Ware lewensdramas: HG onthou Careltjie, die ‘reus’ wat nie die skaal kon klop

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
In 1986 het 'Huisgenoot' die eerste keer oor Careltjie van Aswegen berig. Om die hart van 'n meisie te wen, het hy tóé reeds 88 kg van sy 221 kg afgeskud. Vanaand in 'Huisgenoot: Ware Lewensdramas' om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) stap ons weer die pad met Careltjie en die wipplankstryd met sy gewig.
UIT DIE ARGIEF: HG onthou klein Careltjie, die ‘reus’ – Verslagspan, HG.com 15 November 2018
In 2013 het die land gegons oor die bisarre ‘Jesus-moord’ in Paarl-Oos, die Protea-krieketspeler Justin Kemp was 'Huisgenoot' se ster van die week, maar die man wat die tonge die meeste laat klap het, was ‘‘klein Careltjie’’ van Dealesville . . .

Careltjie van Aswegen het reeds in 1986 die eerste keer landwyd die nuus gehaal toe die Vrystater van Dealesville nie meer homself op ’n gewone skaal kon weeg nie.

In 1991 verskyn hy vir die eerste keer in Huisgenoot en word hy die Reus van Dealesville genoem.

Toe Huisgenoot in April 2000 by hom (toe 39) en ma Duif gaan kuier het, was dit duidelik: dieselfde man wat ses jaar vantevore met poeiertjies en dinge ’n allemintige 103 kg verloor het en die skaal by 143 kg laat draai het, is lank reeds iets van die verlede.

Dis net ’n industriële skaal by die plaaslike koöperasie waarmee hy nou homself kan meet, want Careltjie het die skaal nou op 300 kg laat kreun.

Careltjie toe Huisgenoot in April 2000 gaan inloer
Careltjie toe 'Huisgenoot' in April 2000 gaan inloer het. Foto: John Liebenberg

“Krummelpap is my dood,” het hy destyds gebieg. Maar as jy luister na wat Careltjie alles op ’n dag kon verorber, was die krummelpap maar net die spreekwoordelike oortjies van die seekoei.

Saam met die pap het hy gewoonlik vier eiers en wors as ontbyt geniet. Middae ’n bord kos wat hy self behoorlik vol geskep het en saans drie tot vier snye brood. En ’n eier of so . . .

Tog bly Careltjie vasbeslote om weer gewig te verloor en sy vriend Louis Badenhorst se speenkallertjie-skaal was glo net die ding om homself op te laat weeg op die pad vorentoe.

Pap en kaiings — wat ’n sware las! Deur Kirby van der Merwe (Huisgenoot, 17 November 2005)
Careltjie het die skaal se naald op 335 kg laat be
Careltjie het die skaal se naald op 335 kg laat bewe.

Hy’s nou groter, vetter en swaarder as ooit tevore. Op sy vetste het Careltjie van Aswegen Dealesville se koöperasieskaal onder sy 300 kg laat kreun.

Vandag weeg hy 335 kg.

Die wipplankdieetstorie van Carel van Aswegen het pas ’n nuwe hoofstuk bygekry, en dis ’n hartseer een.

Die man saam met wie Suid-Afrika al ’n lang pad kom in sy voortdurende stryd teen die vet, pak nou die grootste verloorstryd van sy lewe.

Dis nie die eerste keer nie. Ook nie die tweede nie.

Destyds op 300 kg het hy met groot wilskrag, ’n streng dieet en baie ondersteuning die rolle merkwaardig afgeskud. Op 107 kg was Careltjie gereed om, by wyse van spreke, ’n voller lewe aan te pak.

Careltjie en Dalikie, Julie 2004. Foto: Huisgenoot
Careltjie en Dalikie, Julie 2004. Foto: Huisgenoot-argief

Hy het toe ook: Verlede jaar het hy Dalikie Segona van Botswana ná ’n blitsromanse die jawoord gevra en die tweetjies het terstond afgehaak.

Sy mikpunt was toe 105 kg teen verlede Desember.

Maar intussen is Dalikie vort en die vet terug, en ’n mismoedige Carel sit vanoggend alleen op sy voorstoep van waar hy dikteer hoe dinge op die werf gedoen moet word.

Dié tyd op ’n weekoggend is Dealesville doodstil. Hier op Careltjie en ma Duif se werf is dit rustig saam met die kalkoene, eende, ganse en hoenders.

'n Drom vir 'n stoel

Mishak Siseke, Careltjie se hansie-my-kneg, lei die tuin nat.

‘‘My bene is ve’more lelik geswel,’’ sê Careltjie en wys: ‘‘Kyk hoe lyk hulle. Ek kon nie eens ve’more my skoene aankry nie.’’

Hy sit op ’n drom, want niks anders sal sy gewig dra nie. Sy hande rus op die rugleuning van ’n blou draadstoel wat hy voor hom staangemaak het, so asof hy sy groot lyf daaragter wil versteek.

‘‘Ek was 340 kg,’’ sê hy.

‘‘Maar nou’s ek weer hard besig om te dieet. Van voor af. Skryf daar, ek is nou al klaar vyf af.’’

Careltjie is maar ’n weerbarstige ou, sê hulle, maar ons waag dit darem: Is Dalikie se weggaan die rede waarom hy hom weer begin ooreet het?

Hy wil-wil hom vererg, maar nadat hy ’n sigaret uit die blou pakkie gevroetel en eers ’n trek gevat het, sê hy bars: ‘‘Ja, ja, ja. Dinge het my gepla en toe begin ek eet.’’

’n Lang stilte en ’n indringende kyk van sy blou oë: ‘‘Hoe meer jy eet, hoe meer wil jy eet.’’

Maar hy voel ve’more nie goed nie, sê hy.

‘‘Gesondheidsprobleme, man.’’ Dis die grootste nadeel van die gewig.

Nee wat, ek sit nou maar en hoop om maer te word.

‘‘Jou niere gee moeilikheid. Jou lewer, jou longe gee moeilikheid. Als gee moeilikheid.

‘‘Vet,’’ sê hy met nadruk, ‘‘vet is die oorsaak van als. Jy sukkel om by die toilet uit te kom. Jy kan nie in ’n kar kom nie.’’

As hy nie in ’n kar kan kom nie, hoe beweeg hy rond?

‘‘Nee wat, ek sit nou maar en hoop om maer te word.’’

En hier by die huis en op die werf rond?

‘‘Mishak!’’ skree hy tuin se kant toe. So gou soos nou is Mishak Siseke op die stoep.

‘‘Die mannetjie help my baie,’’ sê Careltjie trots. ‘‘Hy’s my regterhand. Hy gaan saam met my stap as ek weer maer is.’’

Mishak lag net.

'Die mannetje help my baie,' sê Careltjie trots. 'Hy’s my regterhand.'

Careltjie: ‘‘Mishak, loop kyk daar in die kas. Bring een van daai klein langbroekies lat ek vir die mense kan wys hoe maer ek was.’’

Intussen vertel hy hoe swak hy die laaste tyd was.

‘‘Ek was swak gewees, man. Swak. Ek het een môre afdak toe gestap en toe kon ek nie weer uitkom nie, want ek kon nie loop nie. Toe dra hulle my bed afdak toe en toe slaap ek twee weke net daar onder die afdak.’’

Die kitsdiëte is die dinges in die drinkwater, verduidelik hy.

‘‘Dit help nie jy gebruik daai goed nie, jy moet net reg eet. Sodra jy daai ding los, dan tel jy weer net so vinnig op. Jy’s so uitgehonger as jy daai dieet los dat jy sommer enige lekker ding eet.’’

Vandat Caretjie die eerste keer in die nuus was, het sy gewig behoorlik wipplank gery soos dié klompie foto’s bewys. Net drie jaar gelede nog, in 2002, was hy net effens swaarder as ’n rietskrale 100 kg.

Maar hoe op dees aarde sit ’n mens soveel gewig aan?

Careltjie oorweeg eers die vraag. Met ’n onnutsige laggie tik hy dan op sy vingers af: ‘‘Skelm eet! Lekkernye! Pap! Ek vrek oor pap.

‘‘Mieliemeelpap met kaiings! Of pap en wors. En rys en aartappels. En brood ook. Ek eet sommer maklik 10, 12 snye brood op ’n dag.

‘‘Gaskoeldrank, daai is gif, dis gif. Nee, ek het minstens twee liter op ’n dag gedrink.’’

Vir oorgewig mense het hy ’n boodskap: ‘‘Jy moenie die verskoning maak dat vet in jou familie is nie. As jy vet is, is dit van die soort kos wat jy in jou keel afdruk.’’

Om maer te word, volg dié raad: ‘‘Jy moet jou brood los, jou pap, jou suiker, jou rys en jou aartappels. En jou pasta. Jy moet dit los.’’

Hy volg nou weer ernstig ’n dieet. Soggens is dit twee van sy eie henne se eiers, gaargemaak met tamatie, vertel hy.

‘‘In die marrag eet ek ’n bietjie vleis met tamatie en vanaand eet ek weer twee eiers en tamatie.’’

Sy mikpunt is om sy gewig tot 150 kg af te bring.

‘‘Ek wil net tot op 150 kom,’’ sê hy. ‘‘Dan pas my klere my weer. Mei-maand kan julle kom, dan is ek reg.’’

Wil hy dalk weer ’n nuwe liefde op die lyf loop?

‘‘Nee, ek sal kyk as ek weer maer word.’’

Mishak bring ’n broek.

‘‘Bring ’n kleintjie, ’n kleiner ene,’’ beveel Careltjie.

Mishak draf terug met ’n merkbaar kleiner broek. Hy’t gedink Careltjie soek een om aan te trek.

Hy is deesdae ’n ander mens, vertel Careltjie. Hy wil iets sê vir die mense wat al die jare vir hom gebid en gehelp het.

'Moenie die Here eenkant gooi nie'

In November 2002 was Careltjie byna rietskraal. Fo
In November 2002 was Careltjie byna rietskraal. Foto: Huisgenoot-argief

‘‘Sê vir hulle ek het die Here gevind.’’

Careltjie se blou oë begin swem.

‘‘Ek het die Here vergeet toe ek maer was,’’ sê hy.

‘‘Toe was dit lekker lewe en jol en goed en tekere gaan. Kyk hoe straf Hy nou vir my vir al die dinge wat ek aangevang het.

‘‘’n Ou moenie die Here los as jy maer geword het nie, jy moet nooit die Here eenkant gooi nie.’’

Hy bars in trane uit. Sy groot lyf ruk van die snikke.

‘‘Sê vir hulle ek sukkel. Ek het vet geword soos ’n vark. Vark is nie die woord nie. Ek het mense seergemaak en hartseer gemaak.’’

Ja, skryf dit net so, sê hy met ’n stem wat breek: ‘‘Ek het die mense hartseer gemaak en my hart is seer.’’

‘‘Mishak, loop draai toe die kraan!’’ skree hy tussen die trane deur. Hy het sy biltongstalletjie toegemaak. Hy spekuleer ook nie meer met vee nie.

‘‘Ek was soggens vyfuur al op pad om beeste, skape en varke te gaan koop. Saans sesuur was ek eers terug,’’ vertel hy van agter die kombuistafel waar hy sy sit op ’n blou drom gekry het.

‘‘Dan spring ek in die dam. Nou kan ek nie eens by die dam kom nie.

‘‘Ek sit nou maar en wag op die dood,’’ sê hy met ’n ongemaklike laggie.

Carel van Aswegen

Carel was in 1991 die baas van twee plase en hy het ma Duif destyds as die “bantamhennetjie wat ’n té groot eier gelê het”, beskryf.

Vyftien jaar later gaan kuier Huisgenoot vir oulaas op Dealesville om met Duif te gesels. Sy is die een wat alleen agtergebly het en haar stem is hees van verdriet . . .

Die Reus van Dealesville het ’n maand na Huisgenoot se kuier, die dag ná Kersfees 2005 gesterf. Hy was 45 jaar oud.

  • Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandagaande om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees