Ware lewensdramas: Diep onder in die water skuil die dood

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Langs een van die diepste varswatergrotte het talle mense angstig gewag dat die ervare duiker Dave Shaw die liggaam van ’n ander duiker na die oppervlak bring. Vanaand in ‘Huisgenoot: Ware lewensdramas’ om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) herbesoek ons die tragedie toe daardie dag nie soos beplan uitgewerk het nie.
Duiktog na die dood – Tim Zimmerman, Huisgenoot 22 Desember 2005
Dave Shaw besluit om die lyk van ’n jong Suid-Afrikaner uit die Boesmansgat te gaan haal. Maar in die donker dieptes van dié varswatergrot loop dinge verskriklik skeef.
Huisgenoot, 22 Desember 2005
Huisgenoot, 22 Desember 2005

Die Dreyers wag senuagtig. Dis nou al langer as ’n uur sedert Dave se duik begin het en die polisieduikers moet volgens plan nou enige oomblik terugkeer met die lyk van hul seun Deon. Theo vou sy arms om Marie en saam staar hulle in die donker poel. Daar hang ook ’n gespanne stilte oor die groep.

Dan word dit verbreek deur die geratel van klippe in ’n plastiekbottel.

Die bottel is vasgemaak aan ’n tou wat 6 m in die gat af hang sodat duikers leie kan opstuur terwyl hulle onder die water vir dekompressie wag. Dis Mark Andrews en Dusan Stojakovic se lei en word vir Verna van Schaik gegee. Maar pleks van ‘‘een lig onder’’ te lees, verstaan sy dit sê ‘‘geen ligte onder’’.

Sy aanvaar Dave en Don Shirley is albei dood.

Deon Dreyer se ouers, Theo en Marie, tydens Dave S
Deon Dreyer se ouers, Theo en Marie, tydens Dave Shaw se duik. Foto: YouTube-skermgreep

Minute later breek die polisieduikers sonder ’n lyk deur die oppervlak. In ’n oogwink val alles uitmekaar. Ná dertig sekondes van geskokte stilte sê Verna kalm: ‘‘Reg, ons volg nou die noodplan.’’

Minder as twintig minute later volg nog ’n lei. Dis ’n boodskap van Don en is inderhaas gebring deur die volgende duiker wat hom bereik het.

‘‘Dave kom nie terug nie,’’ lees die boodskap.

Aan die agterkant is Don se nuwe dekompressie-profiel. Verna voel effens beter – een van die duikers leef nog – maar op die lei sien sy Don het baie diep geduik en loop die gevaar van borrelsiekte wanneer hy na die oppervlak terugkom.

Don met die beheermeganisme van sy duiktoerusting
Don met die beheermeganisme van sy duiktoerusting wat onder die geweldige druk gekraak het. Foto: Ritamarie du Plessis/Huisgenoot-argief

Vir die Dreyers is dit ’n tragiese halfuur. ’n Dag waarop hulle gehoop het hul seun se lyk teruggebring sou word, eindig nou met Dave en Deon albei op die bodem van die Boesmansgat.

Die Dreyers gaan hulpeloos terug na die plaashuis. Marie huil toe sy aan Dave se vrou en gesin dink. Sy gaan na Dave se kamer en sien sy klere, skoene, beursie en selfoon is netjies uitgepak.

‘‘Dis asof hy binnekort sal terugkom en dit weer gebruik,’’ dink sy.

Derek Hughes, ’n onderwaterkameraman wat saam met Gordon Hiles werk, verlaat ook die tragiese toneel. Dave, ’n Australiër wat in Hongkong gewoon het, het voor die duik vir hom gevra om Michael Vickers, die Shaws se predikant, te bel as daar probleme is.

Michael vra of hy seker is Dave kom nie terug nie. Derek wag nog twee uur lank voor hy weer teen die krater opklim om Michael ’n tweede keer te bel. Ja, hy is seker.

Dis seweuur die Saterdagaand in Hongkong en Ann Shaw en haar 21-jarige dogter, Lisa, is in die sitkamer. Die voordeurklokkie lui. Ann maak die deur oop en daar staan Michael en twee vriende van die kerk.

Toe sy die somber groepie sien, weet sy dadelik wat hulle gaan sê. Michael verduidelik Dave is vyf uur laat. Tog dink hy daar is nog ’n kans dat hy kan verskyn. ‘‘Nee, hy gaan nie,’’ sê Ann. ‘‘Nie as hy so lank al daar onder is nie.’’

Ann, ’n diep gelowige, wil graag glo daar is ’n hoër doel met wat gebeur het. Maar bowenal besef sy hoe ingrypend haar lewe verander het in die kort tyd sedert Michael die voordeurklokkie gelui het.

Sy het dertig jaar tevore die laaste keer so gevoel, toe sy as ’n negentienjarige bruid in die paadjie afgestap en Dave Shaw, toe twintig jaar oud, vir haar by die kansel gewag het.

By die Boesmansgat het Verna nie veel tyd om aan Dave te dink nie. Met vyf ander duikers in die water en net twee op die grond, moet sy haar aandag op Don toespits. Sy stuur Gerhard du Preez (31) in die watergat af om Don te soek en op pad seker te maak die ander duikers is nie in die moeilikheid nie.

Verna van Schaik, wat ’n rekord vir die diepste du
Verna van Schaik, wat ’n rekord vir die diepste duik deur ’n vrou in die Boesmansgat opgestel het, was in beheer van die reddingspan. Foto: Alex Tehrani/Huisgenoot-argief

Gerhard kry Don net onder die plafon van die grootste grotkamer, maak seker hy is reg en skiet dan dadelik terug na die oppervlak met die nuus. Don is weer alleen en durf die terugtog verder aan. Naby die plafon van die grotkamer, op amper 49 m, voel hy skielik duiselig.

Hy besef intuïtief hy moet sy rebreather uithaal en die oopkring-asemhalingstelsel gebruik, anders gaan hy sy bewussyn verloor. Die grot begin draai toe hy die reguleerder in sy mond druk. ’n Klein borrel helium het in sy linkerbinneoor gevorm en maak hom erg duiselig. Hy tol soos in ’n wasmasjien en verloor die duiktou uit die oog.

Sy lig is aan, maar al wat hy sien terwyl hy in die rondte tol, is swart, die plafon van die grot en dan weer swart. Skielik sien hy iets wits verbygaan – en dan weer. Dis die duiktou en sonder om te dink, steek hy sy hand uit en gryp daarna. Dit red sy lewe. Het hy misgevat, sou hy weggedryf het die donker in.

Op of af, dit maak nie regtig saak nie. Die diepte en borrelsiekte in die grot sou sy einde beteken het – Verna en haar duikers sou net ’n leë duiktou gekry het.

Die ‘‘wasmasjien’’ draai eindelik stadiger en Don kan die lesing op sy VR3-duikrekenaar se verligte skerm sien. Dit wys hy het opgekom tot op 43 m. Dit waarsku hom ook dat hy moet teruggaan tot op 46 m. Don sak hand oor hand al met die tou af.

By die nuwe diepte oorval naarheid hom en hy begin opbring. Elke keer dat hy die naarheid voel opstoot, haal hy die reguleerder uit sy mond, bring op en druk dit dan terug. Al is hy naar en duiselig, kry hy tog ’n paar ekstra gassilinders in die hande wat daar naby aan die duiktou vasgemaak is. Die gedagte dat hy kan sterf, kom nooit eens by hom op nie. ‘‘Ek gaan oorleef, ek gaan oorleef,’’ sê hy aanhoudend vir homself.

Ná sowat twintig minute verskyn Truwin Laas, ’n reserweduiker. Don skryf op sy lei: ‘‘Gaan sleg. Ek’s duiselig en naar.’’

Truwin maak seker Don asem die regte gasmengsel in vir daardie diepte, bevestig dat sy toestand stabiel is en skiet vinnig na die oppervlak om Verna op die hoogte te bring. Don is weer alleen. Hy vra homself die vrae: Waar moet ek nou wees? Hoe lank moet ek hier wees? Waarheen moet ek gaan?

Elke asemteug is ’n bewustelike keuse, maar elke keer moeiliker hoe moeër hy word. Suig, hou in, asem uit. Suig, hou in, asem uit. Ek gaan oorleef. Ek gaan oorleef.

Dis die begin van ’n marathonstryd.

Verna begin duikers om die beurt afstuur om Don by te staan. Hulle maak hom aan die duiktou vas ingeval hy sieker word of sy bewussyn verloor, en maak hom net los wanneer hulle van die een dekompressiepunt na die volgende beweeg. Elke beweging laat hom opbring.

‘‘Dit was hartverskeurend om te hoor,’’ sê Lo Vingerling en boots die geluid van Don se angstige asemhaling na.

Don het voor die duik vir die span gesê as iets gebeur, moet iemand vinnig en reguit die slegte nuus aan sy vrou, Andre, oordra. Ná ’n oproep word ’n lei na Don gebring. ‘‘BOODSKAP VAN ANDRE: LIEF VIR JOU,’’ en verder: ‘‘JY BETER VASBYT, OF . . .’’

Ná meer as tien uur in die water bereik Don eindelik ’n diepte van 6 m. Hy is uitgeput en is amper yskoud, maar bly amper twee uur lank daar vir dekompressie.

Foto: Petrus Roux/Huisgenoot-argief
Foto: Petrus Roux/Huisgenoot-argief

Die volgende sirkel van hel is op net 3 m en sal volgens die tabelle twee uur en twintig minute duur. Skielik voel Don ’n skerp pyn in sy linkerbeen, ’n teken dat die borrelsiekte vererger. Dit is tyd om dit bo die water te waag.

‘‘LINKERONDERBEEN SEER. TE MIN GEBRUIK?’’ skryf hy op ’n lei. Nie lank daarna nie verskyn ’n reserweduiker. ‘‘HIER OM JOU HUIS TOE TE VAT,’’ skryf hy. Don word uit die water gehaal. Hy was meer as twaalf en ’n halwe uur in die Boesmansgat.

Binne 22 minute is hy in die drukkamer. In die daaropvolgende paar dae gaan die meeste van die duikers huis toe, maar Peter Herbst bly agter om al die toue en gassilinders uit die watergat te haal. ’n Span polisieduikers help hom en die Woensdag hou hulle op die ingewing van die oomblik ’n gedenkdiens.

Peter wil eers niks sê nie, maar vind tog ’n paar woorde.

‘‘Ek gaan jou mis, ou maat,’’ sê hy asof David hom kan hoor. ‘‘Dis ’n goeie plek. Rus hier, bly hier.’’

Die groep sing Amazing Grace terwyl donker onweerswolke saampak. Toe duik Peter en sy vriend Petrus Roux in die gat in. Hulle duik tot op 91 m en maak dobbers aan die duiktou vas om die silinders op 152 m na ’n meer hanteerbare diepte te bring.

Terug op die oppervlak stap Gert Nel, ’n polisieduiker wat gehelp het om die toue uit die skag te haal, vinnig nader en vra sag: ‘‘Het julle hulle gesien?’’

‘‘Wat gesien?’’ vra Peter.

‘‘Die lyke,’’ sê Gert. ‘‘Ons het Dave en Deon gesien – hulle is op 20 m in die grot vasgekeer.’’

Deon het in 1994 in die Boesmansgat gesterf. Foto:
Deon het in 1994 in die Boesmansgat gesterf. Foto: Verskaf/Huisgenoot-argief

Peter rus ’n oomblik en is dan weer terug in die water. Hy is net deur die grotskag toe sy soeklig op Dave val. Hy dryf onheilspellend regop, sy arms uitgestrek en die agterkant van sy kop en skouers teen die plafon. Dave se lig hang onder hom met die duiktou wat hy in Oktober aan Deon vasgemaak het, daaraan vas.

Wiegend en amper perfek gebalanseer in die tou, hang Deon se onthoofde lyk met die bene wat afhang asof hy op ’n swaai sit. Peter besef Dave se lig het waarskynlik in die duiktou verstrengel geraak. Toe Peter en Petrus die een tou met die dobbers gelig het, het dit waarskynlik die ander tou saamgetrek – en daarmee saam Deon en Dave. Met die opgaan het die gasse Dave se lyk opgeblaas en hom hoër laat styg met Deon agterna.

Peter haal Deon eerste uit die water. Die polisiespan lê ’n wit lyksak op die grond uit en sit Deon daarin. Daar is ’n verbasende fermheid onder die duikpak, en die reuk van verrotte vleis. Een van Deon se voete, nog in ’n swempoot, val af. ’n Polisieman sit dit langs die lyk in ’n sak en trek die ritssluiter toe. Eindelik is Deon se lyk uit die Boesmansgat gehaal.

Kort voordat Dave Shaw op sy laaste duiktog vertre
Kort voordat Dave Shaw op sy laaste duiktog vertrek het. Foto: YouTube-skermgreep

Dave se lyk word volgende uitgehaal. Dis nie ’n maklike taak nie. Sy lyk is aaklig geswel en het in die vryvalposisie styf geword. Peter staan in die poel en moet Dave van sy toerusting lossny. Peter sny ook die kamera aan die helm los.

Gordon Hiles is verlig dat die kamerahouer nog heel is. Peter is totaal uitgeput en worstel teen ’n kloppende hoofpyn. Boonop moet hy nog vir Don Shirley en Ann Shaw bel. Maar die belangrikste is om te sien wat op die video is. Nie dat dit maklik is om iemand te sien sterf nie, veral as dit ’n vriend was.

Minder as ’n uur nadat die kamera van die helm verwyder is, kyk Peter na die video van Dave se laaste duik. Later bestudeer hy en Don die beelde raam vir raam, weer en weer om in die fynste besonderhede te verstaan hoe Dave gesterf het.

Peter Herbst. Foto: YouTube-skermgreep
Peter Herbst. Foto: YouTube-skermgreep

Die beeld is donker en dis soms moeilik om te sien wat aangaan. Maar saam met die klank van Dave se asemhaling, duidelik hoorbaar in die stilte van die grot, vertel die video van Dave se laaste oomblikke.

Dave is 12 minute, 22 sekondes onder die water en net langer as ’n minuut op die bodem toe hy by Deon se lyk kom. Hy trek die lyksak uit en probeer dit oor Deon se bene wikkel. Die beweging maak die water modderig en die beeld onduidelik. Die modder sak en die beeld wys Deon se kop het afgeval en die lyk dryf nou voor Dave.

Dis heeltemal onverwags.

Deon is toe nié net ’n geraamte nie en sit nie meer in die modder vas nie. Pleks van ontbind, het sy lyk soos ’n mummie geword met ’n seepagtige samestelling wat dit op een plek laat dryf. En om die een of ander rede – niemand kan verklaar hoekom nie – kom die lyk los uit die modder net toe Dave daaraan begin werk.

‘‘Ons het eenvoudig nooit aan die moontlikheid gedink dat die lyk kon loskom nie,’’ sug Don. ‘‘Die lyk was nie veronderstel om te dryf nie. Dis baie makliker om ’n sak oor ’n lyk te trek wat stil voor jou lê as een wat op 27 m dryf en rondbeweeg.’’

Dave begin sukkel en vir die eerste keer kreun hy hoorbaar van die inspanning. Peter, wat aandagtig met oorfone luister, hoor duidelik aan sy asemhaling Dave raak ál dieper in die moeilikheid.

‘‘Haal stadiger asem, man, haal stadiger asem,’’ sê hy hardop. Dis moeilik om te verstaan hoekom Dave nie net daar omgedraai het nie. In Oktober het hy dadelik na die oppervlak teruggekeer toe hy vinniger begin asemhaal het.

Nou begin hy hyg en Deon, vasgemaak aan die duiktou, dryf vry rond. Die lyk kon boontoe getrek word.

‘‘Die lyk móés in die sak gesit word, dit was al moontlikheid,’’ verduidelik Don. ‘‘Hy hou by die plan. En dis wat jy moet doen.’’

En tog kon Don die eerste keer toe hy na die video kyk, nie anders as om by Dave te pleit nie. ‘‘Los dit, los dit, los nou die lyk. Dis los en dit kan boontoe gebring word.’’ Maar Dave in sy bedwelmde toestand reageer op niks anders as sy vasbeslotenheid om sy taak klaar te maak nie.

Hy probeer steeds om die lyk te beheer en los sy soeklig sodat hy albei hande kan gebruik. Dave kry Deon nie in die sak nie, want sy lyk rol en draai die hele tyd voor hom. Dave is al twee minute lank besig en dit lyk of die duiktou oral in die pad is. Dit raak aan die soeklig verstrengel en Dave neem ’n oomblik om dit los te maak. Don en Peter kan hulself skaars inhou toe hulle sien wat gebeur. ’n Grotduiker laat nooit enige toerusting ronddryf nie.

‘‘Dit sal op ’n ramp afstuur,’’ sê Don, wat altyd spyt sal wees dat hy nie by was toe Dave vir Gordon gesê het hy sal die lig langs hom laat dryf as dit nodig is nie. ‘‘Moenie dit doen nie,’’ sou hy gewaarsku het.

Teen dié tyd lyk Dave verward. Sy bewegings is nie meer sinvol nie. Ná meer as twee en ’n halwe minute se werk en drie minute en 49 sekondes op die bodem haal Dave sy skêr uit, maar sukkel om dit oop te kry. Hy haal ál vinniger asem en kreun ál meer van die inspanning.

Huisgenoot, 22 Desember 2005
Huisgenoot, 22 Desember 2005

Don en Peter raai Dave se bedwelmde toestand is nou gelykstaande aan meer as ses of sewe martini’s. ‘‘Jy konsentreer op net een ding. Jy konsentreer nie meer op die duik nie,’’ sê Peter.

‘‘Daardie een ding neem alles oor. En ek dink vir Dave was dit die lyk, die lyk, die lyk.’’ Tog hou Dave die hele tyd op sy duikrekenaar die tyd dop. Ná vyf en ’n halwe minute is sy denke nog helder genoeg om te besef hy moet opgaan, maar hy vorder nie ver nie.

Die video wys hoe die bodem onder hom beweeg. Maar skielik beweeg hy nie meer vorentoe nie. Sy los soeklig het verstrengel geraak in die tou waaraan Deon se suurstoftenks vasgemaak is.

Dave besef hy het aan iets gehaak en draai met moeite om. Sy asemhaling klink nou desperaat. Hy trek aan die deurmekaar duiktou asof hy die knoop wil losmaak. Elke asemteug is nou ’n harde kreun. Dave stoei weer om vorentoe te gaan, maar Deon se lyk hou hom terug.

Die skêr is nog in sy hand, maar hy gebruik dit nie. Sy asemhaling raak ál meer gejaag en tragies hygend. Dit raak so erg dat Don en Peter die video sonder klank verder kyk.

Die duiktog in die Boesmansgat. Foto: YouTube-sker
Die duiktog in die Boesmansgat. Foto: YouTube-skermgreep

Altesaam 21 minute nadat Dave in die water verdwyn het, word die geluide ál sagter. Dave Shaw, sy longe gevul met
koolsuurgas, is besig om sy bewussyn te verloor. Hy is besig om te sterf. Dis hartverskeurend om daarna te kyk. ’n Minuut later is daar geen beweging meer nie.

Don het daardie dag oorleef, maar hy het nie ongedeerd daarvan afgekom nie. Hy is gedisoriënteer en kan skaars op sy voete staan toe hy by die Boesmansgat ná sewe uur uit die drukkamer kom wat gestel is soos op ’n diepte van 29 m. Hy is so swak dat Peter ’n matras van die polisiekamp af nader sleep sodat hy sommer op die plek kan slaap.

Don Shirley word op ’n draagbaar uit die Boesmansg
Don Shirley word op ’n draagbaar uit die Boesmansgat uitgelig. Foto: Derek Hughes/Huisgenoot-argief

Die volgende twee weke moet hy nog tien sessies in die drukkamer deurwerk – 27 uur se behandeling. Meer as ’n maand later eers kan hy helder dink en in ’n besige straat afstap sonder dat sy waarneming en balans deurmekaar raak.

‘‘Ek het ’n reuseskok gekry toe ek hom vir die eerste keer sien,’’ sê Andre Shirley. ‘‘Hy kon nie alleen loop en behoorlik dink nie. Dit het geklink of alles in die haak is, maar twee minute later het hy vergeet wat hy gesê het.’’

Don se toestand verbeter mettertyd, maar die borrelsiekte het blywende skade gelaat wat sy balans beïnvloed.

In Mei gaan duik hy weer vir die eerste keer met Peter Herbst byderhand om ’n ogie oor hom te hou. Hy maak sy oë toe, slaan bolmakiesie en besef verlig die Groot Duik het niks van sy grootste liefde weggeneem nie. ‘‘Ek lééf wanneer ek in ’n grot is,’’ sê Don.

’n Week ná Dave se dood wys Gordon Hiles vir Don die video. ‘‘Dit was moeilik om te kyk, maar ek wou eerstehands weet wat gebeur het,’’ sê hy. Later dieselfde dag neem Don die video hospitaal toe. Hy kyk weer daarna saam met Peter en dr. Frans Cronjé, wat Don behandel.

Don raak so meegevoer met die video voor hom dat hy Dave se asemhaling begin naboots.

Toe, ‘‘om self te sien wat gebeur’’, stem Don in tot ’n ongewone eksperiment. Met Frans byderhand sit Don met ’n koolsuurgasmonitor in sy mond en oorfone terwyl hy ’n laaste keer na die video kyk. Elke keer dat Dave asemhaal, doen Don dieselfde. Later worstel Don deur 36 vlak, vinnige asemteue per minuut.

‘‘Daar was beslis kwaai hiperventilasie,’’ sê Frans. ‘‘En met ’n rebreather op daardie diepte sou dit nie veel help nie.’’

Don se asemhaling het so onreëlmatig geraak dat hy op die punt was om sy bewussyn te verloor toe Dave se asemhaling by ses teue per minuut gekom en hy sy bewussyn verloor het.

Nuno Gomes is die laaste lewende mens wat tot op die bodem van die Boesmansgat geduik het en hy verstaan goed dat Dave met Deon se lyk gesukkel het toe dit skielik begin dryf, pleks van in die modder vasgeanker bly.

‘‘Jy dink nie skielik aan ’n nuwe plan wanneer jy daar onder is nie. Dit werk nie. Jou brein is benewel. Jy kan dit nie doen nie,’’ sê Nuno. ‘‘Ek dink nie die herwinning van Deon se lyk was ’n duiker se lewe werd nie.’’

Tog bring hy hulde aan Dave as ’n kameraad wat nie teruggekom het nie. ‘‘Dit was ’n eerbare, heldhaftige duik.’’

Waarskuwing: Video mag sensitiewe lesers ontstel

Nie een van die duikers wat saam met Dave in die Boesmansgat was, dink dit was ’n roekelose duik nie. Soos Mark Andrews, een van die ondersteuningsduikers, dit stel: ‘‘As jy my vooraf oor die duik uitgevra het, sou ek sê die kans op sukses is 99%, 1% dat hy die lyk daar sou moes los en geen kans dat Dave nie sou terugkom nie.’’

Tien dae nadat die Boesmansgat die lyke teruggegee het, sien Theo en Marie Dreyer vir die eerste keer weer hul seun. Marie weet nie wat om te verwag toe ’n assistent by die lykshuis wys hulle kan instap nie.

Toe sy ’n volledige liggaam van vlees voor haar sien, stop die trane en voel sy tevrede. Daar is nie ’n kop nie, maar voor haar lê haar seun. Theo is verbaas dat Deon se bene steeds hul atletiese vorm behou het. En Marie kan nie glo hy is steeds in sy Jockey-onderbroek nie.

‘‘Ons het hom gesien,’’ verduidelik sy, haar oë blink.

Die oomblik is groot toe sy nader stap om haar seun in haar arms te neem. Ann Shaw het gehoop die Boesmansgat sal haar man se laaste rusplek wees. Sy is erg ontsteld toe Peter haar bel om te sê hulle het haar man se lyk gekry.

Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar eindelik sê sy Dave se as moet gestrooi word in Suid-Afrika, die land waarvoor hy so lief geword het.

Ann woon en werk steeds in Hongkong. Nou en dan, wanneer sy hulp met haar rekenaar of in die kombuis nodig het, dink sy: ‘‘Hoekom het jy my dit aangedoen? Nou moet ek alles doen.’’

Maar sy voel nie kwaad nie – sy voel net die verlies. ‘‘Hy moes gaan duik en ek aanvaar dit. Ek was nie van plan om hom te verander of terug te hou nie.’’

Don het op sy rekenaar ’n foto van hom saam met Dave waar hulle uit ’n drukkamer loer.

‘‘Dave het gesterf op ’n ontdekkingstog toe hy iets probeer doen het wat hom na aan die hart gelê het. Vir my is dit beter as om in ’n motorongeluk te sterf.’’ Maar elke dag nog dink Don: ‘‘Ek moet Dave hiervan vertel.’’ Net om te besef hy kan nie.

Dave is nie ver weg nie. Op ’n pragtige dag in Mei neem Don en Andre ’n bottel wyn en ’n klein houtkassie na die bopunt van ’n berg naby hul huis. Onder hulle strek die grasvelde van Mpumalanga tot op die horison voor hulle uit terwyl die Komatirivier in die goue gloed blink. Langs ’n wildevy drink hulle in stilte ’n heildronk.

Terwyl die son sak, maak hulle die kassie oop en gooi Dave se as in die lug. Daar hang dit vir ’n oomblik, die wolk van ’n man. En dan neem die grond van Afrika dit in besit.

GEBRUIK MET TOESTEMMING VAN OUTSIDE MAGAZINE. © 2005, MARIAH MEDIA INC.
  • Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandagaande om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees