Ware lewensdramas: Die 'saggeaarde' man agter die Sizzlers-slagting

akkreditasie
Nege mense is op 20 Januarie 2003 in die sogenaamde Sizzlers-slagting in ’n masseersalon in Seepunt, Kaapstad, vermoor. Vanaand in 'Ware Lewensdramas' om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) word een van die grusaamste misdade in SA herbesoek.
Vas vir moord: my held vol liefde – Carol Coetzee, Huisgenoot 27 Maart 2003
Sy was geskok en gewalg toe sy van die Sizzlers-slagting hoor. Nooit sou sy kon raai dat die polisie aan haar deur sou kom klop op soek na die moordenaar nie.

Saam met die hele land het sy met skok en walging die grusame nuus op televisie gehoor. Maar sy was ook hartseer, want hulle was so te sê bure, die sekswerkers by die gay-masseersalon Sizzlers . . .

“Watter soort mens sny koelbloedig ’n ander keelaf en skiet hulle in die kop? Ek kon daardie nag nie slaap nie,” vertel Erica*, ’n verpleegster van Seepunt.

Dit was Maandagaand 20 Januarie. Sy het by haar tante in Gauteng gekuier en bang gevoel. Hoe veilig is dit nog om in Seepunt te woon?

Nooit sou sy kon raai wat wag nie. En sy kan dit steeds nie glo nie.

Haar eie verloofde, Adam Woest (27), die saggeaarde en liefdevolle man met wie sy al sewe jaar lank haar lewe deel, is een van die twee verdagtes wat van die moorde verdink word.

In hul eenvertrekwoonstel in ’n gebou net oorkant die moordhuis loop die trane kort-kort as sy oor Adam praat.

Teen elke muur of kasdeur is ’n foto van hom, haar held, die een mens wat haar destyds weer vertroue in die mensdom gegee het, haar weer veilig laat voel het.

Een van die foto's van Adam Woest wat teen Erica*
Een van die foto's van Adam Woest wat teen Erica* se muur hang.

Nou sit hy in die tronk en kan hy haar nie meer vashou as sy gaan slaap nie. Sy voel so verskriklik alleen . . .

In die pynlik netjiese woonstelletjie hang die ongeluk en ontnugtering inderdaad swaar oor die verwarde plattelandse meisie wat so graag in haar geliefde se onskuld wil glo.

Dan vertel sy hoe hulle sewe jaar gelede in George ontmoet het toe sy negentien en hy twintig jaar oud was.

“Ek het pas met skool klaargemaak en by ’n ouetehuis as verpleegster begin werk. Kêrels was die laaste ding waaraan ek gedink het. Ek het niemand na aan my toegelaat nie, veral mans . . . ek was bang.”

Dis moeilik en eensaam, maar sonder Adam moet Eric
Dis moeilik en eensaam, maar sonder Adam moet Erica* vir eers die toekoms alleen aandurf. Foto: Jacques Stander

Ek vra haar om te verduidelik, en sy begin vreeslik huil.

“Man, dis dinge waarvan ek wil vergeet. Dis ook hoekom ek nie graag naby ’n hof wil kom nie. Ek was klein en ek moes die hof vertel wat ’n familielid gedoen het. Hy is gevonnis. Drie maande tronkstraf, opgeskort, en ’n jaar se behandeling by ’n sielkundige.

“My ma en pa is ’n paar keer getroud en geskei. ’n Voortrekker-offisier, ’n vriend van hulle, het ook op ’n kamp dinge probeer aanvang. Ek het geen vertroue in grootmense gehad nie. Veral nie in mans nie.”

Maar toe kom Adam.

Dit was een aand ná werk toe Erica en ’n paar vriendinne 'n drankie by die sportkroeg gaan drink het.

Die sjarmante donkerkopman wat hulle bedien het, het spesiale aandag aan Erica gegee.

“Hy het uitgestaan," vertel Erica. “Ek het dopgehou hoe hy die ander mense bedien, sjarmant, maar op sy plek, en altyd met die jong mense ’n grappie gemaak.

Dit was ’n wonderlike aand. Ek was verniet bang. Hy het nie eens aan my hand probeer vat nie en ek het baie respek vir hom gekry.

“Toe hy my uitvra, het ek geskrik. My vriendinne het geweet ek gaan nie met mans uit nie. Ek sê altyd nee. Maar dié slag het hulle my aangepor. Hulle het gesê ek moet my seëninge tel, die ou is 'n dish. Toe stem ek maar in net dié een keer.”

Adam het haar fliek toe gevat om Jurassic Park te kyk.

“Dit was ’n wonderlike aand. Ek was verniet bang. Hy het nie eens aan my hand probeer vat nie en ek het baie respek vir hom gekry.”

Maar Erica het tog kleinkoppie getrek, en ’n maand lank het sy elke naweek verskonings gehad om nie met Adam uit te gaan nie. Maar hy het nie moed opgegee nie.

“Elke dag het hy vir my iets by die ouetehuis kom afgee. Meestal rose, maar ook sjokolade en twee kassette met liefdesliedjies op.”

Toe, eindelik, stem sy in om een Saterdagmiddag snoeker te gaan speel en sommer in die dorp rond te stap. Daardie aand het hy haar na sy ouerhuis geneem en aan sy ma voorgestel.

Ek was eers kwaad, maar toe stap ons by ’n juwelierswinkel in en hy sê ek moet ’n verloofring kies. Nes hy is, altyd vol verrassings en baie romanties . . .

“Van die begin af het hulle my soos een van die gesin laat voel, en veilig. Geleidelik het Adam my by sy lewe ingetrek en het ek besef ek is verlief, vir die eerste keer in my lewe.

“Dit was die eerste keer dat ek weer gevoel het ek kon iemand vertrou.”

Oor die jare het hul verhouding net gegroei, vertel Erica. "Dis asof ons spesiaal vir mekaar gemaak is. Ons hou van dieselfde soort flieks, soos rillers en sci-fi. Eintlik is ons op ons gelukkigste saam by die huis met ’n video of Monopoly."

Haar gesig straal wanneer sy praat van die lekker dinge wat hulle saam doen. As hy rekenaarspeletjies speel, vertel sy, sit sy langs hom en bou ’n legkaart. Daar in die hoek is nou weer een met ’n duisend stukke wat sy pas begin het.

“Dit help my om kalm te bly, my aandag af te lei.”

Sy vertel van die dag toe hulle verloof geraak het. Adam wou saam met ’n vriend oorsee gaan werk, en haar dan later laat kom.

“Dit het te onstabiel geklink, toe sê ek hy moet kies tussen my en oorsee. ’n Week later het ek nagdiens gewerk, en ek was nog vas aan die slaap toe hy my wakker maak en sê ons gaan dorp toe.

“Ek was eers kwaad, maar toe stap ons by ’n juwelierswinkel in en hy sê ek moet ’n verloofring kies. Nes hy is, altyd vol verrassings en baie romanties . . . ”

Dit was Erica se plan dat hulle Kaap toe trek en ’n rekenaarspeletjiewinkel open. Maar die winkel was nie ’n sukses nie, en sy het werk gekry as ’n private verpleegster. Adam het die bestuurder van Walter's Grill in Seepunt geword. Later was hy ’n kelner by Quay Four in die Waterfront.

“Met Nuwejaar het alles net so reg gevoel, en ek en Adam het besluit ons gaan probeer om met ’n gesin te begin. Ek droom nou al jare daarvan om met Adam te trou en kinders te hê," sê sy tussen die trane deur.

Dit was asof iemand ’n koue dolk in my rug steek, asof alles in my stol. Ek het gesê dis onmoontlik. Toe antwoord hy hulle het reeds ’n man in Mitchells Plain in hegtenis geneem wat alles beken het. Maar ek was steeds seker hy maak 'n fout.

Die dag toe die polisie op haar voorstoep beland het, het Erica onmiddellik gedink haar ma of sussie het iets oorgekom.

“ ’n Inspekteur het saam met my boontoe gegaan. Eers in die woonstel toe ons sit, het hy begin praat. Hy het gesê hulle verdink Adam van moord op die mans by Sizzlers.

“Dit was asof iemand ’n koue dolk in my rug steek, asof alles in my stol. Ek het gesê dis onmoontlik. Toe antwoord hy hulle het reeds ’n man in Mitchells Plain in hegtenis geneem wat alles beken het. Maar ek was steeds seker hy maak 'n fout.”

Erica was in Gauteng toe die moorde plaasgevind het. Die polisie wou weet of sy met haar terugkeer enigiets vreemd in die woonstel gekry het.

Ja, daar was ’n vreemde hemp, het sy onthou.

“Ek het Adam gevra wie s'n dit is. Dit was Trevor s'n, iemand wat hy van Walter's Grill se dae af geken het. Toe sê die polisie Trevor Theys is die ander verdagte,” vertel Erica.

Sy het steeds gedink dit moet 'n groot misverstand wees. Toe vra die polisie haar oor die wasgoedlyn oor haar bad. Dis dieselfde soort lyn wat die moordenaars gebruik het. Hulle wou weet waar die res is.

“Ek is baie ordelik en weet presies waar elke ding in die woonstel is. Ek het reguit na die gangkas gestap om dit uit te haal, maar dit was weg. Toe voel ek hoe my keel toetrek van angs . . .

“Hulle wou weet waar Adam werk. Ek het gesê Quay Four. Dis waar hulle hom kort daarna in hegtenis geneem het.”

Oor en oor het sy oor alles gedink, maar sy kan dit nie uitpluis nie, sê sy.

Pas nadat sy die nuus in Gauteng op televisie gesien het, het Adam haar gebel.

“Hy was net so geskok soos ek. Daarna het my my nog saans gevra wat in die koerante staan. Ek kan dit nie kleinkry dat hy verdink word nie.

“Ek was histeries toe ek weet hy sit in die tronk. Ek het sy ouers gebel en hulle is net so stomgeslaan.”

Maar ek het in daardie sagte omgee-oë van hom gekyk en weer gedink hy is net te goed om so iets te kon doen.

Die volgende dag het Erica gedink sy sal helderheid kry as sy Adam besoek.

“Ek wou vir hom sê dis mos ’n misverstand. Maar ek kon nie veel uitkry nie. Ons het albei gehuil.

“Ek het sy hand vasgehou en hy het gesê ek moenie bekommerd wees nie. Alles sal regkom.”

Sy ken hom soos ’n boek, vertel Erica. "Ons het nog nooit dinge vir mekaar weggesteek nie. Ek dink dis die eerste keer dat hy iets weet wat ek nie weet of selfs kan raai nie.

“Maar ek het in daardie sagte omgee-oë van hom gekyk en weer gedink hy is net te goed om so iets te kon doen.”

Tog is die koeël deur die kerk. Haar Adam word saam met Trevor aangekla, en sy mag hom net een keer per week in die gevangenis besoek. Hulle gesels maar oor koeitjies en kalfies, want hulle mag nie die saak bespreek nie.

Elke dag bel hy haar met sy telefoonkaart uit die tronk. “Ek kan nie wag vir daardie oproep nie. Dit dra my deur die dag. Hy sê hy het my lief en hy gaan nie lank daar wees nie.”

Erica gee toe, ja, as hy skuldig bevind word, word hy lewenslank toegesluit. Maar sy staan by hom. En hul vriende staan by haar, bel gereeld om te hoor hoe dit gaan. Selfs die veiligheidswagte by die woonstel wys hul besorgdheid wanner ons in- en uitgaan.

Ja, sy weet die ergste kan gebeur. Maar Adam is die man wat sy liefhet en altyd sal liefhê.

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Maandagaand 21:00 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Die Sizzlers-slagting

20 Januarie 2003

Blomme as huldeblyke aan die slagoffers van die Si
Blomme as huldeblyke aan die slagoffers van die Sizzlers-slagting. Foto: gallo Images/Sunday Times/Terry Shean

Omstreeks middernag het twee mans by die Sizzlers-masseersalon in Grahamweg 7, Seepunt, opgedaag. Hulle het vuurwapens, tou, ’n mes, kleeflint, chirurgiese handskoene, balaklavas en ’n petrolkan by hulle gehad.

Volgens getuienis wat in die Kaapse hooggeregshof aangehoor is, het die twee mans sokkies in hul 10 slagoffers se monde gestop voordat hulle dit met kleeflint toegebind het. Ten spyte van hul belofte dat niemand sou sterf nie, is die slagoffers vasgebind, keelaf gesny en geskiet voordat daar petrol op hulle uitgegooi is. Slegs een slagoffer het die slagting oorleef.

Die slagoffers

Aubrey Otgaar (Sizzlers-eienaar), Gregory Berghaus (kliënt) en masseurs Warren Visser, Sergio de Castro, Marius Meyer, Travis Reade, Timothy Boyd, Stephanus Fouché en Johan Meyer het daardie nag gesterf.

Quinton Taylor tydens sy eerste onderhoud op 4 Sep
Quinton Taylor tydens sy eerste onderhoud op 4 September 2013 in Kaapstad. Foto: Gallo Images / Foto24 / Liza van Deventer

Quinton Taylor is die enigste oorlewende van daardie gru-nag.

Skermgreep: change.org
Skermgreep: change.org

Een van die slagoffers se suster, Leigh Visser, het ’n aanlyn petisie van stapel gestuur om protes teen Adam Woest se potensiële parool aan te teken. Sy was 6 jaar oud toe haar broer deur Woest en Theys vermoor is.

Eugene Havemann, die minnaar van Sergio de Castro, het ook sy skok uitgespreek oor die moontlikheid van parool vir Woest. Sergio sou die een wees wat die deur vir Woest en Theys oopgemaak het. Eugene moes Sergio se lyk gaan uitken.

Omdat Sergio in die agterkop geskiet is, het die koeël by sy linkeroog uitgekom. Die trauma het daartoe gelei dat Eugene ná Sergio se dood verskeie kere gehospitaliseer moes word vir geestesgesondheidsprobleme.

Beskuldigde 1: Adam Roy Woest

Adam Woest verskuil sy gesig tydens sy verskyning
Adam Woest verskuil sy gesig tydens sy verskyning in die hooggeregshof in Kaapstad in Maart 2004. Foto: Gallo Images/Sunday Times/Terry Shean

Hy is in 2004 nege lewenslange vonnisse opgelê vir moorde met voorbedagte rade, 20 jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir roof. Hy het reeds die helfte van sy vonnis uitgedien en mag nou vir parool oorweeg word. Hy is nou 45 jaar oud.

In dieselfde jaar het Erica aan IOL gesê al wat verander het nadat sy van Gauteng teruggekeer het, was dat Adam gespanne was, sy haarstyl verander het en bril begin dra het. Oor gerugte dat Woest homofobies was, het sy genoem dat sy broer gay is en dat hy "niks teen hulle" gehad het nie.

Tydens die hofsaak het Woest impliseer dat sy vriend, Theys, die idee by hom laat posvat het om Sizzlers te beroof. Volgens hom was Theys die een wat met al die planne en vuurwapens na vore gekom het.

Hy beweer dat daar net R2 000 in die kluis was.

Beskuldigde 2: Trevor Bazil Theys

Trevor Theys bedek sy gesig terwyl hy die Kaapse h
Trevor Theys bedek sy gesig terwyl hy die hooggeregshof in Kaapstad in Maart 2004 verlaat. Foto: Gallo Images/Sunday Times/Terry Shean

Theys was ’n huurmotorbestuurder. Hy is saam met Woest nege lewenslange vonnisse opgelê vir moorde met voorbedagte rade, 20 jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir roof.

Hy het getuig dat Woest die een met die idee was om Sizzlers te beroof en dat Theys wapens in die hande moes kry.

“Ek het ’n 20-jarige meisie gehad, maar sy het my hart gebreek met ’n ander vrou. Ek wou haar terughê, maar kon nie.” Toe vat hy sy eie en sy broer se vuurwapens . . .

Volgens hom wou hy nie die slagoffers se kele afsny nie, maar Woest het hom ’n mes gegee en aangesê om dit te doen. “Adam was ’n groter man as ek. Ek het vir my eie lewe geveg, want Adam het gesê hy gaan van die los drade ontslae raak.” Hy het ook beweer dat hy vlak snye toegedien het sodat die slagoffers nie sou sterf nie.

Theys beweer hy en die slagoffers het met mekaar gesels, selfs gelag en grappies gemaak. Maar dat hy die helfte van die tyd nie geweet het wat hy doen nie omdat sy meisie hom te seer gemaak het.

In 2008 het hy aan ’n hartaanval gesterf.

Bronne: news24.com, change.org, iol.co.za, safliil.org

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees