“Ek is so lus vir calamari,” het Marike gesê. “Ek het die wonderlikste resep by die haarkapper gekry, net vanoggend.”
Ek sou ’n perd opgesaal het as dit moes, net om daardie calamari in die hande te kry. Ons was aan die werk aan Plek waar die son weer skyn, die herstelboek in haar lewe waaroor ek soveel bedenkinge gehad het.
Die vorige middag, toe sy afgestap het na die Seven-Eleven-winkeltjie naby die huis waarin ons teruggetrek het vir die saamwerk, het ek oorgestap na ons strandbure. “Hou dit maar tussen ons dat julle haar ook hoor huil en weeklaag het.”
“Jy weet,” het my buurman gesê, “sy kon die president se vrou gewees het, maar al wat ek nóú sien, is ’n geskeide en vernederde vrou.”
Marike de Klerk is nie gereed vir ’n tweede boek nie, het ek ná die eerste hortende paragrawe gedink. Sy is nie deur al die fases van rou en verlies nie.
Maar, soos wat alles vroeër met die eerste boek verander het nadat sy my vertel het dat daar ’n derde persoon in haar man se lewe was – die pers het dit nog nie geweet nie – was dit asof ons ná die herstel-calamari, wat sy self gaan uitsoek het, uit die sukkelgang gekom het.
Met stapels boeke om haar – Where is God when it hurts, Why do bad things happen to good people, Griet skryf ’n sprokie (Marieta van der Vyver) en elke moontlike wyse boek, elke traktaatjie en fotokopie wat in haar posbus beland het, voor ons, het ons selfgemaakte Dom Pedro's begin drink (haar voorstel, my leerskool) en met drif en erns begin werk.
Met die skryf van Marike, ’n Reis deur somer en winter, haar onbevredigende, onvolledige biografie, het ek ’n komplekse vrou leer ken: ’n filosofiese denker, ’n toegewyde steunpilaar vir haar eggenoot, ’n vrou wat ferm vir my “Dit bly nié . . .” kon sê wanneer ek kapsie maak teen dinge wat uit die biografie weggelaat moes word.
Dit was ’n bitter moeilike boek om te skryf. Ek het spoedig die aanvoeling gekry – en glo hierdie intuïsie steeds – dat hierdie “biografie” eerder ’n opgawe van diens en toewyding, ’n dokument van besinning is.
Dit was vir een paar oë bedoel: dié van haar eggenoot.
Hierdie boek met digte gordyne binne sy struktuur, was deel van ’n herstelstrategie wat nie gewerk het nie.
Ek het Marike tussen al hierdie dinge deur as intelligent, dinamies, sterk, regverdig en gelowig beleef: enige man se krag, maar ook bevoeg om sy sterkste en slimste opponent te word.
Met haar “biografie” moes sy nog vashou aan wat sy kon behou: waardigheid, hoop, styl. Die professionaliteit wat deel van die pakkie van haar lewe as BBP was, het die asem, die voetreuke en die vingermerke van gewone menswees daaruit gehou.
Met haar herstelboek, Plek waar die son weer skyn, het ’n ander Marike tussen die boeke agter die Dom Pedro gesit. ’n Persoonlike chaos was vir haar onaanvaarbaar, waarskynlik ook onverwerkbaar. Sy het ’n studie van herstel gemaak en bly kontroleer of die emosies wat sy ervaar, normaal was.
Ek het die gevoel gekry dat sy wysheid en doodgewone common sense absorbeer en internaliseer, dat die internalisering sigbaar begin raak het, soos ’n leë bottel wat stadig vol raak.
Ons het in die wind op die strand gaan stap en dit het my verstom dat mense stom raak wanneer mense wat deur trauma gaan, met ’n hondjie aan ’n leiband by hulle verbydryf. Wanneer die wind haar lang bloeses skep en terugslaan, het dit haar benerigheid ontbloot.
Omkyk-omkyk het die vakansiegangers geloop; omkyk-omkyk het hulle gefluister. Maar die kinders het met Cadeau'tjie, haar hondjie, kom praatjies maak. Dan het Marike gehurk en dankbaar kontak gemaak.
Ons was albei gelukkig met veral die oorlewingswenke in Plek waar die son weer skyn. Ek het herhaaldelik vir Marike gesê dat haar swaarkry nie sinneloos was nie; dat daar uit die koringkorrel wat gesterf het, ’n stuk bystand vir ander vroue in dieselfde situasie gebore sou word. En dat die boek ná haar dood sou voortleef.
Maar op die dag toe die tyding gekom het dat Marike vermoor is, het ek haar weer afgemete hoor dikteer: “Om te herstel, moet jy twee woorde uit jou woordeskat skrap: “regverdig” en “onregverdig”. Om in hierdie lewe op regverdigheid aan te dring, is naïef en onrealisties. Male sonder tal het my vriendin Herta vir my gesê: “Life is not fair, Marike.” Ek het my teen hierdie uitspraak verset. Daar moet tog reg en geregtigheid wees: die bodem kan tog nie sommer net onder jou verkrummel nie. Maar sy is reg. Die lewe is nie regverdig nie. Net God is regverdig.
Moet dus nie langer regverdige behandeling eis nie. Leef asof jy dit nog nooit verwag het nie. Met een uitsondering: wanneer jy gedwing word om te skei, moet jy onversetlik aandring op ’n billike en regverdige verdeling van materiële bates. Jy is dit aan jouself verskuldig om nie soos ’n geplukte gans uit te stap nie.”
Op die dag toe die tyding gekom het dat sy vermoor is, hoor ek haar lag, want oor slim, snaakse goed kon sy skaterlag. Ek sien ander prente as dié op die foto's. Ek sien haar oor haar skoonmoeder wat alzheimersiekte het, buk om menswaardigheid in 'n ander te help herstel. Ek sien haar met klein Willem, die een met die swak ogies, op die pad tussen Vereeniging en Pretoria, want terwyl haar eggenoot verkiesings veg, moet sy sorg dat hy sy behandelings kry.
Ek sien haar oë bekommerd op sy kindergesiggie gerig. “My kinders,” het sy telkens gesê, “het 'n duur prys betaal. En ek het hulle so lief, elkeen van hulle.”
Die hande wat my taai, natstertkleinkinders die middag van my dogter se nood-blindedermoperasie opgetel het, was ma-hande. Maar die oë wat so selfversekerd vir my gekyk het, was dié van 'n vrou wat die wêreld gesien, baie binne-geheime geweet, die trauma van verwerping beleef en geweier het om lydsaam bes te gee.
Wat sal ek haar noem? ’n Vrou met klas en krag. ’n Regte ou trooper. ’n Vriendin met wie jy nie kletspraatjies gepraat het nie – sy het dit gehaat. ’n Koppige, unieke mens wie se voetspore nie slegs in figuurlike sin in hierdie land en oor my lewe lê nie.
’n Onvergeetlike vrou wat in die verkeerdste tyd van haar lewe die geheim van oorlewing ontdek en dit met my en ander gedeel het. ’n Dom Pedro-verslaafde.
Vir my sal Dom Pedro nooit weer reg smaak nie.
Die moord
Kort na drie-uur die middag op Dinsdag 4 Desember 2001 kom Marike se haarkapper by haar luukse woonstel in Dolphin Beach by Bloubergstrand aan. Marike reageer nie op haar klop aan die deur nie. Sy vind dit vreemd en gaan soek hulp. ’n Veiligheidswag bring ’n leer en klim van buite af tot op die balkon. Haar skuifdeur is nie gesluit nie. Hy klop voor hy binnegaan.
Die 64-jarige Marika is nog in haar slaapklere geklee en op die vloer van haar slaapkamer. Maar sy sal nooit weer op ’n klop aan die deur reageer nie. . . sy is met soveel mag verwurg dat verskeie beentjies in haar keel gebreek het. En alhoewel nie noodlottig nie, is sy ook met 'n steakmes in die rug gesteek.
Die moordenaar
Beskuldigings het heen en weer gevlieg tydens die opspraakwekkende verhoor waartydens bewysstukke weerhou is en 'n ontstellende DNS-vonds gemaak is.
Luyanda Mboniswa (22), 'n veiligheidswag by die Dolphin Beach-woonstelkompleks, word twee dae ná die grusame vonds in hegtenis geneem. Hy word op 13 Mei 2003 deur regter-president John Hlope in die Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan inbraak en moord, maar word vrygespreek op die aanklag van verkragting. Hy word lewenslank gevonnis.
Aansoek om parool
In Julie 2020 beweer Mboniswa dat hy oorgesien word vir parool omdat die De Klerk-familie nie daarin belangstel om dialoog met hom te voer nie. Hy het na bewering reeds twee keer aansoek om parool gedoen, maar glo die slagoffer-oortreder-gesprek wat nog nie plaasgevind het nie, belemmer sy kans op parool.
Delekile Class, die streekskommissaris vir korrektiewe dienste in die Wes-Kaap, het verlede jaar aan die SABC gesê die dialoog is wel noodsaaklik, maar dit is nie die enigste kriteria wat in ag geneem word by paroolaansoeke nie.
Luidens berigte is hy in die Drakenstein-gevangenis naby die Paarl.
Bronne: smh.com.au, iol.co.za, litnet.co.za, mg.co.za
- Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandae om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.