book-icon Uitgawe 9 September 2021

Ware lewensdramas: Sprokiesontmoeting ná 46 jaar eindig in tragedie

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
As tieners het hulle hul eerste soen met mekaar gedeel. Maar toe loop hulle paadjies in verskillende rigtings. Vanaand om 21:00 op Huisgenoot: Ware lewensdramas op VIA (DStv-kanaal 147) word die tragiese einde van Michael Zantow en Annie Liebenberg se sprokiesverhaal herbesoek

Sasol-moord: Die tragiese einde van skoolliefde – 46 jaar later – Cyril Blackburn, Huisgenoot 9 September 2021

’n Paartjie van Sasolburg het hul liefde ­hernu 46 jaar nadat hulle as hoërskool­liefdes uitmekaar is – en net toe die sprokie ­eindelik kon begin, is albei wreed vermoor.
Annie Liebenberg en Michael Zantow is in die moois
Annie Liebenberg en Michael Zantow is in die mooiste hoofstuk van hul lewe vermoor. Foto: Verskaf

As verliefde tieners het hulle hul eerste soen gedeel voor die lewe hulle alte gou weer van mekaar geskei het.

Maar toe hulle mekaar verlede jaar ná vier onstuimige dekades opspoor, was dit weer ware liefde.

Michael Zantow (65) en Annie Liebenberg (63) het albei mislukte huwelike en moeilike, eensame jare agter hulle gehad toe hulle 46 jaar ná daardie eerste on­­skuldige soen herenig is.

Ook hul onder­skeie families was in die wolke om hul onthalwe.

Hierdie keer sou net die dood hulle skei – maar op ’n onverwagte, wrede manier wat hul geliefdes verpletter gelaat het. Al troos is dat hulle kortstondig weer saam gelukkig was.

Annie se dogter Maryke Liebenberg (37) huil onbedaarlik terwyl sy oor haar ma en Michael se herontmoeting praat.

Dit was asof geen tyd tussen hulle verby is nie. Michael was gek oor haar en sy het gestraal. Dit was soos iets uit ’n fliek.

“Dit was poëties, soos ’n soort storieboekliefde.”

Dit was Annie wat op Facebook kontak gemaak het met familie van Michael – en hy het dadelik op haar boodskap gereageer en erken dat hy nog al die jare wonder wat van sy tienerliefde geword het.

“Sy was dolverlief,” onthou Maryke daardie dag, einde verlede jaar, toe Michael en Annie mekaar weer in die vlees sien.

“Dit was asof geen tyd tussen hulle verby is nie. Michael was gek oor haar en sy het gestraal. Dit was soos iets uit ’n fliek.”

Haar “Leeutjie”, soos Annie liefderik na Michael verwys het, het haar weer laat leef. En sy “Lovey” het hom weer leer lag.

Maar op 20 Augustus vanjaar het hul sprokiesverhaal wreed tot ’n einde gekom toe hulle koelbloedig vermoor is skaars ses maande nadat Annie van Roodepoort na Sasolburg verhuis het om by Michael te wees.

Die moord op die paartjie het skok­golwe deur die land gestuur. Michael is vroegmiddag, in die tuin van sy ma se huis wat hy vroeër geërf het, met ’n byl doodgekap. Annie is minute later, alleen in Michael se huis net aan die ander kant van die straatblok, met ’n mes vermoor.

Die moordenaars het kontant, elektroniese ware en ’n voertuig gesteel.

So het die toneel gelyk buite die huis waar ­Micha
So het die toneel gelyk buite die huis waar ­Michael se liggaam gevind is. Foto: Verskaf

Skaars drie dae later kom die volgende skok: Stanley Ligena (25), die paartjie se tuinwerker, is weens hul moorde aangekeer. Stanley en ’n beweerde medepligtige, Sithembiso Hlongwane (28), het op 25 Augustus in die landdroshof in Sasolburg verskyn.

Yolanda Liebenberg, Maryke se sussie, sê Stanley is vroeër deur Michael en Annie afgedank oor beweerde diefstal.

“My ma en oom Michael het besluit om hom ’n tweede kans te gee nadat hy by die huis werk kom vra het en gesê het hy kan nie kos op die tafel sit nie. Die moord is gepleeg op dieselfde dag dat hy weer by hulle begin werk het.”

Dis vir Maryke bitter moeilik om te aanvaar dat die paartjie so gesterf het.

Haar ma het al die jare haar eerste en ware liefde se minnebriewe bewaar.

“My hart is in 1 miljoen stukke. Ek dink aan al die jare wat my ma so gesmag het na liefde, na iemand wat haar sal liefhê. En toe vind hulle mekaar weer, maar net om op die wreedste manier moontlik vermoor te word.”

Haar ma het behoorlik gestraal ná al die jare as sukkelende enkelma van vier kinders.

“Hulle het albei soveel moeilike, ongelukkige jare beleef. Ons het gedink dit gaan die mooiste hoofstuk in haar lewe wees. En nou is sy dood.”

Hier in haar verloofde, Robbie Breedt, se kantoor in Kempton Park herhaal Maryke die woorde wat sy nooit gedink het sy sou haar ma hoor uiter nie: “Ek is verlief.” Haar ma het al die jare haar eerste en ware liefde se minnebriewe bewaar.

“My ma het ’n verskriklik moeilike lewe gehad. Ek, my twee sussies en my broer was nog jonk toe my ma en pa geskei is. Daar was min geld, soms so min dat my ma net mieliepap en marog op die eet­kamertafel kon neersit,” sê sy.

Haar ma was haar steunpilaar, sê Maryke. Foto: Ver
Haar ma was haar steunpilaar, sê Maryke. Foto: Verskaf

“Ons was nog altyd die middelpunt van haar bestaan, en haar eie behoeftes was nooit ’n prioriteit nie. Sy het dit verdien om te glimlag nadat die lewe soveel houe aan haar uitgedeel het.”

Annie was destyds net 16 toe ’n familielid haar aan Michael voorgestel het. Die twee was smoorverlief, sê Maryke, maar Michael het in Sasolburg gewoon en Annie 400 km weg in Polokwane.

Die tienerliefde het nie die afstand oorleef nie.

“In die jare daarna het baie swaarkry gevolg. My ma was ná haar egskeiding van my pa in verhoudings waar sy fisiek mishandel is. Dit het haar ’n vegter gemaak, maar dit het ook haar hoop en vreugde gesteel.”

Sy het Michael nooit vergeet nie en het daarom verlede jaar weer met hom kontak gemaak deur sy skoonsuster.

“Ek het haar in my lewe nog nooit so gelukkig gesien nie,” sê Maryke, en trane stroom by haar wange af.

Nadat Annie na Sasolburg verhuis het om by Michael te wees, was sy elke dag in kontak met Maryke en haar ander kinders. Haar boodskappe was vol vreugde oor haar nuwe hoofstuk.

Maar op 22 Augustus het Maryke-­hulle agterdogtig begin raak omdat hulle twee dae tevore laas van haar ma gehoor het. Maryke het Michael se broer, Axel, gekontak – en dis hy wat, tesame met lede van die plaaslike gemeenskaps­polisiëringsforum, Annie se bebloede lyk in ’n buitekamer aangetref het. Michael was vermis.

Ondersoekers vermoed Michael is eerste vermoor, waarna die verdagtes sy huissleutels gevat het en toe na sy huis is om Annie ook te oorrompel.

“Die polisie het later met behulp van ’n informant die verdagtes vasgetrek, wat hulle geneem het na Michael se ander huis net om die draai,” sê Maryke. “Daar is ook sy lyk in ’n buitekamer aangetref.”

Ondersoekers vermoed Michael is eerste vermoor, waarna die verdagtes sy huissleutels gevat het en toe na sy huis is om Annie ook te oorrompel.

Stanley het ten tyde van die moorde al voorheen ’n paar maande vir die paar­tjie gewerk, sê Maryke. “Hy en sy vrou is ’n tydjie gelede afgedank, maar my ma-­hulle het hulle weer aangestel toe hulle oor geldelike probleme gekla het.”

Dit laat haar bloed kook, sê Maryke. “Al wat ek wil hê, is geregtigheid vir my ma.  Ek sal nie rus tot dit gebeur nie.

“Ek wil in die hof staan en die moordverdagtes in die oë kyk, en ek wil vir hulle vra: Hoe kán jy so iets doen vir ’n bietjie kontant en ’n paar besittings? Hoe sal jy voel as dit jou ma was? Ek voel verniel; ek weet nie of ’n mens ooit vrede met so iets kan maak nie.”

In die dae ná die moorde bly sy aan ’n onlangse gesprek met haar ma dink.

Dit breek haar hart om te dink haar ma is vermoor kort nadat sy eindelik geluk gevind het, sê Maryke Liebenberg. Foto: Gallo Images/Ongkopotse Koloti
Dit breek haar hart om te dink haar ma is vermoor kort nadat sy eindelik geluk gevind het, sê Maryke Liebenberg. Foto: Gallo Images/Ongkopotse Koloti

“Sy kon nie ophou luister na Matt John­son se liedjie ‘Still in Love with You’ nie. Dit het oor en oor gespeel. Dit maak my kwaad as ek dink aan hoe bang sy moes wees toe hulle die huis binnestorm, aan hoe seer dit vir haar moes wees toe hulle haar met die mes aanval.

“Sy het verskriklik terugbaklei, sê die polisie. Sy het álles gedoen om haarself te probeer red, en dis hoe ek haar ken: as ’n vegter.”

Terwyl Maryke en haar sibbes saam met Michael se kinders nou die twee se huis moet oppak, bring dit opnuut trane wanneer hulle dink aan hoe mooi die slot­hoofstuk van Michael en Annie se lewe eintlik kon gewees het.

“Hul liefde vir mekaar was so intens. Hierdie hoofstuk sou gaan oor hulle,” sê sy. “Dis erger as die donkerste nagmerrie.”

  • Die polisie bespiegel nie oor die motief vir die moorde nie en wag op die uitslae van die lykskouing, sê brig. Motansi Makhele, ’n polisiewoordvoerder in die Vrystaat. ’n Derde verdagte is ook in die polisie se visier. Stanley en Sithembiso sou op 9 September weer in die hof verskyn.
  • Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandae om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees