foto: Rowyn Lombard.

Intussen sê Tania Opperman, ’n woordvoerder vir die South African Support Initiative (Sasi), Vandekeere was glo saam met sy pa, Roland, toe hy homself aan die polisie oorhandig het.

Pa en seun het ten tyde van Chantelle se dood saam op ’n hoewe gewoon – die einste hoewe waar Chantelle ’n huurder was.

Sy meen die ondersoek teen hom het glo “te warm” geraak en daartoe gelei dat hy homself oorhandig het.

“Ons kan nie glo daar is ná soveel jaar so ’n groot deurbraak nie. Dit is geweldig goeie nuus – vir ons en vir die familie betrokke.”

  • Vandekeere sou Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria verskyn het.

ANDREA VENTER: Geskokte pa verheug voortvlugtige ‘gemors’ is vas Jana van der Merwe, 19 Junie 2020

Die pa van Andrea Venter (25), wat nege jaar gelede buite haar woonkompleks vermoor is, is verheug nadat haar vermeende moordenaar en ekskêrel, Gerhard Jansen van Vuuren, in Brasilië deur Interpol vasgetrek is.

Dries Venter (69) is in skok.

"Hulle het die bliksem wat my dogter vermoor het," is sy eerste woorde toe Huisgenoot hom Vrydagoggend by sy huis in Rustenburg, Noordwes, bel.

"Gistermiddag bel die Brigadier my: 'Dries, dis sulke tyd. Ons het hom. Ons gaan hom nou haak.'" Dié brigadier is dr. Gérard Labuschagne, die eertydse hoof van die polisie se sielkundige ondersoekeenheid wat destyds by die saak betrokke was.

Gerhard Janse van Vuuren is op 18 Junie deur beamptes van die Brasiliaanse ­polisie en Interpol in Rio de Janeiro, Brasilië, vasgetrek. Hoewel hy ouer is, het Dries hom onmiddellik herken. Foto verskaf

Drieuur vanoggend het die foto op sy selfoon deurgekom en daar sit hy: Gerhard Jansen van Vuuren, die jong IT-spesialis wat na bewering op 2 Mei 2011 sy geliefde dogter, Andrea (25), buite haar woonkompleks in Fourways, Johannesburg, vermoor het.

"Ek is al van drieuur wakker. Ek kan nie ophou na die foto kyk nie." Op die foto lyk Gerhard (nou 39) met sy hande in die lug aansienlik maerder. Hy is byna onherkenbaar met langer hare pleks van die borselkop destyds in die hof.

Dries begin lag. "Dis hy. Hulle het hom. Hulle het die gemors."

Die vermoorde Andrea Venter. Foto verskaf

Huisgenoot het vroeër vertel oor Dries se verdriet en die wrede wyse waarop sy dogter vermoor is en hoe die moordenaar die gereg ontduik het. Gerhard kon na bewering nie aanvaar toe Andrea, ’n jong rekenkundige, hul verhouding verbreek nie. Selfs toe sy ’n nuwe lewe in Johannesburg begin het, het hy glo firmas gebel tot hy vasgestel het waar sy werk.

Gerhard het haar na bewering die Vrydag van die werk agtervolg huis toe. Hy het haar glo ontvoer en die naweek in sy woonplek gemartel. Toe hy haar daardie Maandagoggend, nog vasgebind, tot by haar woonstel terugbring, het sy losgeruk en vir haar lewe gehardloop.

Maar hy het haar glo agterna gesit en haar ten aanskoue van die sekuriteit met 'n knipmes afgemaai. Hy het homself om die lewe probeer bring, maar het oorleef en is toe in hegtenis geneem.

Gerhard het voor sy verhoor in Mei 2013 moes begin, daarin geslaag om borgtog te kry. Toe hy nie vir sy verhoor opdaag nie, het Dries, wat borg altyd verbete teengestaan het, geweet sy dogter se vermeende moordenaar het op die vlug geslaan.
Gerhard Jansen van Vuuren, wat op borgtog vrygelaat was, het vier dae voordat hy in 2013 die hof moes verskyn op aanklag van moord uit die land gevlug. Foto: Argief

Hy is die volgende jaar in Brasilië met 'n vervalste paspoort aangekeer. Hy het 'n polisiebeampte probeer omkoop, maar het misluk en is gevonnis. Hy moes sy vonnis eers daar uitdien voor Interpol hom kon uitlewer, maar in 2016 het hy weer weggekom toe 'n regter hom per abuis vrylaat.

Maar nou is hy vas. "Soos ek verstaan, gaan Interpol hom uitlewer. Ek wil sien dat hy kom betaal vir wat hy gedoen het."

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Vrydagoggend aan Huisgenoot die arrestasie bevestig.

"Hy is gister in Rio de Janeiro aangekeer. Ons is nou in die proses om met die owerhede daar te skakel. Die uitlewering is goedgekeur, maar vir nou wil dit eers voorkom daar is nog 'n hangende saak teen hom, waarvan ek nog nie al die besonderhede het nie.

  • Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandagaande om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees