Dit voel asof daar net geen wikkelruimte meer is nie – en jy weet nie meer hoe om die gordel nóg stywer in te trek nie. Intussen hou pryse net aan klim: brandstof, kos, inflasie, rentekoerse . . . Ons kan net nie meer byhou nie.
Suid-Afrikaners raak ál dieper in die skuld weens die stygende pryse. In 2022 het sowat 20% meer verbruikers ongedekte skuld gehad as in 2016, sê die organisasie DebtBusters.
Tog is daar ’n eenvoudige hulpmiddel wat jou dalk kan help om die knyp beter te bestuur – een so basies dat dit dikwels misgekyk word: ’n begroting.