Ware lewensdramas: Alberton-man skiet eks en 2 dogters

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Op 18 Julie 2013 het Linda Nothnagel se lewe onherroeplik verander. Vanaand in ‘Ware lewensdramas’ om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) word die tragedie wat aan die Oos-Rand plaasgevind het, herbesoek. Dit was die dag toe haar eksman haar en haar twee dogters by ’n bushalte geskiet, en toe die geweer op homself gedraai het.
'Iets het ons Paul laat knak' – Herman Scholtz, Huisgenoot 1 Augustus 2013
Die ouers van die man wat sy dogters en toe homself doodgeskiet het, praat oor die tragedie.
Een van die laaste Nothnagel- familiekuiers. Agter
Een van die laaste Nothnagel- familiekuiers. Agter is Kobus Myburg en Linda, Chané en Paul Nothnagel. Voor is Mischke, oupa Johannes en ouma Adrie Nothnagel. Foto: Facebook

Sy kan nog presies onthou waar haar twee kleindogters met hul laaste kuier by haar gesit het en waaroor hulle gesels het. Chané Nothnagel was opgewonde oor die rok wat sy vir haar matriekafskeid sou dra en het vir haar ouma ’n foto daarvan gewys.

Nou is sy in dieselfde rooi rok begrawe ná ’n gesinsmoord wat die land geskok en Adrie Nothnagel (69) en haar man, Johannes (70), in rou gedompel het. Want nie net het hul seun Paul (45) homself doodgeskiet nie; hy het sy twee dogters, Chané (18) en Mischke (13), saam met hom geneem.

Sy gewese vrou, Linda (43), is met koeëlwonde in die hospitaal opgeneem nadat hy op haar en sy twee dogters losgebrand het toe sy hulle die oggend voor skool by ’n bushalte in Alberton aflaai.

Dit was nie hul Paul wat sy twee oogappel-dogters so wreed kon afmaai nie, sê Adrie. Dit was die werk van ’n berserker wat geknak het.

“Wat hy gedoen het, is verkeerd. Ons weet nie waarom hy dit gedoen het nie. Maar my kind is nou die vark in die verhaal en daar’s niks wat ek daaraan kan doen nie.”

In die sitkamer van die tuinwoonstel by Paul se huis in Alberton vertel Adrie van die groot gat in haar hart nadat iemand haar die oggend van Donderdag 18 Julie met die tyding uit die hospitaal gebel het.

Die hospitaal waar Linda ná die skietery behandel
Die hospitaal waar Linda ná die skietery behandel is. Foto: Lubabalo Lesolle

Sy lyk kalm en praat sonder trane, te geskok om mooi te weet hoe sy voel. ’n Paar dae nadat haar kleindogters in ’n koeëlreën gesterf het, is dit doodstil by die huis wat al dekades die tuiste van ’n hegte familie is.

Hier het Paul saam met sy broer en suster grootgeword, en later saam met Linda, hul twee dogters en die seun uit haar eerste huwelik, Kobus Myburg, gewoon. Adrie en Johannes het toe in ’n tuinwoonstel gaan bly wat by die huis aangebou is.

By die hek het besoekers nog die opsie of hulle die klokkie by die grootouers of by “Paul en Linda” wil lui, maar Linda het al in Januarie met die dogters hier weggetrek.

Kobus (21) was toe al uit die huis; hy studeer regte aan die Noordwes-universiteit.

Met hul egskeiding het hulle ooreengekom dat die dogters elke Woensdagaand by hul pa sou deurbring en ook elke tweede naweek. Die laaste Woensdagmiddag van hul lewe het hul ouma hulle ná skool by die bushalte gaan haal. Hulle het by haar in die tuinwoonstel gekuier terwyl hulle vir hul pa gewag het om van die werk te kom.

Paul was sirkulasiebestuurder by die koerant Beeld en het soms lang ure gewerk.

“Mischke het nog hier gesit en Chané het daar gelê,” vertel Adrie en wys in die sitkamer vol simpatiekaartjies en ruikers na twee rusbanke. Hulle het grappies gemaak, oor skoolwerk gesels, en Chané, ’n leerder aan die Helpmekaar-kollege in Johannesburg, het van haar rok vir die matriekafskeid vertel, ’n lang rok met ’n kanttoppie en ’n rug wat gedeeltelik oop is.

Oupa Johannes was in Port Elizabeth vir werk. Voor sy vertrek het Paul hom die sleutel van die kluis gevra waarin Johannes sy vuurwapen hou. Niemand het dit vreemd gevind nie, want daar was onlangs ’n inbraak by die bure.

Johannes het daardie middag sy kleindogters uit die Oos-Kaap gebel.

“Ek het Chané gelukgewens met haar rybewys wat sy net die vorige dag gekry het,” vertel hy. “Ek het vir haar gesê ek het geweet sy gaan dit kry.”

Sy wou weet hoe haar oupa so seker kon wees. “Want ek het vir jou gebid,” was sy antwoord. “Ek bid vir al my kinders en kleinkinders,” sê hy nou.

Toe dit donker word en Paul nog nie by die huis is nie, het Chané vir haar ouma gesê haar ma het laat weet sy gaan hulle nou kom haal. Hulle was veronderstel om die aand daar oor te slaap.

Volgens ooggetuies het hy in swart geklee agter ’n boom geskuil by die bushalte waar sy dogters elke oggend die skoolbus haal, naby die meenthuis waar Linda nou woon.

Teen negeuur die aand het haar kleinkinders ’n SMS gestuur om te sê hulle is veilig by die huis. Kort daarna het Paul by die huis gekom en moes by sy ma hoor sy kinders is nie meer daar nie. Ná ’n haastige gesprek is hy terug na sy huis toe.

Toe Adrie die volgende oggend wakker word, het sy gesien Paul se voertuig is reeds weg. Volgens ooggetuies het hy in swart geklee agter ’n boom geskuil by die bushalte waar sy dogters elke oggend die skoolbus haal, naby die meenthuis waar Linda nou woon.

Toe sy met die kinders daar aankom, het Paul verskeie skote op die motor gevuur. Hy het homself daarna in sy eie voertuig gaan skiet.

Omstanders het met die meisies hospitaal toe gejaag, maar hulle is later dieselfde oggend dood. Linda is twee keer getref, maar het oorleef. Buite die hospitaal het Kobus aan Huisgenoot gesê sy ma vaar goed in die omstandighede.

“Ek is so dankbaar sy is oukei. Ek is orraait,” het hy bygevoeg voor hy met studentevriende vertrek het.

Kobus was duidelik geheg aan sy stiefpa. Hy was maar 18 maande oud toe Paul met sy ma getroud is. Op sy Facebook-blad gee hy hom en sy eie pa, Pieter Myburg, albei as sy “pa” aan.

Paul saam met Chané, Mischke (voor) en sy stiefseu
Paul saam met Chané, Mischke (voor) en sy stiefseun, Kobus. Foto: Facebook

Wat op daardie oomblikke deur Paul se gedagtes geflits het, sal sy nooit vir seker weet nie, sê Adrie. Paul was altyd baie stil, maar sy ouers het nooit gedink hy is dalk depressief nie.

“Ek glo nou hy was depressief,” sê sy. Hy was ’n geesdriftige fietsryer en het gereeld in die gim geoefen. Sedert sy egskeiding het hy swaargekry. Sy ouers weet nie waarom hy en Linda uitmekaar is nie.

“Ons meng nie in nie. Hulle het net eendag hier ingekom en gesê hulle gaan skei. Paul en Linda is op baie goeie voet uitmekaar. Ek weet nie of daar intussen iets gebeur het nie,” sê Adrie.

Hy het onlangs weer vir Media24 begin werk nadat hy ’n paar jaar gelede uit sy werk bedank en later vir homself gewerk het. Hy het gesukkel om geld uit twee ander maatskappye te kry vir wie hy intussen werk gedoen het, vertel Adrie. Amptelike dokumente wys hy het twee weke voor sy dood aansoek gedoen om skuldberading.

Die huis in Alberton waar die Nothnagels al dekade
Die huis in Alberton waar die Nothnagels al dekades woon. Foto: Lubabalo Lesolle

Paul het nooit oor sy probleme uitgewei nie. Hy het net vir sy pa gesê hy moet nou op sy geldprobleme fokus en dan is dit tyd vir “Paul en Linda”.

“Ek het hom nog gevra wat hy daarmee bedoel. Dit was baie duidelik hy wou weer hê hulle moet bymekaar wees.” Paul het in ’n stadium laat glip daar was“ ’n ander mannetjie” wat by Linda kuier.

Ek het by daai punt gekom vandag. En ek voel gedwonge om die een te bedank wat daai famous oproep op 16 Feb gemaak het. Ek hoop regtig daai persoon weet wie sy is en wat sy gedoen het.

Die afgelope paar weke het hy ál stiller geword, sê Adrie.

Op 5 Junie het hy op sy Facebook-blad geskryf die lewe dwing ’n mens soms in ’n rigting waar jy besluite moet neem wat jy nooit gedink het jy sou hoef te neem nie.

“Ek het by daai punt gekom vandag,” het hy geskryf en bygevoeg: “En ek voel gedwonge om die een te bedank wat daai famous oproep op 16 Feb gemaak het. Ek hoop regtig daai persoon weet wie sy is en wat sy gedoen het.”

Maar hy het sy ouers nooit van daardie oproep vertel wat hom duidelik hewig ontstel het nie.

Al het hy dokumente op sy kombuiskas agtergelaat, bly hul grootste vrae onbeantwoord. Daar was foto’s wat hy wou hê met sy roudiens gebruik moet word en gedetailleerde opdragte oor sy boedel, maar geen rede vir sy drastiese optrede nie. In ’n dagboek wat hulle in sy huis gekry het, is geen afsprake vir 18 Julie (sy sterfdatum) of daarna aangeteken nie.

Kort ná die skietery. Foto: Gallo Images/Foto24/Bo
Kort ná die skietery. Foto: Gallo Images/Foto24/Bongiwe Gumede

Die dag ná die tragedie het Adrie Linda in die hospitaal gaan besoek. “Sy het begin huil en net gesê: ‘Ek is baie lief vir Mamma,’ ” vertel sy. Al wat Adrie in haar geskokte toestand kon uitkry, was dat Linda van nou af nog liewer vir haar moet wees.

Vir Adrie en Johannes is dit ’n groot seer dat afsonderlike roudienste vir hul seun en kleindogters gehou is. Die dogters is saam in een graf begrawe. Paul se laaste wens was dat hy veras moet word en dat sy as met aanstaande jaar se Argus-fietswedren in die see gestrooi moet word. Hy het graag daaraan deelgeneem.

Tussen al hul onbeantwoorde vrae deur is sy bedroefde ouers net van een ding seker: Paul was verskriklik lief vir sy gesin. Hy het geen moeite ontsien om hulle gelukkig te maak nie, sê Johannes. Hy wou tot elke prys sy gesin herenig, maar hierdie droom sal nou nooit waar word nie.

Die plek waar Paul sy dogters afgemaai het. Selfs
Die plek waar Paul sy dogters afgemaai het. Selfs vreemdelinge het blomme gebring. Foto: Lubabalo Lesolle

Adrie omhels die soveelste gas wat kom simpatiseer. Ná hul vertrek sê sy weer haar seun het iets verskrikliks gedoen, en dit aan die mense wat hy en hulle so liefgehad het.

“Elke mens wat deur hierdie deur stap, sê dieselfde ding: ‘Dis nie die Paul wat ons geken het nie.’ “Hy was ontsaglik lief vir daardie kinders.”

In sy eie woorde (saamgestel deur Lara Atson)

Paul Nothnagel se inskrywings op die sosiale netwerke Facebook en Twitter, waar hy hom eerstens as ’n pa van drie beskryf, lees
byna soos dagboekinskrywings:

31 Desember: “Best of 2012. 1. Uhmmmmm 2. Uhhhhmmmmm The worst – too much to list before the year runs out. Looking forward to a better 2013.”

In Januarie plaas hy foto’s op Facebook van Mischke en Chané se eerste skooldag in onderskeidelik gr. 8 en 12. Oor die groentjiekonsert van die kleintjie skryf hy dit was ’n “special aand”.

15 Februarie: “Birthday time!! Chané turning 18 today. Blessings galore.”

22 Maart: “We think we understand life . . . and then – my guess is we are not meant to understand it.”

14 April: “No matter how good or bad you think life is, wake up each day and be thankful for life. Someone somewhere else is fighting to survive.”

12 Mei (by ’n foto van Linda): “Gelukkige Moedersdag! My kids is geseën.”

14 Mei: “Good day with word from Pukke that application has been successful. Congrats Sny!! (Chané)”

19 Mei (by ’n foto van ’n rot wat geskiet is): “You f with me . . . or my people, expect to pay for it”

31 Mei: “Dear God, sometimes it is hard for me to understand what you really want to happen, but I trust you. I know you will give me what’s best.”

1 Junie: “Look at your problems as problems & they’ll continue to hold you down. See them as blessings in disguise and that’s what they truly become.”

1 Junie: “So watter een doen meer skade? Om voor te gee of om vertroue te breek?? Moontlik beide ewe veel!!”

16 Junie: “Sonder twyfel die gelukkigste pa in die wêreld, geseën met die greatste kids!! Dankie dankie dankie – lief julle BJA!!!” Chané antwoord hierop: “En ons het sonder twyfel die beste pa in die wêreld! Ons kan ook net sê dankie dankie dankie! Lief pappa ook BAIE!” Mischke antwoord: “Love yu tu.”

19 Junie: “My life isn’t perfect, but I’m thankful for everything I have.”

  • Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandagaande om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees