Het jy al Skemerdans op Showmax begin kyk?

akkreditasie
Foto verskaf
Foto verskaf
Die agtergrond is die Kaapse Vlakte en die plek The Oasis, ’n jazz-klub waar ons die Fortune-gesin ontmoet. Glenn se passie vir The Oasis is duidelik, maar dis ewe ooglopend dat hierdie gesinsonderneming beter dae geken het.

Ná Glenn se geheimsinnige dood word die klub die middelpunt van ’n magstryd tussen twee broers, ’n verwerpte weduwee en ’n georganiseerde-misdaad-sindikaat wat bande het met onwettige dobbelnetwerke regoor die stad.

Terwyl ’n misdaadondersoek die waarheid stadig begin onthul, baklei elkeen vir wat hulle as regmatig hulle s’n beskou.

Namate die geheim ontrafel, word jy angstig as jy dink jy moet vir die volgende episode wag . . . tot jy besef dis net ’n klik ver, want al die episodes is beskikbaar op Showmax vir ’n lekker kettingkyk-sessie.

Die rolverdeling is gepak met gewilde plaaslike talent. Die SAFTA-wenners Kevin Smith (Isidingo, Arendsvlei), Ilse Klink (Stroomop, Isidingo) en Brendon Daniels (Four Corners, Sara se Geheim, Arendsvlei) vertolk onderskeidelik die rolle van Glenn, sy vrou, Shireen, en sy broer, Trevor.

Die reeks is in Kaapstad verfilm en omdat tonele geskiet is in Voortrekkerweg en Ryland se Club Galaxy – een van Kaapstad se bekendste klubs sedert dit in 1978 geopen het – voel die reeks tegelykertyd bekend en geheimsinnig.

“Ons het die storie geskryf met Galaxy en Voortrekkerweg in gedagte,” sê Amy Jephta (uitvoerende vervaardiger en kreatiewe en bestuurshoof).

“Ons wou hierdie heeltemal plaaslike agtergrond gebruik en dit die behandeling gee wat ’n mens met LA noir verbind sodat dit net so filmies en ikonies voel.”

Die reeks bestaan uit 13 halfuur-episodes.

Die organiese, hiperplaaslike mengsel van Afrikaans en Engels en die nostalgiese Kaapse jazz-klankbaan sal jou ongetwyfeld terugvoer na jou eie tye op die Galaxy-dansbaan – alles terwyl jy probeer uitpluis wie vir Glenn Fortune vermoor het, en waarom.

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees