book-icon Uitgawe 10 September 2020

Diep in die skuld? Hier is 'n plan of 2 of vir jou

akkreditasie
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ons beantwoord vyf vrae oor ou skuld.

Jy sukkel behoorlik om al jou uitgawes te dek en jy kan nie meer die paaiemente op jou motor en eetkamerstel bekostig nie. Kan jy dit vrywillig teruggee en wat behels dit? 

Ingevolge die Nasionale Kredietwet (Artikel 127) mag jy jou motor of meubels wat jy op krediet gekoop het, teruggee aan die kredietverskaffer, byvoorbeeld die motorhandelaar of winkel waar jy die eetkamerstel gekoop het. Hulle sal dit dan weer verkoop om jou skuld te delg.

Dit is nie dieselfde as beslaglegging nie, want jy gee self die items uit eie keuse terug. Ons kyk na vyf dinge wat jy moet weet as jy dit oorweeg. 

1. Sal jy dan outomaties skuldvry wees? 

Daar is geen waarborg dat jy eensklaps sonder skuld gaan wees nie. Die kredietverskaffer moet die item wat nou tweedehands is, herverkoop om jou skuld by hom of haar te delg.

Die opbrengs uit die verkope gaan nie noodwendig genoeg wees om die balans te dek wat jy nog op die lening skuld nie. 

As daar ná die herverkoop van jou motor of meubels steeds ’n bedrag uitstaande is, sal jy dit nog moet betaal. Maar as die item vir meer verkoop word as wat jy nog daarop geskuld het, moet die kredietverskaffer die verskil aan jou uitbetaal. 

2. Wat is die stappe? 

Jy moet die kredietverskaffer skriftelik in kennis stel dat jy die item wil teruggee. Jy kan dit per e-pos doen of die kennisgewing per hand af­lewer, maar maak seker dat dit die regte persoon bereik.

As jy die verkeerde e-posadres gebruik, kan dit onnodige rompslomp veroorsaak en die proses nog langer uitrek. Vra die verskaffer moet ontvangs erken, soos om op jou e-pos te antwoord.

Daarna verloop sake so:

Binne vyf werkdae nadat jy kennis gegee het, moet jy die item aan die kredietverskaffer teruggee by sy sakeperseel of enige ander plek waarop julle ooreengekom het.

Die kredietverskaffer moet binne 10 werkdae ná die ontvangs van die item laat weet wat die geraamde waarde daarvan is. Onthou, dis nou tweedehands en het nie meer dieselfde waarde as ’n splinternuwe produk nie. 

Die kredietverskaffer moet ook vir jou kan sê watter koste hy of sy sal aftrek. Dit moet redelike koste wees soos vir die vloerruimte vir ’n motor in die vertoonlokaal of om ’n item skoon te maak. 

As jy tevrede met die geraamde waarde is, kan jy die kredietverskaffer laat weet om dit teen die beste prys moontlik te verkoop.

As jy nog op datum is met jou afbetalings, mag jy binne 10 werkdae nadat jy gehoor het wat die geraamde waarde van die item is van plan verander en jou kennisgewing terugtrek. Dan is die item weer in jou besit en moet jy dit steeds verder afbetaal. 

Maar as jy agterstallig is met jou paaiemente, kan jy nie van besluit verander nadat jy dit reeds vrywillig teruggegee het nie, selfs al reken jy die geraamde waarde is te min.

Jy kan dit net doen as jy jou betalings op datum bring. Sodra die item verkoop is, moet die kredietverskaffer jou laat weet vir hoeveel dit verkoop is en ook wat die netto opbrengs is.

Dit is die geld wat die kredietverskaffer daarvoor kry nadat enige koste met die verkoop daarvan afgetrek is.

3. Wanneer kan jy dit oorweeg? 

Net as jy ’n ooreenkoms met die ver­koper het om dit in paaiemente af te betaal. So ’n ooreenkoms beteken dat jy eers die eienaar van die produk is wanneer jy ten volle daarvoor betaal het. Tot dan het jy wel die reg om die produk te gebruik en in jou besit te hê.

Dit is gewoonlik van toepassing op items wat “roerende goedere” genoem word, soos meubels, elektriese toebehore en voertuie.

Verkieslik moet die item nog in ’n goeie toestand wees, want hoe beter die toestand, hoe hoër is die prys wat jy daarvoor behoort te kry. 

WENK

Stel vas of jy kredietversekering het. As jy afgelê is of jou inkomste weens die inperking verloor het, behoort kredietversekering in die meeste gevalle uit te betaal, afhangend van jou kontrak. 

4. Watter uitwerking het dit op jou en jou geld­sake? 

Jou skuldlas is kleiner, hoewel jy nou sonder daardie item moet klaarkom. Deur die item vrywillig terug te gee aanvaar jy verantwoordelikheid vir jou skuld.

Om hierdie rede kan uitleners ’n vrywillige teruggawe as minder negatief beskou as ’n beslaglegging, hoewel albei op jou kredietrekord aangeteken word. 

As jy iets vrywillig teruggee, is dit emosioneel ook dalk vir jou ’n beter ervaring as wanneer ’n skuldinvorderaar daarop kom beslag lê.

Vrywillig kan jy iets op jou eie tyd gaan teruggee, maar met ’n beslaglegging kan dit enige tyd gebeur – soos wanneer jou kinders by die huis is en hulle daardeur ontstel word. 

5. Watter ander opsies het jy? 

Jy kan ook die item privaat verkoop as jy ’n beter prys daarvoor kan kry en jou skuld op daardie manier afbetaal. Of jy kan met die kredietverskaffer onderhandel en vasstel of jy die afbetaaltermyn kan verleng en maandeliks ’n kleiner paaiement betaal.

Onthou, omdat jy dan oor ’n langer tydperk rente daarop betaal, beteken dit dat die produk jou op die ou end duurder sal kos. As jy sukkel met jou skuld, kan jy ook skuldberading oorweeg. 

Vrywillige teruggawe word minder negatief beskou. 

Kry hier nog raad
  • Skuldraad en kontak­besonderhede vir skuld­raadgewers: ncr.org.za
  • Die Nasionale Vereniging van Skuldmediasie se hulp­lyn by 086-111-6362 of ndma.org.za


Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees