In die afgelope byna drie dekades het hy en sy span weldoeners al ingespring en mense te midde van aardbewings, tsoenami’s, vloede en droogtes, oorlog en gyselaarsdramas gehelp. Maar die hulpverlening tydens die huidige covid-19-pandemie is soos geen vorige ramp nie, sê dr. Imtiaz Sooliman van die organisasie Gift of the Givers.
“Met iets soos ’n aardbewing kan jy sien waar daar gevaar vir jou span is. Hulle kan seerkry of selfs sterf terwyl hulle die puin deursoek. Maar jy kan nie die virus sien nie. Jy is nooit seker of iemand siek is nie, want hulle kan asimptomaties wees. Hulle kan weens die virus sterf of baie siek word.”
Maar nie eens dié onsigbare gevaar kan hom en sy 140 personeellede landwyd keer om tydens die coronaviruskrisis na mense in nood uit te reik nie. Nie net moet Suid-Afrikaners nou die virussiekte trotseer nie; weens die ekonomiese gevolge van die inperking het werkloosheid en hongersnood ook toenemend toegeslaan.