1. Jy moet huis koop
Daar is beslis tye wanneer jy ’n bietjie moet wag voor jy dié langtermynbelegging aanpak. As jy byvoorbeeld ’n swak kredietrekord het, maar jy kry wel ’n huislening, sal dit waarskynlik teen ’n baie hoër rentekoers wees.
Jy kan eerder ’n billike plek huur en eers jou skuld delg om jou kredietpunt te verbeter. Nog ’n rede om huiskoop uit te stel is as jy nie ’n deposito het nie. Met ’n goeie deposito is jou kans vir ’n gunstige rentekoers baie beter.
Verder spaar jy maandeliks en op lang termyn geld as jy ’n deposito neersit. ’n Deposito van 10% op ’n huis van R1 miljoen sal jou maandelikse premies omtrent 10% laer maak, sê Nedbank.
Pasop vir ’n winskoop in ’n onveilige buurt. Eiendom in veilige buurte is dalk duurder, maar die waarde groei en jy sal makliker herverkoop.
2. Ek verdien te min om te begroot
Sonder ’n begroting kan selfs mense met groot salarisse in die skuld beland. Lys daarom al jou uitgawes teen jou inkomste. Die goue reël is om eenvoudig minder te bestee as wat jy verdien.
- Die “koevertbegroting” behels dat jy kontant in verskillende koeverte sit vir spesifieke uitgawes. Elke koevert kry ’n sekere bedrag kontant, wat daardie uitgawe moet dek.
- Die “zero-gegronde begroting” werk vir mense wat hul maandelikse inkomste taamlik kan skat. Nadat jy jou maandelikse inkomste bereken het, tel jou maandelikse uitgawes en spaargeld by, sodat jy presies weet waarheen elke sent gaan.
3. Ek laat ons finansies oor aan my slimmer lewensmaat
Bemagtig jouself eerder deur jou finansiële kennis uit te brei. Een goeie manier is om jou bank se app ten volle te gebruik. Jy en jou maat moet saam ’n finansiële beplanner besoek.
Vra dan alles wat jy nie verstaan nie oor jul langtermynpolisse (soos lewensdekking, gevreesde siekte en inkomstebeskerming), skuld, aftreebeplanning en testamente.
Jy moet ook weet watter korttermynversekering julle het vir jul huisinhoud en motor. Jy en jou maat moet albei ingelig wees oor die stand van jul gesinsfinansies, sodat albei van julle dit kan bestuur in geval van sterfte, afskeiding of ongeskiktheid.
4. Beleggings is net vir rykes
As jy aan ’n pensioenfonds behoort, is jy reeds ’n belegger. Beleggings is tipies spaarplanne met langertermyndoelwitte. Dit kan ’n deposito vir ’n huis oor drie jaar wees, of vir jou kind se naskoolse opleiding oor 10 jaar.
Elke mens se doelwitte verskil volgens hul omstandighede. Dit is ook nie waar dat jy duisende rande nodig het om te belê nie. Daar is gerekende beleggingsmaatskappye waar jy met R200 per maand in ’n effektetrustfonds kan belê.
Deesdae word beleggings ook baie maklik gemaak omdat jy dit aanlyn kan doen, byvoorbeeld op jou bank se app. ’n Finansiële beplanner kan vir jou goeie raad gee oor watter soort belegging jou risiko en jou vermoë pas.
5. Ek is te jonk om vir aftrede te spaar
Hoe jonger jy begin; hoe langer sal saamgestelde rente jou spaargeld eksponensieel laat groei. As jy later begin, sal jy meer moet spaar en sal jy steeds nie soveel uitkry nie, en sal jy gevolglik dalk moet aanhou werk ná jou aftrede. Selfs 10 jaar se ekstra spaargeld maak ’n reuseverskil.
Gestel jy het ’n konsekwente spaarplan en dit verdien vir jou ’n netto reële opbrengs van 5% (ná fooie en inflasie). As jy 40 jaar lank spaar, sal jou aftree-inkomste 83% meer wees as wanneer jy net 30 jaar gespaar het, wys 10X Investments se ontleding. Dis mos nou geldslim!
6. My kredietkaarte sal my deur ’n geldkrisis trek
Kredietkaarte is nuttig vir onvoorsiene uitgawes, mits jy die skuld binne die rentevrye tydperk (gewoonlik 55 dae) afbetaal. Anders betaal jy dubbelsyferrente daarop, wat jou skuldlas vinnig laat groei.
Dis baie beter om ’n noodfonds op te bou vir onvoorsiene uitgawes en moeilike tye. Kundiges se raad is ’n noodfonds gelykstaande aan drie tot ses maande van jou kontantsalaris. So ’n groot bedrag skrik jou dalk af, maar onthou – enige bedrag wat jy maandeliks kan spaar, al is dit hoe klein, is beter as niks.
Geld kan weggesit word in ’n rekening waartoe jy maklik toegang het, soos ’n spaarrekening, sodat jy dit kan trek indien werklik nodig. Maar dissiplineer jouself en los jou noodfonds uit. Dis beslis nie bedoel vir ’n pretnaweek nie.
- Maak elke maand tyd om jou geldsake te hersien. Kyk na jou banksake, inkomste en uitgawes. Of lees oor finansies om jou kennis te verbreed.
- Finansiële wenke en algemene inligting: investopedia.com, banke se webtuistes.
- Finansiële beplanners: fpi.co.za