Wil jy jou covid-paspoort aflaai? Huisgenoot wys jou stap vir stap hoe

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Die somer begin stadig maar seker wink, met wit strande en kristalhelder water wat wag. Maar hoe gemaak as jy ’n covid-19-paspoort nodig het om ’n land te besoek?
covid-19-paspoort
Eilandvakansies wink wanneer jy teen covid-19 ingeënt is. Foto: Unsplash

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy jongste familievergadering bekend gemaak dat die nasionale gesondheidsdepartement ’n covid-19-paspoort sal  bekendstel. Die paspoort is die bewys dat jy ingeënt is en word deur baie lande vereis voor jy daarheen kan reis.

Jy kan jou paspoort op die departement se webtuiste aflaai, mits jy albei Pfizer-inentings of die Johnson & Johnson-inenting gekry het. Volg die stappe hier onder om dit op jou selfoon of rekenaar af te laai.

covid-19
Jy's ingeënt, maar nou soek jy daardie paspoort sodat jy weer kan reis. Foto: Unsplash

Ons wys jou hoe: 

Gaan na die Suid-Afrikaanse regering se webtuiste vir covid-19 (klik hier om daar uit te kom). Jy sal ’n paar eenvoudige vrae sien. 

covid-19
Jy sal na die amptelike webtuiste van die Suid-Afrikaanse regering geneem word nadat jy op die skakel geklik het. Foto: Skermgreep

Wat gaan jy nodig hê? 

covid-19-paspoort
Een van drie opsies sal aan jou beskikbaar gestel word. Jy kan jou identiteitsnommer, jou paspoortnommer of jou asielnommer invul om die sertifikaat af te laai. Foto: Skermgreep

Hou jou ID-nommer en covid-19-verwysingsnommer byderhand – jy sal laasgenoemde op jou covid-19-kaartjie kry wat jy met jou eerste inenting ontvang het. Jy sou dié nommer ook per SMS ontvang het. 

Begin die proses

Nadat jy gekies het of jy ’n Suid-Afrikaanse identiteitsnommer, ’n paspoortnommer of ’n asielnommer het, sal nog stappe aan jou beskikbaar word. 

covid-19-paspoort
Jy sal besonderhede soos jou identiteitsnommer, jou verwysingsnommer en jou naam en van moet intik. Foto: Skermgreep

Jy sal dan jou identiteitsnommer, covid-19-verwysingsnommer en naam en van moet invul. Klik daarna op “ek is nie ’n robot nie”. Kies dan die groen knoppie wat volgende wys. 

Wat gebeur dan?

Baie mense sê hulle kry ná hierdie eerste stappe ’n opsie wat sê daar is ’n kwessie met die netwerk. Probeer dan weer ná ’n ruk.

Dit beteken bloot die webtuiste is dalk baie besig, verduidelik Milani Wolmarans van die nasionale departement van gesondheid. 

"Meer as 80 000 paspoorte is reeds afgelaai. Die verkeer op die platform wissel van uur tot uur. Daar is nie ’n patroon op die oomblik nie en as daar te veel verkeer is, sal almal nie aanlyn kan gaan om hul sertifikaat af te laai nie," sê  sy.

covid-19
O, aarde! Probleme met die netwerk! Moet nie bekommerd wees nie. Ons sal jou hierdeur help. Foto: Skermgreep

Jy kan dalk ook ’n boodskap kry om te sê jy is nie ingeënt nie. Maar byt vas; die boodskap verdwyn dikwels ná 'n rukkie. 

covid-19-paspoort
Skielik is jy nié ingeënt nie . . . Haal net asem en tel letterlik tot 10. Jy sal vir meer inligting gevra word. Foto: Skermgreep

Jy sal na ’n ander webtuiste geneem word en gevra word om jou selfoonnommer te verskaf. Vul dit in en wag net ’n sekonde of twee. Hierna behoort jy jou paspoort te sien. Jy kan dit as PDF aflaai of bloot 'n skermgreep daarvan maak. 

Indien jy op enige stadium in die proses vashaak of 'n foutboodskap kry wat nie verdwyn nie, kan jy die covid-19-nommer 0800-029-999 skakel of ’n WhatsApp-boodskap na 0600-123-456 stuur vir bystand. 

paspoort
Nadat jy meer besonderhede verskaf het, sal jy jou paspoort ontvang. Jy kan 'n skermgreep maak of dit as PDF aflaai. Foto: Skermgreep

Vrae wat jy dalk kan hê: 

Die departement van gesondheid gee die volgende antwoorde op algemene vrae. 

Sal die paspoort ooit verander? 

Ja, die departement werk voortdurend aan nuwe weergawes, en dan moet jy die nuwe weergawe aflaai. Daar word byvoorbeeld teen die einde van November een uitgereik wat met 'n selfoon-app werk. 

Wat moet ek doen as ek my covid-19-verwysingsnommer verloor het? 

Skakel die covid-19-hulplyn by 0800-029-999. Iemand sal daarna die verwysingsnommer vir jou via SMS stuur. 

Hoe gemaak as ek nie die verwysingsnommer per SMS ontvang het nie?

Dit beteken jy het dalk die verkeerde selfoonnommer verskaf of daar was dalk netwerkprobleme. Skakel die covid-19-hulplyn (0800-029-999). 

Kan ek my paspoort vir internasionale reise gebruik?

Ja, die meeste lande sal dit aanvaar, maar dit hang ook van die land en sy maatreëls af. Maak vooraf seker by die betrokke ambassade/konsulaat.

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees