Deel

Wees gewaarsku: ysweer en reën tref SA dié naweek

akkreditasie
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Dis tyd om jou reënjas, sambreel en komberse – en hopelik kaggelhout – vir die naweek bymekaar te maak, want dit lyk of Suid-Afrika omtrent onder koue, gure weer gaan deurloop.

’n Kwaai kouefront sal van Vrydagmiddag oor die land inbeweeg.

Volgens Bransby Bulo van die Suid-Afrikaanse weerdiens sal die Wes- en Oos-Kaap en die suidwestelike kusgebiede die swaarste getref word.

Die kouefront sal na verwagting Vrydagmiddag die Kaapse Skiereiland bereik. Die kans op reën word op 80% beraam, maar kan deur die loop van die dag tot 100% toeneem.

Dié front sal swaar reën en sterk winde veroorsaak en die weerdiens waarsku dat die wind skade aan informele nedersettings en infrastruktuur kan berokken.

Hulle sê dat reistye in sekere areas verleng kan word weens sterk dwarswinde en ontwortelde bome.

Sterk wind word ook vir die Noord-Kaap, Sentrale Karoo, Breedevallei en Overberg-distrikte voorspel. Die weerdiens waarsku dat daar ’n brandgevaar in die noordweste van die land is.

Die ernstige weerstoestande sal tot Saterdagmiddag in die westelike en suidwestelike gedeeltes van die land voortduur met reënval wat verwag word in George, Oudtshoorn en Port Elizabeth.

Die kouefront sal Saterdag na die binneland beweeg en koue weer en sneeu kan verwag word in dele van die Vrystaat, Lesotho en hoogliggende gebiede in die Wes- en Oos-Kaap.

Die weerdiens maan teen onstuimige weerstoestande en hoë golwe tussen Kaappunt en Kaap Agulhas, en dit sal teen Saterdagoggend na Port Elizabeth begin versprei.

Gautengse inwoners kan sonnige weer te wagte wees vir die naweek met temperature tussen 14 ºC en 16 ºC wat voorspel word.

Die minimum temperatuur sal na verwagting teen Sondag begin afneem. KwaZulu-Natal se weerstoestande sal ook dieselfde bly, maar temperatuur sal Sondagmiddag begin daal.

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

30 Maart 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees