Bedags was die woedende hitte van die Mosambiekse son ondraaglik, en snags het die reën mistroostig op hulle neergesif.
Hul lywe was styf en seer in die beknopte ruimte in die grond. Muskiete het om hulle geswerm en soms was daar die gewaarwording van ’n slang of insekte wat in die donker oor hulle seil of skarrel.
Byna vier dae lank het die Suid-Afrikaner Francois van Niekerk (21) en die Mosambieker Jostino Mandamule (35) so in die arms van moederaarde geskuil.
Hul omstandighede was haglik, maar hulle het tjoepstil en bewegingloos gebly. Want om hulle het ’n veel groter verskrikking gewoed: die Islamitiese militantegroep al-Sjabaab was besig om die dorp Palma met vuur en bloed te verower.
Dat hulle nog lewe is te danke aan Francois se pa, ook Francois, wat sowat vier maande tevore gesê het: “Grawe ’n loopgraaf.”
Dit het twee dae se warm, sweterige werk met die graaf geverg en Francois het sy pa soms verwens. Maar hy het volhard, want soos sy pa was hy bekommerd oor al-Sjabaab se skrikbewind hier in die noorde van Mosambiek.
En Pa had immers militêre ondervinding weens ’n oorlog van dekades gelede.
Die eindresultaat: ’n sloot van 1,5 m diep, 3 m lank en 1 m breed in digte bos weg van die huis af. Op die oog af onindrukwekkend . . . maar toe bars die duiwel los en dit word hul behoud.
“Daardie loopgraaf het my lewe gered, anders sou ek nie nou hier gesit het nie,” benadruk Francois van Niekerk (21) waar hy vandag op Gordonsbaai eksklusief met Huisgenoot praat.
Dis sowat drie weke nadat hy ter nouernood aan die aanval op die dorp en die gebied rondom Total se gasaanleg ontkom het, maar hy ervaar diepe trauma.
“Dit is steeds baie moeilik vir my om daaroor te praat,” erken Francois. Terwyl ons gesels, kyk hy kort-kort na die see, so asof hy gemoedsrus soek. In daardie lang dae en nagte in die loopgraaf het hulle met fluisterstemme en handgebare gekommunikeer.
Die klankbaan van hul nagmerrie was die gille van plaaslike mense wat vlug of sterf en die geknetter van outomatiese geweervuur.
Kort-kort was daar die blaf van ’n mortier of die bulderstem van ’n RPG 7-granaatlanseerder. Soms het die skrapnel die blaartjies van die bos oor hulle laat neersif.
En altyd die krete van die Islamitiese ekstremiste wat mekaar oprui. Dan die blaf van nog ’n mortier, en opnuut die angs: Gaan die bom hierdie keer binne-in hul skuiling val? Gaan rebelle uit die bosse bars en hulle uit die loopgraaf sleep?
Francois se een troos was dat Pa weet waar hy is: Hy kon hom bel om te sê al-Sjabaab het gekom soos hulle gevrees het, hy en Jostino gaan nou in die loopgraaf in . . . Vier lang, vreesgevulde dae later hoor hulle eindelik die woep-woep-woep van ’n helikopter wat naby hulle op die grond kom hurk.
DIE man wat by die koffiekroeg op Gordonsbaai met die uitsig op die see instap is lank, gespierd en aantreklik. Francois groet met ’n stewige handdruk voor hy plaasneem en haal dan ’n swart notaboek uit.
Sy handskrif vul bladsye en bladsye: alles wat hy oor die gebeure onthou, met rowwe sketse hier en daar. Stokmannetjies en penstrepe dui aan waar die Islamitiese rebelle se stellings in die bosse was. En in die middel daarvan, omring deur die al-Sjabaab-stellings, ’n enkele kruisie: die loopgraaf.
“Dis al waar ons veilig gevoel het,” vertel Francois, en sy bruin oë vlug weer na die see. Dis drie weke ná sy ontbering, en ons is duisende kilometers van Palma, maar in sy gemoed skuil hy steeds in die beklemmende omhelsing van die aarde.
“Ek is beslis nie dieselfde man wat ek was voor daardie paar dae nie,” erken hy.
Sedert sy terugkeer uit Mosambiek bly hy in sy ma se woonstel op Gordonsbaai, Maar hy skrik vir harde geluide en ervaar padwoede. Die aandskemering bring angs, en snags lê hy wakker, want sy slaap is vol nagmerries.
“Ek sien ’n sielkundige twee keer per week; dit help my verskriklik baie. Ek drink nou kalmeerpille en sy moedig my aan om alles neer te skryf,” sê hy en beduie na sy notaboek.
Die skrywery help omdat hy weens die trauma sukkel om te onthou. Francois het drie jaar gelede aan die hoërskool Die Wilgers in Pretoria gematrikuleer.
Hy wou hom by die Sol-Tech-tegnikon in Pretoria as meulenaar bekwaam, maar die waglys was lank en sy pa beveel toe aan dat hy sy ambagskap op Palma voltooi, waar Francois sr. toe al sewe jaar lank ’n hidrouliese maatskappy bedryf het. Hy was net twee maande op Palma toe die coronakrisis uitbreek en pa en seun Mosambiek ’n jaar lank nie kon verlaat nie.
“Daardie tyd was daar al heelwat sprake van al-Sjabaab, maar dit was baie ver van waar ons gebly het, en die plaaslike mense het gesê die weermag sal ons almal beskerm.” Maar kort voor Kersfees verlede jaar word pa en seun een nag wakker van geweerskote en daardie krete.
“Ons het geweet wat dit beteken en was dadelik vreesbevange. Hulle het baie naby aan ons geklink.”
Hulle het in die bos naby hul huis gaan wegkruip en eers ure later, toe alles weer stil was, uitgekom.
“Ons kon daardie aand nie slaap nie. My pa het my die volgende oggend gevra wat ons gaan doen as dit weer sou gebeur. En toe besluit hy ons moet daardie loopgraaf grawe. Maar ons het nooit gedink ons sal dit moet gebruik nie.”
Die situasie op die platteland rondom Palma het begin vererger. “Maar steeds het ons gedink die Mosambiekse weermag sal ons beskerm.”
Op 18 Maart vanjaar, toe reisbeperkings verslap is, het sy pa vir die familie in Suid-Afrika kom kuier. Francois jr. het sake op Palma behartig. Maar op 24 Maart het Jostino vreesbevange die maatskappykantoor binnegehardloop en gesê al-Sjabaab is naby.
“Alles het so vinnig gebeur. Ek het blikkies tunavis, muskietgoed, my paspoort en beursie in ’n rugsak gepak. Die volgende oomblik vlieg die koeëls so zoep-zoep-zoep, bam-bam-bam oor ons.”
Terselfdertyd het “honderde” dorpsbewoners verby hul huis die vleilande ingevlug.
Francois kon sy pa bel en hom vertel hy sit in die loopgraaf, waar Jostino by hom aangesluit het, voor die rebelle die selfoontorings vernietig het.
“My lyf was lam; daar was soveel angs. Ek en Jostino het soms nie ’n woord vir mekaar gesê nie; ons het net geluister. Ons het gewag dat iemand ons kom haal, of dat iemand ons doodmaak.”
Intussen het Francois sr. na Pemba, die Mosambiekse hawestad sowat 250 km suid van Palma, gevlieg. Hy het Dyck Advisory Group, ’n Suid-Afrikaanse privaat veiligheidsmaatskappy, laat weet waar sy seun is.
Dié veiligheidsmaatskappy het vuur- en lugsteun aan die Mosambiekse weermag gegee, en sowat 50 internasionale kontrakteurs opgepik voor hul brandstof en ammunisie opgeraak het.
“Bedags het die helikopters bo ons gevlieg, maar ek was bang as hulle ons sien dan skiet hulle ons raak terwyl hulle die gebied skoonmaak,” vertel Francois jr.
Ná hul vierde dag in die loopgraaf, terwyl die gevegte rondom hulle feller word, het hulle besluit om terug huis toe te hardloop.
“Ek het nie gedink ons sou lewend daar uitkom nie; ek het net aanhou bid.”
Maar hulle het die huis gehaal en in die spens weggekruip. En kort daarna sien hulle hoe die helikopter buite land. ’n Man het uitgespring en nader gehardloop terwyl hy Francois se naam roep. Kort daarna was hulle in die helikopter op pad na Pemba, waar sy pa gewag het.
“Toe my pa my sien, het hy my styf vasgehou en gehuil. ‘Ek is jammer, ek is jammer,’ het gesê.”
Francois vee sy eie trane af.
“Ek is dankbaar vir die mense wat na my gesoek het.” Hy weet daar wag ’n lang genesingsreis op hom, maar glo God sal hom hierdeur help. Maar die toekoms is onseker en geld is skraps, want weens die val van Palma is sy pa die onderneming daar kwyt.
Francois se familie en vriende het vir hom ’n Back-a-buddy-blad begin waar geld nou ingesamel word sodat hy sy studie kan voortsit.
“Mosambiek en sy mense is ’n wonderlike plek en ek is hartseer oor alles wat daar gebeur het. Ek hoop ons kan weer ons onderneming opbou. Maar in Mosambiek kry jy nie sommer iets terug wat jy verloor het nie.”
- Huisgenoot Ware lewensdramas word Maandagaande om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.