“Dit is ’n groot verlies. Hy was ’n groot man met ’n baie klein hartjie,” sê sy vrou, Annette.
Die voormalige swaargewigbokskampioen het in 2013 ’n beroerte gehad en daarna drie hartaanvalle.
“Jimmy het verskriklik gesukkel met sy gesondheid. Hy het onlangs geval en sy knieë ook baie seergemaak. Hy het regtig die afgelope ruk baie gesukkel en is nou verlos van sy pyn,” sê Annette.
Jimmy, ’n diabeet, is weens hartversaking in sy bed dood.
“Hy het rustig in sy eie bed gesterf. Ek het sy hand vasgehou tot hy sy laaste asem uitgeblaas het,” sê ’n hartseer Annette.
Jimmy het in die 1970’s en 1980’s naam gemaak as Suid-Afrika se jongste swaargewigbokskampioen. Hy was veral bekend vir sy bokswedstryd teen Jeff Ellis in 1978 en toe hy Kallie Knoetze by die Ellis Park-tennisstadion geklop het.
Annette sê sy sal haar man onthou as ’n vrygewige en vreugdevolle mens.
“Jimmy het nog altyd net die mooi in almal gesien. Oral waar ons gegaan het, het hy vir mense gebid. Of dit nou in die winkel was of sommer net op straat. Hy wou hê almal moet hul plekkie in die son hê.”
Jimmy het onlangs weer opnuut in kykers se harte ingekruip met sy deelname aan die vyfde seisoen van die kykNET-reeks Slank.
Hierdie program leer sy deelnemers aan die hand van talle kenners om nie net gewig te verloor nie, maar ook hoe om ’n gesonder leefstyl vol te hou.
In die jongste episode het kykers gesien hoe Jimmy vir die eerste keer in jare weer op die gholfbaan kom.
“Kyk, as daar nou een van ons deelnemers is wat hierdie nuwe leefstyl met albei hande aangegryp het, is dit Jimmy,” vertel die program se aanbieder, Leandie du Randt, trots in die episode.
Loren Greyling, ’n vervaardiger van die reeks, vertel ook Jimmy het die Slank-reis met oorgawe aangepak.
“Jimmy het nou al ’n paar hartaanvalle en ’n beroerte gehad, en ten spyte van alles wat met hom gebeur het, het hy nog steeds besluit om hierdie geleentheid aan te gryp,” sê Loren.
“Dit laat ’n mens net weer eens besef: Die lewe is kort en tyd is kosbaar en ’n mens moet elke sekonde koester. En dit is wat Jimmy gedoen het,” sê sy.
Die slotepisode van dié seisoen van Slank word op Sondag 28 Maart om 17:30 uitgesaai en is al sowat twee maande gelede verfilm.
“Jimmy was die soort deelnemer wat elkeen van die Slank-span se lewe op die een of ander manier diep geraak het,” vertel die vervaardigingspan.
“Sy positiewe uitkyk op die lewe, ten spyte daarvan dat hy self deur diep waters gegaan het, was vir elkeen van ons ’n aansporing,” sê hulle.
Jimmy het aan die begin van die seisoen 190 kg geweeg en teen die einde van die seisoen 25 kg afgeskud.
“Jimmy was vasbeslote om gewig te verloor en gesond te lewe,” sê Annette. “Ek was baie trots op sy uithouvermoë. Ek gaan hom verskriklik baie mis.”
- Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandagaande om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.