Ware lewensdramas: Glenda Kemp, SA se slangdanseres nou ‘vroom vrou’

akkreditasie
Van die verhoog af was sy skugter, maar op die verhoog het Glenda en haar wriemelende luislang Oupa landwyd opslae gemaak. Vanaand in “Huisgenoot: Ware lewensdramas” om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) word meer vertel oor die paaie wat die land se slangdanseres sedert die 1970’s geloop het.
So wulps – sjoe, was dit ék? – Gabisile Ngcobo, Huisgenoot 1 Desember 2016
Die ou Glenda Kemp is lankal begrawe, sê SA se slangdanseres van die 1970’s; deesdae lei sy ’n lewe vol goeie dade in diens van God.
Die gewese slangdanseres Glenda Kemp leef nou vroo
Die gewese slangdanseres Glenda Kemp leef nou vroom saam met haar tweede man, Peter Harper. Foto: Gerhard de Bruin/Silverzone Images

Oral teen die mure sien ’n mens Bybelversies en gebede – van die kombuis tot in die studeerkamer. Hier woon ’n vroom vrou.

Elke Dinsdagoggend neem sy drie vroue wat nie motors het nie om inkopies te doen; Donderdae is dit Bybelstudie. Dan doen sy ook haar vier loseerders se wasgoed gratis. In haar vrye tyd preek sy soms vir haweloses wat in ’n nabygele bos woon.

Sy het verlede jaar haar verjaardag saam met hulle gevier. “Een het gesê hy sou sy eie lewe geneem het, maar het daarteen besluit omdat ek hom ’n Bybel gegee het,” vertel sy met oë wat blink.

Maar as jy meer omtrent haar godvresende bedrywighede wil lees, moet jy liefs nie Glenda Kemp se naam google nie. Een van die eerste foto’s van haar wat op die internet opduik, is van ’n wulpse jong vrou met niks behalwe ’n piepklein broekie aan nie en met ’n reusagtige luislang om haar skouer gedraai.

Ja, dié diep gelowige vrou was op haar dag Suid-Afrika se beroemdste erotiese danseres, die vrou wat net plakkertjies op haar borste gedra het wanneer sy gehore vermaak het saam met Oupa, haar wriemelende luislang.

In die 1970’s het al wat ’n polisie-eenheid was, bontgestaan om haar onwettige dansvertonings te probeer keer. Dit was ’n spektakel elke keer dat sy op aanklag van openbare onsedelikheid in die hof moes verskyn.

Maar vandag sit Glenda (67) op ’n rusbank in haar verdiepinghuis op Durbanse Bluff en vertel dis hier waar sy en haar tweede man, Peter Harper (72), graag saam Christelike televisieprogramme kyk. Wanneer sy deesdae haar mond oopmaak, is dit amper altyd om oor geloofsake te praat.

Glenda en haar hond wandel graag op Durban se stra
Glenda en haar hond wandel graag op Durban se strande. Hy heet Easter, want vra mense haar daaroor uit, kan sy hulle van die Paasverhaal vertel, skerts Glenda. Foto: Gerhard de Bruin/Silverzone Images

Sy vertel sy het onlangs toevallig op ’n internetskakel geklik wat ’n foto van ’n kaal vrou laat opduik het. “Toe dink ek: Is dit wat ek gedoen het?

“Ek het altyd gesê: Alles is in die haak solank jy niemand seermaak nie. Ek het gedink die ou tannies en kerke wat gekla het, is net laf en outyds. Maar ek dink nie meer so nie . . .”

Glenda was ’n onderwysstudent toe sy op 23 die eerste keer na ’n klub in Hillbrow naby Johannesburg se middestad gaan. Sy onthou hoe lekker sy gedans en hoeveel aandag sy gekry het.

“Ek was mal oor die vryheid wat daardie meisies gehad het.”

In haar gloriedae toe sy saam met die luislang Oup
In haar gloriedae toe sy saam met die luislang Oupa opgetree het. Foto: Skermgreep

Sy het daarna ’n werk as ’n “go-go girl” by die klub gekry. “Ek dink nie ek het soseer ’n mooi lyf gehad nie, maar ek het mooi gedans.”

As gevolg van ’n sameloop van omstandighede was sy kort voor lank ’n ontkleedanseres wat rampartye landwyd opgekikker het.

In haar dansloopbaan het niemand haar ooit seergemaak nie.

“Wanneer ek nou terugkyk, wonder ek: Hoe het ek dit oorleef? Ek glo vas ’n engel het langs my gesit.”

Glenda is eintlik skugter. “Maar op die verhoog was ek nie skaam nie.”

Sy wil nie vinger wys nie, maar glo haar onstuimige grootwordjare het dalk ’n rol in van haar lewenskeuses gespeel. Sy was klein toe haar ouers skei en haar ma weer trou. Haar ouer broer en susters is na ’n kinderhuis gestuur, maar sy het by haar ma en stiefpa gewoon.

Haar stiefpa het haar mishandel. Glenda het later self in ’n kinderhuis beland tot pleegouers haar ingeneem het.

“Daar moet ’n sielkundige rede wees waarom ek gedoen het wat ek gedoen het. ’n Mens wil aanvaar word, jy wil iemand hê wat jou liefhet en jy wil voel jy is iemand. Dis nie ’n verskoning nie; ons almal maak keuses. Maar my hoofvak was drama; ek kon ’n aktrise gewees het. Hoekom moes ek my klere uittrek?”

In haar gloriedae toe sy saam met die luislang Oup
In haar gloriedae toe sy saam met die luislang Oupa opgetree het. Foto: Skermgreep

Tog was daar ervarings wat haar lewe verbreed het. Met al die geld wat sy verdien het, het sy die huis gekoop waarin sy vandag nog woon. Haar talent het haar oorsee geneem, waar sy ’n paar jaar in Amerika en Londen opgetree het.

Sy het Oupa in Londen agtergelaat toe sy die laaste keer na Suid-Afrika terugkeer.

Glenda sê sy weet nie wat eindelik van die slang geword het nie, maar talle danseresse oorsee wou hom baie graag aanneem.

Soos dit maar gaan, het sy te oud begin word om te dans. Sy het gou uit die kollig verdwyn nadat sy ’n skrootmetaalonderneming in Johannesburg oopgemaak en getrou het met haar kêrel, Karl Koczwara.

Ná haar egskeiding jare later het sy en haar dogter, Kim (34), op die Bluff kom woon, in dieselfde omgewing as haar biologiese ma.

Toe Kim 13 word, het Glenda ontstellende tekens begin opmerk dat haar dogter ook ’n ongure lewenspaadjie kon inslaan.

“Sy het deurmekaargeraak met mense wat dwelms verkoop het.”

Net God kan haar gesin help, het Glenda besluit. Sy het kerk toe begin gaan en dinge in haar huishouding het omgeswaai, vertel sy. Vandag is sy trots op haar dogter wat as spraakterapeut in Londen werk.

Dis ook hier op die Bluff dat sy 20 jaar gelede die liefde van haar lewe ontmoet het. Peter het gehoor dat Glenda ’n losieshuis bedryf en as loseerder by haar ingetrek. Hulle het verlief geraak en drie jaar later afgehaak.

“Jy kan ons nie van mekaar skei nie; ons is so geheg aan mekaar,” sê Peter terwyl die twee handjies vashou. “Sy is ’n wonderlike vrou.”

Dit skeel Peter min dat sy vrou Suid-Afrika se berugte slangdanseres was. “Ek’s lief vir alles omtrent haar: hoe sy loop, praat . . . Ons het lang gesprekke en lees die Bybel.”

Maar nie almal is so oopkop soos Peter nie. Glenda weet nadat jy eers jou reputasie verloor het, kry jy dit nie terug nie.

“Ek weet sommige mense by die kerk kyk my aan asof ek nie klere aanhet nie.”

Sy gaan lewenslank dié soort reaksie kry, besef Glenda. Sy werk deesdae met minderjariges en weens haar verlede is daar soms nog twyfel oor haar – die kerk het byvoorbeeld heelwat vrae oor haar verlede gehad toe sy begin Sondagskool hou.

“Dit pla my nie, want daardie ou Glenda bestaan nie meer nie.”

Iets waaroor sy wel nog skaam kry, is haar kaaltonele in Snake Dancer, ’n fliek deur Dirk de Villiers waarin sy haar lewensverhaal vertel. Elke keer dat dié  fliek op die TV uitgesaai word, wens sy sy kan in elke huis landwyd insluip en die afstandbeheerder wegsteek.

“Al wat ek kan sê, is dat God ’n mens se lewe in iets moois kan omskep, maar ek sou geen jong meisie aanraai om te doen wat ek gedoen het nie.”

Sy het landwyd en oorsee ’n sensasie veroorsaak en
Sy het landwyd en oorsee ’n sensasie veroorsaak en selfs ’n gewaagde fliek uitgereik. Foto: Verskaf

Sy droom daarvan om na elke dorp te gaan waar sy “aangejaag het” en te preek oor wat Jesus vir haar gedoen het. Maar haar lewe is te vol om haar heeldag te verknies oor die vrou wat sy eens was.

“Ek dans nou op Bybelstories saam met die kinders.”

Sy versprei die evangelie onder meer met behulp van haar blog, waarop sy verhale oor God se liefde deel, vertel sy met ’n glimlag.

“Mense soek ‘Glenda Kemp’ aanlyn sodat hulle pornografie kan kyk – en dan kom hulle by Jesus uit.”

Meer oor Glenda

Glenda in haar gloriedae saam met Oupa. Foto: Gall
Glenda in haar gloriedae saam met Oupa. Foto: Gallo Images/Die Burger/Jacques Bosch

Sy is op 13 Maart 1949 gebore.

Ironies genoeg het Glenda van diere gehou, maar nooit van slange nie. “My broer Dale het as 'n stokperdjie slange begin aanhou as troeteldiere en dis hoe ek hulle teëgekom het. Ek het eintlik nooit van slange gehou nie. Jy kan nie ’n verhouding met ’n slang hê nie.”

Oupa het in die prentjie gekom omdat sy iets wou doen om haar toeskouers te skok, maar ook om hul belangstelling te prikkel.

Haar pad met Oupa het tot ’n einde gekom toe Paul Raymond van Raymond's Revue Bar in Soho, Londen, Glenda se optrede wou hê, maar sonder die slang. “As jy ’n goeie danseres is, het jy nie slange nodig nie. Wys vir ons wat jy sonder hulle kan doen,” is glo aan haar gesê.

“Ek was nie wreed nie, die verhouding tussen my en die slang was bloot ’n besigheidsooreenkoms waar hy ’n logo was en niks meer nie. Ek was gelukkig om die opvatting dat ’n slang my pad na roem was, uit die weg te ruim. Ek hét ’n vertoning gehad, jy weet.”

Alhoewel Glenda in die Kaap grootgeword het, is haar twee ouer boeties na ’n kinderhuis in Potchefstroom gestuur.

“Tannie en Oom” Baumbach van die klein dorpie in die Noordwes, Swartruggens, het haar aangeneem nadat sy ook in ’n kinderhuis beland het. Toe sy in 1969 by die Potchefstrooomse onderwyskollege aangesluit het, het sy haar liefde vir dans ontdek.

“Niks anders het saak gemaak terwyl ek gedans het nie. Ek het geleef vir die musiek en die woorde en wou dit deel met elkeen wat na my gekyk het.”

Sy is daarna na die Goudstad-onderwyskollege waar sy by “go-go”-dansklubs opgetree het. (Go-go-danse het in die vroeë 1960's die lig gesien by ’n Franse kroeg Whisky a Gogo waar dansers aangestel was om die gaste te vermaak. Dit was in die tye van minirompe en kniehoë-stewels en die dansers het ooreenkomstig aangetrek.)

Haar eerste man, Karl Koczwara, is op 28 Junie 2019 in sy huis in Sydenham, Johannesburg, met ’n hamer doodgeslaan. Hulle het by die President Hotel in Johannesburg ontmoet toe sy 'n 22-jarige onderwysstudent was en ’n geleentheid terug na haar koshuis gesoek het. Hy was haar eerste liefde en hulle het in 1982 getrou. In 1991 het hul huwelik op die rotse beland.

Bronne: timeslive.co.za, ridgetimes.co.za, glendakemp.wordpress.com, netwerk24.com, prabook.com

  • Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandae om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Maandagaand 4 Julie is die laaste uitsending van die sewende reeks van hierdie program.
Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees